Baie kampeerders - of enigiemand wat lief is daarvoor om die pad te vat en vlaktes te gaan soek - het stories te vertel van iets wat al op een of ander stadium verkeerd geloop het terwyl hulle op reis is.
Dit hoef nie net iets te wees wat langs die pad gebeur nie; die saadjie kon al by die huis geplant gewees het en dan eers later kop uitsteek.
Wie het nie al belangrike kamp- of reisgoed by die huis vergeet nie? Een so 'n storie wat ek self beleef het, was nie die gevolg van my eie nalatigheid nie, maar dié van 'n medekampeerder.
Dit het voor ons afgespeel een Paasnaweek by die Algeria-kampplek in die Sederberg. Ons mense was vroeg al opgeslaan in die pragtige en groot kampterrein. Die kampvuur was aangesteek en ons kon gesellig met 'n glasie in die hand sit en begin kuier.
Dit was ook net mooi die tyd toe ons kampbure opdaag. Dit was reeds skemer toe die kar met sy CA-nommerplaat en sleepwaentjie stilhou. Opgewonde klim Ma en Pa saam met hulle twee klein kinders uit en begin afpak.
Skielik hoor ons dit word tjoepstil aan hulle kant. Dis 'n gesig waarvoor 'n mens nie eintlik wil lag nie, maar Pa het die tentpale by die huis vergeet.
Dit beteken natuurlik oppak en terug Kaap toe ry met 'n atmosfeer wat só dik is jy kan dit met 'n mes sny... weg is die Paasnaweekvrede vir hulle.
Net so kan jy nie by 'n grenspos aankom sonder 'n paspoort - of een wat verval het - nie. Jou vakansie eindig net daar.
Onlangs was dit weer tyd om my paspoort en ID te hernu sodat ek sonder enige teleurstelling die pad kan vat as die lus vir reis en kamp my skielik beetpak.
Net soos by 'n grenspos kan dié nuwe aansoek 'n uitdaging wees. Kom ek gesels gou oor my binnelandsesake-marathon: Ek woon in die Strand, maar hoor uit verskeie oorde die kantoor op Caledon is die vinnigste.
Die raad is om nie te vroeg op te daag nie sodat die meeste mense wat al in die ry staan, eers geholpe raak. Ek vertrek dus rustig teen 08:00 by die huis. Dis 'n pragtige oggend en ek is vol afwagting om vandag 'n klomp papierwerk met een poging af te handel.
Toe ek op Caledon aankom, staan daar steeds 'n klomp mense buite die gebou. Dis 09:50 en die volgende beurtkragsiklus begin oor tien minute. En kan jy glo, daar is nog geen siel binne die gebou nie.
Ek besef my geduld gaan vandag beproef word. Ek is nr. 55 in die ry, maar kry my staan. Ná 'n paar minute kom groet iemand en vra of ek haar nog onthou.
Ek herken haar dadelik, maar onthou nie haar naam nie. Dis geen probleem nie; ons stel mekaar weer voor en knoop 'n kort geselsie aan. Sy het nog haar nommer van gister en word binne die gebou toegelaat. Ek staan verder.
Ek sien 'n ander bekende gesig, maar is nou nie meer so seker van myself nie. Sy noem my op die naam, en genadiglik is dit soos die son wat deur die wolke breek en ek eien haar.
Ek werk in die finansiële wêreld en sy is een van my kliënte. Ons knoop ook 'n geselsie aan. Dit bly egter nie net by kennisse nie; jy ontmoet op dié manier ook 'n klomp vreemdelinge.
Van heinde en ver kom hulle: Parow, Hermanus, die Paarl... 'n Pa en sy dogter, 'n Hollander en sy meisie, en 'n ou oom en tannie.
Elkeen met sy eie storie, en ons staan en gesels. Glo dit of nie, maar 'n paar uur later is daar nog geen beweging nie.
Nou vir die ontnugtering: Die kantoor se stelsel is van lyn af. Nie 'n bietjie nie, maar heeltemal... niks werk nie.
Ek draai om, gooi my hande triomfantelik in die lug en skree ‘halleluja'.
Dit dring stadig tot my deur: Vandag gaan ons nie gehelp word nie. Nié vandag nie. My dag vir papierwerk is daarmee heen.
Elkeen van ons in die ry kry 'n kaartjie met 'n nommer op om môre weer te probeer. Vandag is gister se môre, en die regte môre word nou die tweede dag vir uitgestelde papierwerk.
Die beurtkrag slaan die volgende dag weer om 10:00 toe, maar ek maak seker ek is 20 minute vroeg. Soos ou vriende groet ons mekaar weer in die ry.
Ek skat dis sowat 14 van ons wat gister hier in die ry gestaan het, en my kliënt is ook weer terug. Vandag staan ons saam met omtrent 80 nuwe hoopvolles en ek voel soos 'n gekonfyte toustaner tussen die nuwelinge.
'n Beampte kom uit die gebou gestap en ons as gister se uitverkorenes mag voor in die ry gaan staan. Gister se 55 word nommer 4 vir my. Hierdie gaan vinnig wees.
Ná 'n rukkie se sit - ja, die staan is verby - is daar steeds geselsies met ou én nuwe vriende. Ek kry my beurt in die fotohokkie.
Sake verloop nou vinnig en ek gaan sit voor in die saal. Ek weet dinge staan nou einde se kant toe en ek is amper klaar.
"Nommer 4," hoor ek 'n beampte roep. Die oomblik het aangebreek. My hande sweet skoon en my hart klop sommer vinniger.
Ek kry my sit voor 'n vrou wat baie behulpsaam lyk. Ek wag. En wag dan nog so 'n bietjie. Anderkant die toonbank sien hulle glo nie my nuutgeneemde foto's op die stelsel nie en ek moet terug.
Ek trek my oë in ongeloof, vat my goed en stap terug vir nog 'n foto. Op pad soontoe tref die nuutste ons. Alles is weer van lyn af, landwyd; niks werk nie.
Weer sit ons en wag. 'n Kort rukkie later vra my kliënt of ek 'n cappuccino wil hê. 'n Ware lewensredder - die ene moedersmelk.
Niks verander intussen aan die sit en wag - of wag en sit - nie. 'n Uur later is daar skielik lewe. Versigtig optimisties gaan staan ek weer vir 'n foto. Geen probleme nie. Ek beweeg weer verder.
Ek is angstig of die rekenaarstelsel gaan hou. Minute tik verby, alles steeds soos dit behoort te werk. Ek besef die einde is in sig... ek gaan dit maak.
Die vrou vra dat ek saamstap tot by die betaalpunt. As sy maar kon weet wat ek bereid was om te betaal... Die transaksie word verwerk terwyl ek met my rug na die ander mense staan.
Die betaling gaan deur en die bewys word aan my aansoekvorm vasgekram. Daar's doodse stilte voordat sy die vorm teruggee.
"Jy het dit gemaak!" skree een van die veertiental. Ek draai om, gooi my hande triomfantelik in die lug en skree "halleluja!". Die mense in die saal begin spontaan hande klap en juig my toe.
Ek groet my kliënt en al my nuwe vriende en stap effens aangedaan uit die gebou. Ek gee my eerste tree buite in die straat en kry nog 'n applous van die mense buite.
Dis nog 'n halleluja-oomblik, en hulle kan weet daar is tog lewe daarbinne. Dit syfer stadig deur. Ek is 'n held. 'n Ware Suid-Afrikaanse held. 'n Held gemaak deur binnelandse sake en beurtkrag.
Dankie, Suid-Afrika. Oomblikke was ek keelvol, maar verruil tog die herinneringe vir niks nie. Ook nie die ontmoeting van ou en nuwe vriende nie.
Ek kry my nuwe paspoort en ID-dokument net nege dae later. Ek is weer reg vir die pad. Reg vir die pad met 'n klomp nuwe herinneringe saam met my.














