Ek moet dadelik erken ek is nie een wat kan praat of preek wanneer dit kom by flink vertonings op skool nie.
My ma - en mag sy tog vrede gevind het daar in die Groot Klaskamer anderkant die Styx - het altyd gesê die rede hoekom sy nooit haar talent as kranige tennisspeler tot sy volle potensiaal kon ontwikkel nie, was oor haar knieë mettertyd ingegee het.
Haar knieë het nie die gees gegee oor 'n gelapte ligament hier of kapoet kraakbeen daar nie; dit was eerder omdat sy so gereeld moes kniel om haar jongste deur 'n skooljaar te bid.
Ek moes desjare nog 'n standerd deurkom, maar dié het mos plek gemaak vir vandag se grade. Ek het ook 'n sterk mening oor deesdae se standaarde, maar kom ek laat dit eerder daar. Want, soos ek reeds gesê het, ek is die laaste een wat kan praat of preek.
Daar's 'n ou-ou grappie wat lui: Die outjie gaan kuier by sy meisie op die plaas en haar pa vra vir hom of hy matriek deur is. Toe antwoord hy: "Nee, Oom, ek is sommer Du Toitskloof langs deur."
Flou een, ja, maar dis dikwels van toepassing as daar in my grootwordhuis in spanning gewag is op die kwartaallikse skoolrapport. Menige kollektiewe sug van verligting is geslaak by die aanskoue van die handvol E's en D's.
En by meer as een geleentheid het my pa droogweg opgemerk: "Hamerkop [dis nou die skoolhoof] het gebel. Hy vra jy moet asseblief net jou gatvelle kom haal wat jy met die deurskraapslag daar op die skoolterrein gelos het."
Dis nie dat ek "onnooslik" was nie, om my pa se portmanteau te gebruik. Lui? Gewis. Ofskoon ek as alternatief eerder die uitdrukking "selektiewe assimilasie van feite" sou voorstel.
Tot onlangs toe, smaak dit my, het die spreekwoordelike appel nie ver van die boom geval nie. Ek praat van 'n elfjarige met verbluffende kennis van Tik-Tok, Roblox, FC Mobile (selfoonsokker) en al wat beïnvloeder is.
Maar een wat erg oordrewe aansprake maak op sy kennis van vakke soos natuurwetenskappe, geskiedenis en geografie.Wiskunde is darem 'n vars bries van verligting. Dank vader daarvoor. Of meer spesifiek, dank die oupas daarvoor.
Want by my of my vrou het hy nie die talent vir syfers geërf nie.
Hoe meer ek raas en blaas, hoe meer kom die versekering dat die inhoudsvakke se feite reeds vasgelê is. Ek is om verstaanbare redes agterdogtig, want as daar lukrake vrae oor sekere van dié vakke gevra word, verskyn 'n diep, nadenkende frons op die voorkop voor hy vaagweg en half vraend antwoord.
Dit laat my onwillekeurig dink aan wat Etienne Leroux destyds in Magersfontein, o Magersfontein geskryf het. Dat "Mej. Transvaal die antwoord oorweeg" en sy "vind dit aanvaarbaar in die vinknes waarbinne haar breintjie soos 'n pasgebore voëltjie wonderbaar vroetel".
Hier is byvoorbeeld 'n onlangse gesprek om die huiswerkboeke: "Seun, wat is die woord om die tydperk van 'n duisend jaar te beskryf?"
"Uhmmm… dis 'n… uhmmmm… is dit 'n melania?"
"Nee, Seun, Melania is Donald Trump se vrou. Waarvoor jy soek, is ‘millennium'."
Nodeloos om te sê het die situasie kort voor lank my humorsin gekorrodeer (Natuurwetenskappe en Tegnologie Leerboek vir Graad 5, bl. 36: "Roes korrodeer metaal, wat beteken dit breek die metaal af en verswak dit.")
My dreigemente dat sy huistake gaan verdubbel terwyl ek toegang tot sy persoonlike eiendom - lewensnoodsaaklikhede soos 'n selfoon en PlayStation - gaan halveer, het hom skynbaar nie ontsenu nie.
Ek is tot 'n persoonlike punt van orde geroep toe geografiese konsepte soos kusvlakte en kuslyn, baai en kaap, oorsprong en monding, plato en platorand met 'n glasigheid in die oë van die lakoniese leerder begroet is.
Ek praat van 'n elfjarige met 'n verbluffende kennisvan Tik-Tok, Roblox, FC Mobile (selfoonsokker) en al wat beïnvloeder is.
Dis toe dat ek besef: As die berg nie na Mohammed wil kom nie, moet Mohammed na die berg gaan. Letterlik en figuurlik.Watter beter leermeester is daar dan as 'n persoonlike ervaring van dít wat in boeke opgeskryf staan?
Die leunstoelreisiger wat een volume ná die ander verslind, sal nooit werklik weet hoe dit voel om te reis as hy nie te voet, voertuig, vliegtuig of vaartuig 'n bestemming bereik en dit self verken nie.
Vir 'n appel en 'n ei skaf ek MapStudio se Western Cape Road Map aan.Dit is die sleutel tot kennis op 'n skaal van 1:500000. En boonop twee vlieë met een klap!
Want nou beplan ons 'n dagbesoek, langnaweek of behoorlike vakansie rondom spesifieke bestemmings wat nie net in ons behoefte na kamp voldoen nie, maar die jong student in die praktyk blootstel aan al daardie ontwykende boekekennis.
Woerts-warts en ons is by Kaappunt, waar hy sien hoe dié "rotsagtige gebied in die see loop". Op Struisbaai sien hy wat met baai bedoel word.
Op Witsand sien hy waar die Breërivier in die see uitmond en hoe sytakke uit Malgas en Askraal se koers by die hoofstroom aansluit.
Berge, heuwels, mere, spruite, riviere, valleie - al daardie handboekverduidelikings van natuurlike elemente op 'n fisiese kaart, word skielik 'n werklikheid.
Die braairooster van vlekvrye staal hou langer, want dit roes nie as dit aan suurstof en water blootgestel word nie, verduidelik hy. Die handbyltjie se lem roes wel, en daarom moet jy hom nooit buite los nie en gereeld afskuur en met Q20 spuit. Die tentpale is van aluminium, want dit is die ligste metaal en korrodeer nie, weet hy te vertel.
Het ek maar die voorsienigheid gehad om my tot 'n padkaart te wend vóór die eksamen, dan sou die uitslae straks nie so droewig gewees het nie.
Maar met die wysheid wat nawete bring, is ek voorbereid vir die pylvak van die akademiese jaar. Die volgende studiehulpmiddel op my wenslysie is The Book of Road (MapStudio) of Touring Atlas of South Africa (Jonathan Ball).
Sodat ons wyer as die Wes-Kaap kan studeer.Totdat dit gebeur, is daar net een kwessie wat knaag: Met die hulp van watter kaart, op watter dorp, watter baken, ruitverwysing, GPS-koördinaat, besienswaardigheid, natuurlike of mensgemaakte element, hoë platorand, diep vallei, yskoue oseaan of louwarm branderplankbranders gaan ek hierdie kind kan leer spél?
Ek dink om dié tameletjie deur te knaag moet ek soos my ma destyds maak en my knieë opoffer.
Vir almal se beswil.















