Reis

Stergraderings: Hoe meet jy ’n kampplek se gees?

Met die eerste oogopslag maak die gradering van toerisme­verblyf volkome sin. Die sterstelsel van hotelle en gastehuise is alombekend - hoekom kan kampplekke dus nie óók gegradeer word nie? Dit sal mos status aan die kampbedryf verleen, of hoe?

Gradering moet bestendigheid aanmoedig en behoorlik gedoen word om onaangename verrassings te vermy. Jy moet weet wanneer jy 'n viersterwoonwapark besoek, sal die water in die storte waar­skynlik altyd warm, die staanplekke ruim en die bestuur vriendelik wees.

Standaarde, ten minste op papier, haal die raaiwerk uit die beplanning van jou reis. In my termyn as graderingsbeampte is ek gereeld gepeper met kommentaar dat 'n kampplek iewers in die gramma­doelas nie werklik volgens dieselfde kriteria gemeet kan word as bekendes in die KwaZulu-Natalse Suidkus of die Krugerwildtuin óf die wat onder die ATKV- of Sanparke-sambreel val nie.

Die aantal kampplekke wat gegradeer word, het oor die afgelope dekade erg verskraal. Daar is 'n magdom stories oor kampplekke wat belowend lyk op sosiale media, maar as jy daar aankom, lyk dit of die terrein die laaste Ystydperk net-net oorleef het.

Ek meen daar moet verskillende graderingskategorieë wees. Die AA het iets soortgelyks van die grond af probeer kry, maar dit het vinnig in die snippermandjie beland toe 'n nuwe hoofbestuurder aangestel is wat blykbaar nie veel tyd het vir kampering nie.

Oornagkampplekke behoort byvoorbeeld nie 'n stergradering te kry nie, maar 'n onafhanklike party kan 'n meganisme ontwikkel wat deur sosiale media gedryf kan word.

Ek stem volkome saam dat gradering glad nie die "gees van kampering" op papier kan vasvang nie. Dit is ook nie die bedoeling van stergradering nie.Baie mense meen dat gradering nie die ware gees van kamp kan vasvat nie. Dit is eintlik partydig, want dit poog om ervarings in netjiese kategorieë te plaas soos netheid, geriewe en veiligheid.

'n Klein, ongegradeerde plekkie naby 'n kronkelende rivier kan dalk 'n vyfster­ervaring wees vir iemand wat op soek is na rustigheid en kalmte, terwyl 'n hoogs gegradeerde park wat wemel van raserige mense en aktiwiteite vir dieselfde kampeerder veels te oorweldigend kan wees.

Faktore soos persoonlike voorkeur, die weer en selfs die mense wat saam met jou reis, het mos alles 'n invloed op hoe jy 'n plek ervaar. As jy my vra, behoort geen kampplek enige musiek toe te laat ná 18:00 nie. Of is dit net ek wat so voel?

Dan is daar die natuur. Kampplekke is deel van 'n groter prentjie wat gereeld van skakering verander. Hoe gradeer jy die uitsig oor die see, die sonsopkoms of die sagte fluistering van die wind deur bome en bosse?

Die natuur, onvoorspelbaar en ongetem, weier eenvoudig om netjies in 'n graderingskategorie in te pas.

Die opwinding daarvan om 'n jakkals se roep in die nag te hoor of om die sonsopkoms uit jou tent te sien kan net nie gemeet word nie.

Kampering is 'n vorm van minimalisme. Jy braai op oop kole en verkyk jou aan die sterre wat bo jou flonker en satelliete wat in hulle wentelbane sweef.

Daar's die tapisserie van weerlig in die verte en jy verluister jou aan dikwels onbekende naggeluide.

Die kamppubliek moet aanvaar dat gradering slegs kan fokus op die tasbare, meetbare aspekte soos netheid, geriewe en veiligheid. Dit skep nie ruimte om die ontasbare te meet nie.

Gradering kan wel op sosiale media en internetforums aangevul word as kampeerders hulle ervarings deel. Maar ongelukkig is sleutelbordkrygers se oordeel dikwels net so partydig as dié van 'n onbeholpe graderingsbeampte.

Uiteindelik maak gradering sin, maar net as ons dit met 'n knippie sout neem. Die gewildste kampplekke voldoen nie net aan standaarde nie; hulle oortref verwagtinge op onverwagte maniere. Hulle skep herinneringe wat geen stergradering kan kwantifiseer nie.

Jou nagmerrie is dalk my paradys. Of jy dus jou wa in ‘n luukse oord staanmaak of ’n klein tentjie in ‘n afgeleë wildernis opslaan, onthou dat die beste maatstaf altyd die stories bly wat jy om die volgende kampvuur kan vertel.