My ouers het nie juis daaraan geglo om Kersgeskenke te gee nie, en verskeie "waterdigte" argumente is oor die jare heen as redes vir dié besluit voorgehou. As jong seun moes ek meer as een keer hoor Kersvader is ongelooflik besig in die aanloop tot die dag waarop hy geskenke moet uitdeel en gaan dus nie betyds by die woonwapark op Mosselbaai uitkom nie.
Hy het wel per telegram laat weet hy het sommer my groot geskenk by ons huis in die Boland afgelewer - hy had glo 'n sleutel vir die garage - en ek sal dit ná die vakansie daar vind.
Maar intussen is hier 'n klein ietsie sodat jy darem nie so oopmond in die wind sit nie. En dan aanvaar jy maar gelate die sak albasters, die Coca-Cola-klimtol en die Schmeisser-speelgoedgeweer, selfs al kan jy sweer die items is nie deur 'n spannetjie vernuftige elwe in die Noordpool gemaak nie, want jy het dit kort voor die vakansie met jou eie twee oë by Baumans Algemene Handelaar op die dorp gesien. In die "Bargain Bin" nogal.
Terloops, daardie groot geskenk wat in die garage wag? Drie weke se vakansie het altyd gesorg dat hy heeltemal vergete is. 'n Wen-wen situasie vir die ouers.
Nadat die Kersvader-borrel uiteindelik in my vroeë tienerjare gebars is, kon my ouers minder gebrekkige redes aanvoer hoekom ek geskenke soos 'n Old Spice soap-on-a-rope, North Star-tekkies en 'n nuwe swembroek onder die Kersboom gekry het terwyl my tydgenote die kampterrein op horings neem met hulle Chopper-fietse, Blaupunkt-kassetspelers of - as jou ouers regtig cool was - 'n Sony Walkman. Verkieslik 'n geel of blou een.
Jy is nou oud genoeg om jou eie seep te hê, sou my pa verduidelik. Of ek sou hoor hoe my ander tekkies gaar is en dat ek nuwes nodig het. Lateraan was hy sommer net eerlik: daar is nie geld vir duur geskenke nie.
Hierdie gratis vakansie en gepaardgaande sakgeld is jou geskenk. Wees dankbaar, want daar is derduisende kinders in China wat nog nooit by die see vakansie gehou het nie... Hoekom die arme kinders van China altyd uitgesonder is, weet nugter.
Dis nie dat my ouers suinig was nie. Ek dink bloot met drie kinders op 'n staatsdienssalaris was daar nie geld vir luukses soos duur geskenke nie. Die tweedehandse fiets ry immers net so goed soos die nuwe Chopper en, ja, die Panasonic-radio in die woonwa se kombuisie is nie naastenby so cool soos 'n Walkman nie, maar die musiek speel ewe goed en deurlopend - dit word nooit afgeskakel nie.
As kind het ek dit dalk nie verstaan nie, maar later het ek begin besef dit was nooit vir my nodig om te smeek vir 'n nuwe tennisraket, krieketkolf of rugbybal deur die loop van my skoolloopbaan nie.
Daar wás dus baie groot en duur geskenke in my kinderjare; hulle was net nie onder die Kersboom nie. Daar was wel een spesifieke vakansie wat ek soos gister onthou, juis oor die geskenk waarop my naam geskryf was.
Ons het soos gebruiklik die Desember weer gaan kamp opslaan in die Punt-woonwapark. Ek was rondom 15 jaar oud en vas oortuig 'n loopbaan in rock & roll sou eendag my nering wees.
Daardie jaar het ek heeljaar lank by my pa gepleit vir Queen se album The Game. Dis die een met die treffers soos "Another One Bites The Dust" en "Crazy Little Thing Called Love".
Op ons dorpie was daar nie iets soos 'n musiekwinkel nie. Jy moes wyd reis na een van die groter dorpe as jy musiek wou koop, óf jou lewe in die groot stad waag.
Soos die geluk dit wou hê, moes my pa daai jaar kort voor die Desember-vakansie 'n kongres in Port Elizabeth bywoon. My ma, dink ek, het die boodskap subtiel aan hom oorgedra. Vir Kersfees, asseblief, koop tog vir die kind Queen se The Game. By die CNA in die Baai.
Toe my pa dus terugkeer met iets (reeds toegedraai) wat verbasend baie soos 'n langspeelplaat lyk, was ek uit my vel van opgewondenheid, maar ook uitgeslape genoeg om te maak of ek niks vermoed nie.
Ek sal my beste vertoning lewer daar voor die opslaan-Kersboom in ons tent, het ek myself belowe. "En die Oscar gaan aan..." Verbasing, blydskap, ongebreidelde vreugde!
Dit was 'n lang vier weke tot 25 Desember. Maar die oggend het uiteindelik aangebreek en my pa het, soos die gebruik is, die geskenke uitgedeel. Teen dié tyd was ons almal oud genoeg dat hy dit sonder die Kersvader-mombakkies, wattebaard en rooi oorpak kon doen.
"En dié een is van my af, vir my ou vroutjie." A, dis Audrey Blignault se nuutse boek, Om die son te aanskou. "En hierdie ene is van die kinders aan Mamma." O, lieflik! Dis LL Pansegrouw se Blokraaisel-woordeboek. "Vir Sussie, van ouma Issie en oupa Piet..." Dis 'n manikuurstelletjie, tog te oulik!
So het my pa die verrigtinge uitgerek, met my oë vasgenael op daai vierkantige platte heel agter.
Uiteindelik! "En die laaste geskenk... van Pa en Ma, aan ons jongste. Hoop jy geniet hom!" En daar het ek hom in my sweterige hande. Ek kan voel dis 'n langspeler. Ek hoor reeds Freddy Mercury se verruklike stem. Brian May se neulende Fender Stratocaster.
Op 'n snikhete Mosselbaaise oggend, geskenkpapier die herhalende prentjie van 'n oorgewig Kersvader kniediep in die sneeu, met 'n groot rooi sak vol speelgoed oor sy rug.
Ek skil daai papier met een vinnige beweging af. En... Engelbert Humperdinck's Greatest Hits. Met 'n groot geel plakker in die hoek: "Including hits like ‘Please Release Me', ‘Spanish Eyes', ‘Quando, Quando, Quando' and many more!"
As ek 'n jaar of vier jonger was, sou daar waarskynlik trane van teleurstelling gewees het. 'n Vloermoer, selfs. Maar ek was so dapper soos die ou wat met 'n honderste van 'n sekonde die Olimpiese bronsmedalje misgeloop het.
Nêrens plek op die podium vir jou nie, my vriend.
"Sjoe, wat kan ek sê? Engelbert Humperdinck! Sjoe. Ek het dit nie verwag nie. Baie, baie dankie, julle. Ek het eintlik nie woorde nie."
Seker so drie maande later deel my ma my op 'n dag toevallig mee: "Jy weet daai plaat wat ons jou vir Kersfees gekry het? Pa het wel die Queen-plaat gekoop, maar dit toe in PE agterin sy motor vergeet. Die son het daai plaat so erg gebak dat hy skoon soos 'n sinkplaat gebuig het. Heeltemal onspeelbaar.
"Ons het alles probeer om hom te probeer red, my kind, maar op die ou einde moes ons die plaat wegsmyt. En daai Saterdagoggend wat Pa toe so vroeg vir kantoorsake hier weg is, het dit niks met sy werk te doen gehad nie.
"Hy het van die een dorp na die ander gery, op soek na 'n ander Queen-plaat vir jou. Uiteindelik in die Paarl se CNA het hy die handdoek ingegooi - The Game was net nêrens te vinde nie.
"En toe Pa die mannetjie daar vra nou waarna luister die kinders deesdae - want Pa luister mos net klassieke musiek - toe sê die mannetjie ‘oom kan nie 'n fout maak met Engelbert Humperdinck nie'. En dís toe wat Pa vir jou gekoop het..."
Ek het tot vandag toe daai langspeler. Engelbert Humperdinck's Greatest Hits.
En ek is bitterlik heilig daarop.














