Reis

RUBRIEK: Die aand wat my van tentkamp genees het

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Ek het 'n vrees vir tente. Ek is bly ek kan dit uiteindelik erken, want glo my, dit is nie maklik nie.

Ek het lank voorgegee ek is heel behendig in die natuur, selfs al was ek nooit nie. Maar ek het nie regtig 'n ander keuse gehad nie.

My pa is 'n voormalige infanterieman en kan 'n slaapsak so klein soos 'n Woolies-vrugterol oprol. Aan my ma se kant is ek 'n afstammeling van die Edenburg-Voortrekkers.

Die buitelewe is dus veronderstel om deel van my DNS te wees, maar as jy na my geskiedenis kyk, vertel dit 'n heel ander storie.

Die sandvlieë het my op 'n slag amper opgevreet omdat ek vergeet het om my grondseil op 'n Oos-Kaapse strand oop te gooi.

Op 'n ander kamp, dié slag in Mpumalanga, het 'n groot rooi honderdpoot my op die toon gebyt nadat ek vergeet het om my skoene uit te skud.

Ek is duidelik eerder 'n teddiebeer as Bear Grylls en my kwalifikasies wat touknoop betref, behels meer wenke oor hoe om dit nié te doen nie.

Ek het finaal tot hierdie besef gekom toe ek my in 2010 hoog in die Chimanimani-bergreeks bevind. Ek het gehoor van groot groepe onwettige delwers wat met hulle panne die bergreeks se riviere vir goud fynkam, en as 'n joernalis wat besorg is oor die bewaring van die natuur, het ek gevoel dit is my plig om ondersoek in te stel.

Ek het my fotograaf-vriendin gevra om my te vergesel, maar ek moes geweet het waarvoor ek my inlaat toe ek al die bagasie sien wat sy wou saamsleep: 'n 20 kg-rugsak, 'n kamerasak wat omtrent dieselfde weeg, en 'n driepoot wat groot genoeg is om die tempel van Dagon staande te hou.

Die volgende ding wat my effens ongemaklik gemaak het, was toe ons gids - 'n voormalige onwettige delwer met die naam Luke - ons meedeel dat ons bekend staan as Musanditera, wat beteken "moenie my volg nie".

Dit, het Luke verduidelik, is wat delwers aan hulle gesinne sê sedert 'n verwoestende sikloon in 2006 die lewens van talle onwettige delwers en selfs nóg meer reddings­personeel geëis het.

Ek was dus nie die toppunt van optimisme nie toe ons aanstaltes begin maak op die smal passe waarna die Chimanimani genoem is en eeue lank al as handelsroetes tussen Zimbabwe en Mosambiek gebruik word.

Buiten 'n skoensool hier en 'n ou kortbroek daar was daar geen teken van onwettige delwers nie. Luke het geglo dit het iets te make met die feit dat gewapende veldwagters die delwers aangeval en hulle klere gesteel het. Luke het gereken die delwers is teruggedryf tot in Mosambiek, aan die ander kant van die berg.

Die grens tussen die twee lande is 'n versperring van rotsagtige spiespunte, met gras aan die onderkant gevolg deur gryswit bopunte wat lyk soos geslypte puimstene.

Ons is opwaarts deur 'n ravyn wat die delwers "Razor wire" noem - weens die gewig van ons kampgoed en my vriendin se kameratoerusting bly dit tot vandag toe een van die moeilikste dinge wat ek nog gedoen het.

Aan die bopunt het ek langs die pad inmekaargesak en só sommer ook ons kampplek vir die aand gekies.

Luke was egter nie te vinde hiervoor nie en het verduidelik die delwers beweeg snags, wanneer hulle moeiliker opgemerk word.

Ons was op die spits van 'n rantjie, met die aarde wat weerskante toe skerp wegval. Dus was die kanse goed dat iemand wat op dié pad is, geen ander keuse sou hê as om reg by die tent se ingang verby te stap nie.

Hy kies ook toe dié oomblik om ons mee te deel dat die delwers in geweld­dadige skermutselings met Mosambiekse veldwagters betrokke was en dat enigeen van hulle wat op ons afkom, ons maklik sou kon aansien as veldwagters - en dan ons tent aan die brand steek!

Terwyl die son sak, sien ons hoe strome mans uit die nabygeleë valleie verskyn met pikstele oor die skouer. Kort daarna lê vure reg oor die berghange gespikkel. Dit was toe dat die fotograaf - iemand met geen kampervaring nie - wil weet of dit nie dalk 'n goeie idee is om elders kamp op te slaan nie.

Ek het egter 'n eier aan die kook op my gasstofie, en gee haar die versekering daar sal nie moeilikheid wees nie.

Luke bly net stil en besluit om eerder nie saam met ons in die tent te slaap nie. Hy vat sy slaapmat en gaan skrop sy nessie agter 'n rots verderaan.

Rondom middernag skud die fotograaf my wakker. "Hier is iets hier buite," fluister sy. Ek luister.

"Dis die wind," sê ek. "Iemand fluit," hou sy vol. "Dis die wind wat fluit," sê ek en maak my oë toe.

Enkele minute later word die tent deur die ligstraal van 'n flits verlig - ek was nog nooit so bang nie.

Angsbevange spring ons uit ons slaapsakke, iets wat veroorsaak dat verskeie pare voete die hasepad kies. Maar 'n rukkie later is die ligstraal terug.

Luke, wat veilig agter sy rots lê, skree iets, en wéér hoor ons die voeteval soos iemand weghardloop.

Hoekom het ek besluit om my tent op onwettige delwers se voetpad op te slaan? En hoekom is ons hoegenaamd in 'n tent?

Jy kan nie sien wat om jou aangaan nie en daar is nie 'n maklike manier om te ontsnap ingeval van nood nie.

Ek begin uit pure desperaatheid in my rug­sak rondkrap na iets waarmee ek myself kan verdedig. Al waarmee ek vorendag kan kom, is 'n klein geel boksmessie.

Op dieselfde oomblik sit die fotograaf haar kopklig aan, sonder waarskuwing, en hoewel min dinge ons aandag nou kan aflei van die situasie waarin ons ons bevind, is daardie prentjie van my met die piepklein messie in my sweterige hand een daarvan.

Die fotograaf bars uit van die lag… en oomblikke later rol ek omtrent saam van die lag.

Genadiglik was daar vir die res van die nag geen nare verrassings nie.

Om 05:00 die volgende oggend daag 'n afvaardiging van die delwers by ons tent op. Aan die spits is 'n man met die naam Kudakwashe.

Die nuus oor ons teenwoordigheid het vining versprei, en verskeie delwers het eers gewag om te hoor wat gaan aan voor hulle gaan werk.

In Shona beskryf Kudakwashe sy afgryse toe hy die vorige nag op ons tent in sy pad afkom. Hy en sy groep het weggehardloop en 'n entjie verder beraadslag of hulle ons inderdaad met hulle pikstele sou aanval.

Maar toe hulle die maniese gelag uit die tent hoor, het hulle op die plek besluit die mense in die tent word deur baie kragtige moetie beskerm en dit sal beter wees om die aftog te blaas.

Ons lag almal saam, en dan nooi Kudakwashe ons om sy sindikaat se delwery waar te neem.

Wat 'n uitsonderlike belewenis!

Maar dit was die laaste keer dat ek in 'n tent was. Behalwe toe ek my Covid-entstofinspuiting gekry het.

Sean Hunter Christie