Reis

Ry só veilig in gure weer

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Foto's Unsplash

MasterDrive, 'n ryskool vir gevorderde bestuur, is in 1999 gestig, en Eugene Herbert, die uitvoerende hoof, beywer hom vir veiliger paaie in Suid-Afrika. Die maatskappy rig bus-, motorfiets-, vragmotor- en motorbestuurders af in enigiets van ongeluksvoorkomende bestuurstegnieke tot hoe om op te tree in 'n kaping.

Ons het Eugene se professionele raad gebruik om 'n lys wenke saam te stel vir 'n veranderende klimaat waarin Suid-Afrika die een oomblik deur 'n droogte geknel en dan enkele maande later deur stormvloede geteister word.

Gure weer

Sommige Suid-Afrikaners het 'n reputasie dat hulle nie in reën kan bestuur nie. Volgens Eugene moet motoriste die volgende doen:

  • Skakel jou voertuig se hoofligte aan. Die dagryligte in nuwe voertuie is dikwels té flou om in swaar reën raakgesien te word.
  • Handhaaf 'n groter volgafstand as normaalweg tussen jou en die voertuig voor jou. Dit gee jou in 'n noodgeval genoeg tyd om te reageer.
  • Ry stadiger as gewoonlik, want dit verlaag die risiko dat jou voertuig op 'n nat pad sal gly.
  • As jou voertuig wel gly, haal bloot jou voet van die versneller af en trap die rempdaal egalig. Moenie hard aan die remme pomp nie en ook nie aan die stuurwiel pluk nie. Draai bloot die stuur in die rigting waarin jy wil hê jou voertuig moet gaan.

Reën

Wanneer dit hard reën, is daar dikwels waterpoele in die pad en selfs fratsvloede.

Hou die volgende sewe wenke in gedagte:

  • Vermy poele wat dieper is as jou wiele se naaf, veral as dit op 'n grondpad is. Dis altyd beter om eers deur te stap om te sien presies hoe diep die water is.
  • Moet nooit deur poele water op 'n teerpad jaag nie. Jou voertuig se bande dwing water deur fyn krakies in die teer en sodoende breek bietjies-bietjies van die teer los. Kort voor lank is daar 'n slaggat in die pad.
  • Vermy vinnigvloeiende water oor 'n pad. Water is kragtig genoeg om vragmotors mee te sleur, en jou bostrokkie staan nie 'n kat se kans teen 'n sterk stroom nie.
  • As jy nie anders kan nie, moet jy met 'n bestendige spoed - nie te stadig óf te vinnig nie - deurry in eerste of tweede rat.
  • As jou voertuig doodruk en jy is seker die stroom gaan jou nie meesleur nie, kan jy uitklim en seker maak die luginlaat is nog bo die watervlak voor jy die enjin swaai. As jy vermoed daar is wel water in die enjin, moet jy eerder vra om uitgesleep te word, die besoedelde olie dreineer en vars olie intap voor jy verder ry - dis beter om dié taak vir 'n werktuigkundige te los.
  • Jy't die bostaande raad gevolg, maar halfpad deur die stroom voel jy hoe jou bakkie dwars begin dryf. Maak dadelik 'n deur oop om water in te laat. Dit sal jou bakkie swaarder maak sodat jy greep op die pad kan behou.
  • Indien daar geen keer aan die fratsvloed is nie en jou voertuig meegesleur gaan word, spring uit sodra dit veilig is, en swem!

Moet nooit deur poele water op 'n teerpad jaag nie. Jou voertuig se bande dwing water deur fyn krakies in die teer en sodoende breek bietjies-bietjies van die teer los.

Wind

Dis nie net water waarvoor jy moet ligloop nie, maar ook stormsterk winde. Die volgende gevare kan jou reis bederf:

  • Wees veral op jou hoede wanneer jy deur 'n tonnel en oor brûe en berge ry. Menige Gautenger wat Desembermaand Kaap toe kom, skrik hom boeglam wanneer hy by die Hugenotetonnel uitry en deur die suidewinde rondgepluk word, en sodra jy die brug buite die tonnel tref, voel dit asof die wind jou gaan rol. Vragmotors word inderdaad op hierdie brug deur die wind omgestoot.
  • Hou 'n oog op hoogspanningsdrade wat bo-oor 'n pad loop. Wees ook bedag op woonwaens wanneer jy 'n sleepkombinasie verbysteek - 'n rukwind kan 'n woonwa baie maklik voor jou instoot.
  • As jy stoei met die stuurwiel op 'n snelweg, moet jy twee keer dink of jy 'n swaar voertuig wil verbysteek. Die skielike windstilte langs die vragmotor kan veroorsaak dat jy beheer verloor en in die sleepwa vasry. En staal jou vir rukwinde wat met mening terugkeer sodra jy verby die vragmotor is.

Skakel jou hoofligte aan, maar hou hulle gedomp. Skakel ook jou voertuig se misligte aan as hy daarmee toegerus is.

Mis

Mis veroorsaak nie skade aan paaie nie, maar kan dieselfde gevare as erge reën inhou as jy nie versigtig is nie. Let op die volgende:

  • Ry stadiger nes jy sou in 'n abnormaal harde reënbui.
  • Skakel jou hoofligte aan, maar hou hulle gedomp. Skakel ook jou voertuig se misligte aan as hy daarmee toegerus is.
  • Heelparty mense skakel hulle noodflikkerligte aan, maar Eugene van MasterDrive glo dit kan verkeerd vertolk word deur ander motoriste. Hulle mag dalk dink jou voertuig het onklaar geraak en dan steek hulle jou verby terwyl hulle nie kan sien of daar aankomende verkeer is nie.
  • Om aan te sluit by die vorige punt: Bly in jou baan, moenie swenk nie en moet beslis nie die kar voor jou probeer verbysteek nie. Moet eerder nie aftrek op 'n bergpas wat toe is onder die mis nie. Die afgrond is moontlik nader as wat jy dink...

Beskadigde paaie

Gure weer beskadig infrastruktuur, en dis veral ons paaie wat deurloop. "Om paaie te vermy waar jy nie seker kan wees van jou veiligheid nie, is nie opsioneel nie, maar 'n noodsaaklikheid," sê Eugene. "Selfs wanneer jy alternatiewe roetes neem om gevaarlike paaie te vermy sal jy voorvalle teëkom wat ekstra sorg en ervaring verg." Jy kan die volgende verwag ná 'n onlangse storm:

  • Die storm is dalk verby, maar daar bly plasse water in die pad oor. Jy het 'n gegewe pad dalk al 'n honderd keer gery, maar vandag skuil daar 'n nuwe slaggat wat jy nie ken nie. Ry dus stadig deur poele in die pad.
  • Waterskade kan onopvallend wees. 'n Fratsvloed kan die grond onder 'n teerpad uithol, en sodra jy op die pad ry, breek jou voertuig deur die kors en 'n sinkgat sluk jou in.
  • Die eienaar van 'n veldvoertuig wat 'n oorstroming aandurf, moet dit duidelik aan ander motoriste stel dat hy die nodige ervaring het en dat sy 4x4-voertuig opgewasse is vir die hindernis. Daar is al baie gesien hoe 'n leek in 'n gewone kar wegspoel omdat hy 'n viertrekvoertuig probeer volg het.
  • Indien owerhede 'n pad sluit, het jy geen reg om die kennisgewings te omseil nie. Dit is 'n verkeersoortreding en jy kan beboet word, ongeag jou 4x4-ondervinding.

Slegte paaie kan veroorsaak dat jou voertuig se buitebande beskadig word. Dís wat jy moet doen as 'n band onverwags in die ry ontplof:

  • As jy 'n harde slag voel nadat jy deur 'n slaggat gery het, maak 'n knoop in jou oor: Jou bande of wielvellings is dalk beskadig. Maak reg vir 'n moontlike noodgeval totdat jy kans kry om die wiele te ondersoek.
  • Hou 'n ferm greep op die stuurwiel sodra jy 'n ontploffende band hoor of voel - nie 'n doodsgreep met spierwit kneukels nie; net ferm.
  • Op 'n teerpad sal jy rubber teen die bakwerk hoor klap en rook sien dwarrel, maar op 'n grondpad gaan jy dit dalk eers agterkom sodra jy sukkel om beheer oor jou voertuig te behou.
  • Trap die rempedaal effens. As 'n voorwiel gebars het en jy trap hard op die remme, gaan jou voertuig waarskynlik skuins vorentoe duik en omrol.
  • Fokus daarop om jou voertuig in die pad te hou, en sodra jy voel dinge is onder beheer en jy ry stadig genoeg, kan jy aftrek tot op die skouer van die pad.
  • Skakel jou noodflikkerligte aan sodra dit veilig is om een hand van die stuurwiel af te haal. Jy hoef nie te wag tot jy heeltemal tot stilstand kom nie.

Neem 'n blaaskans

Gure weer en slegte paaie is uitputtend. Jy dink dalk jy's wakker omdat die toestande jou op jou tone hou, maar eintlik raak jou denkvermoë met elke verbygaande minuut traer. Volgens die Amerikaanse nasionale veiligheidsraad is lomerigheid verantwoordelik vir ongeveer 100 000 jaarlikse padongelukke, 71 000 beserings en 1 550 sterftes per jaar in dié land.

Ja, dis oorsese syfers, maar die gemiddelde Amerikaner bestee ongeveer ewe veel tyd agter die stuur as ons omdat hulle, nes ons, nie die soort openbare vervoer as in Europa het nie. Die Amerikaanse outomobielassosiasie (die AAA) sê 75% van bestuurders kom nie agter wanneer hulle lomerig raak agter die stuur nie, ook dat vragmotorbestuurders meer geneig is om hulle lomerigheidsvlak te onderskat omdat hulle gereelder op die pad is.

Dit is veral waar vir diegene wat snags ry gedurende die tye wanneer lomerigheid die meeste toeslaan: tussen 21:00 en 06:00. Die kommerwekkendste feit wat aan die lig gebring is, is dat selfs bestuurders wat weet hulle is lomerig, aanhou bestuur!

In die AAA se studie is Amerikaanse vragmotorbestuurders die kans gegee om elke 20 minute stil te hou, maar die meeste van hulle het eerder besluit om aan te stryk. Ons is almal tot 'n mate skuldig hieraan. As jy vroeër die dag 'n lekband herstel maar ook kampplek bespreek het, gaan jy uithou en aanhou, selfs al sak die son en jy wéét koedoes spring snags oor die pad.

Dagdroom, 'n verlies aan konsentrasie, gaap, dryf oor bane, oë vryf, vertraagde reaksies en gereelde variasies in spoed is alles 'n aanduiding van lomerigheid. Mikroslaap, wanneer jy onbewustelik vir 'n paar sekondes agter die stuurwiel wegraak, is ook iets waarteen 'n mens moet waak.

As jy enige van die simptome hierbo ervaar, moet jy dadelik aftrek en rus. Dis nie net ter wille van jou eie lewe nie, maar ook dié van jou passasiers en al die ander padgebruikers.

Wie bestuur die beste?

Ter afsluiting deel ons graag 'n interessante brokkie wat onder Eugene se aandag gekom het. Hy vertel 'n groep motorongelukprokureurs in Amerika wou weet watter ouderdomsgroepe die veiligste motorbestuurders is.

Hulle het hulle eie rekords asook statistieke van die National Highway Traffic Administration vergelyk en bevind dat die sogenaamde millenniërs die gevaarlikste bestuurders is. Dis nou mense tussen die ouderdom van 23 en 38 jaar.

Die veiligste bestuurders is glo die baby boomers in daardie land. Hierdie bestuurders, tussen 63 en 72 oud, was in die minste ongelukke betrokke: gemiddeld slegs 14 per 100 000. Die naasveiligste groep is generasie Z - kinders tussen 12 en 22 jaar. Hulle was gemiddeld in 44 per 100 000 ongelukke betrokke. Dis aansienlik hoër is as die ouer garde, maar nie so sleg as hulle ouers, die generasie X'ers nie.

Gen X - mense van in die veertig en vyftig - val glo iewers halfpad tussen millenniërs en "Gen Zee" wat goeie padgedrag betref. Die studie toon ook dat millenniërs in die hoogste aantal alkoholverwante ongelukke betrokke is, terwyl Gen Z meer bewus is van alkohol, met die laagste gevalle van dronkbestuur.

Dit help natuurlik dat Amerikaners hulle rybewys op 16 kry, maar eers op 21 mag dop (afhangende van die staat). Gen Z is egter aandagafleibaar deur dinge soos selfoonboodskappe, terwyl die baby boomers die sterkste fokus op die pad... dis nou volgens die oorsese studie.

Die gevolgtrekkings - nes met enige statistiek - is aanvegbaar omdat daar baie faktore is wat 'n rol kan speel, byvoorbeeld dat die ou en jong mense nie soveel tyd op paaie deurbring as Gen X en millenniërs nie.

Wat wel kommerwekkend is, is dat sommige millenniërs traak-my-nie-agtige gedrag toon wat padveiligheid betref. 'n Mens sien dit in hulle drankverbruik, verontagsaming van verkeerswette en 'n tekort aan bedagsaamheid op die pad.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM