Reis

RUBRIEK: Kersvakansie 1980, masels en ’n leë swembad

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Ek skouer die houthut se deur oop en nael oor die stoep swembad toe. My voete raak skaars aan die plankvloer en ek hoor hoe 'n kronkelveer met 'n hees steun die deur agter my toeklap.

Ek werp my met 'n reusesprong bo-oor die trappe en land hard op die gras terwyl die deur vir 'n tweede keer oopbars.

Petro lag luidkeels en haar voete stamp oor die stoep se plankvloer. Iewers binne die tweeslaapkamerhut hoor ek my ma roep: "Stadig, julle!"

Ek is 8 jaar en 7 maande oud en my rietskraal beentjies pomp verwoed op en af oor die grasperk. Petro is 13 en sy's langer en sterker as ek, maar ek gee álles wat ek kan.

Die swembad is in sig en ek mag nie toelaat dat sy my hierdie keer klop nie - ek móét eerste in die water spring.

Petro giggel uitdagend en die afstand tussen ons krimp vinnig.

Tientalle vakansiegangers swem en sonbaai by die oord se swembad, maar ek en Petro is kwalik bewus van hulle, want al wat saak maak, is om eerste in die water te spring.

As ons hoegenaamd daarop ag geslaan het, sou ons gesien het hoe die mense se gesigsuitdrukkings verander... eers onsekerheid, gevolg deur bewuswording en uiteindelik louter paniek.

Petro is langs my en ons voete klap gelyk op die plaveistene rondom die swembad.

Ek buig my knieë effens, stoot my bobene reguit... en duik!

Dit voel asof die tyd stilstaan terwyl ek met 'n boog deur die lug vlieg. Ek is 'n kortkop voor Petro. Ek gaan wen!

Ons is net vaagweg bewus van moeders wat hulle kinders aan die arm beetkry en uit die water pluk.

Tieners spartel na die swembad se vlak kant en tuimel oor die rand in veiligheid.

Al wat by my registreer, is dat ek en Petro soos een man deur die water se oppervlak breek.

Lugborrels bruis om my terwyl ek my hande aan die bodem slaan en dan boontoe swem.

Ek lig my kop bo die water en Petro grinnik tartend - sy gaan wraggies verklaar sy't gewen!

Ek haat dit om teen haar te verloor en sy weet dit. Sy gaan my siel uittrek totdat ek begin huil uit frustrasie.

Dit is tjoepstil om ons. Ek kyk rond en merk dat ek en Petro alleen in die water dobber.

Vakansiegangers staan 'n ent weg van die swembad se rand - 'n seun wys met 'n bewerige vinger na ons en vra: "Mamma, hoekom lyk hulle so lelik?"

Petronella is my ouma se laatlam en my ma se kleinsus.

Ek en Petro verskil vyf jaar, en omdat ons saam grootgemaak is in my ouma se huis én my eie ouerhuis, was Petro meer soos 'n suster vir my as 'n tannie.

Op die foto's wat met my doopseremonie geneem is, sien jy 'n vyfjarige Petro wat my trots vashou, en op 'n foto van my heel eerste skooldag skuil sy in die agtergrond en trek ondeunde gesigte.

Ons verjaar ook toevallig 'n dag uitmekaar - ek op die 22ste en Petro die 23ste van dieselfde maand - en ons het dus kleintyd saam kersies doodgeblaas.

Op familievakansies het ek en Petro alewig op die motor se agterbank baklei totdat my pa keelvol geraak het.

Dan het hy afgetrek en ons net daar langs die pad beveel om uit te klim. Ek het in trane uitgebars terwyl die motor wegry, maar Petro het my getroos en die versekering gegee my pa wil ons net 'n les leer - sy was natuurlik reg en die kar se remligte het weldra aangeflits en dan het my pa teruggestoot.

Dan het 'n streng vermaning gevolg dat hy ons vólgende keer werklik sal agterlaat.

Dit was einste op een van dié familievakansies waar die swembad-episode afgespeel het. In Desember 1980 is ek pas klaar met my Sub B-skooljaar (graad 2), en ek en Petro is saam met my ouers op pad na die Silwerstrand-vakansieoord naby Robertson in die Breëriviervallei.

Ons het albei MeV onder lede, oftewel masels. Dié virus het amper ons vakansieplanne in die wiele gery, maar danksy Suid-Afrika se inentingsprogram draai ek en Petro nie naastenby by die dood om nie.

Ek voel wel swak weens 'n koors wat 'n paar dae tevore op sy ergste was.

Petro sê ek het haar aangesteek, maar ek is oortuig dis eerder andersom.

Ons is tjoepstil op die agterbank en baklei nie soos gewoonlik oor onbenullighede nie.

Ons huisdokter het my ma die versekering gegee ek en Petro is buite gevaar en nie meer hoogs aansteeklik nie.

Die rooi blasies wat ons van kop tot toon bedek, sou boonop binne die volgende paar dae ophou jeuk en uiteindelik verdwyn.

Ons gesin kon dus met 'n geruste hart op vakansie vertrek. 'n Paar kilometer buite die vakansieoord gewaar my pa 'n jong denneboom langs die pad en dié word afgesaag en op die Chev Nomad se dak vasgeknoop.

Ons het die Kersversierings by die huis vergeet, maar my ma koop rolletjies krinkelpapier by die oord se kampwinkel en ek en Petro help om die boom te versier.

Op Oukersaand sing ons Kersliedere en ander vakansiegangers verskyn uit hulle rondawels en stap nader om saam te sing.

Hulle waag dit egter nie nader as die stoep nie, want my en Petro se uitslag lyk té grusaam.

Dit is Kersoggend en ek én Petro voel perdfris. Haar vel is egter steeds oortrek met derduisende blasies en mý vel lyk selfs erger met skarlakenrooi blase en vlekke wat die grootste deel van my lyf bedek.

Dis tyd om Kersgeskenke oop te maak en ek let op dat Petro se geskenk groter en duurder is as myne - sy maak ook geen geheim daarvan nie en steek tong uit terwyl sy haar geskenk teen myne opweeg.

Ek snou haar 'n aanmerking toe en ons vlieg mekaar in die hare totdat my pa sy stem dik maak.

My ma meet ons temperatuur - dit het gesak na normaal - en sy merk dat die blase op my vel besig is om te bars en rowe te vorm, 'n teken dat die ontsteking op sy einde is.

Ons kry uiteindelik toestemming om te gaan swem en ek is vasberade om vóór Petro in die water te duik...

Die wedloop is verby en hier dryf ons nou in die swembad terwyl geskokte vakansiegangers ons aangaap.

Die rowe en blase op ons lywe skitter soos robyne in die oggendson en ek en Petro grinnik welwillend vir mekaar terwyl die mense vlug van ons pestilensie.

Dan druk sy my kop onder die water en los my eers wanneer ek angstig begin spartel.

Terwyl ek water uitproes, noem ek haar die lelikste kragwoord wat ek as agtjarige ken, en sy sê: "Alla-ha, ek gaan vir jou ma sê!"

Dit was nie 'n vloekwoord nie, maar dis nietemin die lelikste woord in my beperkte woordeskat, en ek pleit: "Nee, Petro, moet asseblief nie sê nie!"

"Ja, ek gaan sê," en sy lag uit haar maag vir hierdie bekommerde outjie met sy gespikkelde lyf.

Petro sou my siel vir die res van die somervakansie versondig, maar ek het troos gevind in die wete dat ons die swembad vir onsself sou hê totdat die masels opklaar.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM