Suid-Afrikaners moet hulle regmaak vir nog stormweer.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Maandag gesê verdere voorkoms van sterk wind en kitsvloede oor Suid-Afrika heen word vir die res van 2024 voorspel.
Gure weersomstandighede het die afgelope week in Mokopane (Limpopo), Qwaqwa (Vrystaat) en Thembisa (Gauteng) hoogty gevier. Skade is ook aangerig aan laagwaterbrûe in Centurion, waar van die brûe ook gesluit is.
Die weerdiens sê in 'n verklaring potensieel ontwrigtende reën kan Maandag en op Oukersdag verwag word in Pretoria, Polokwane, Phalaborwa, Thabazimbi, Mbombela, Ermelo, Pietermaritzburg, Durban, Richardsbaai en Mthata. Hewige donderstorms word ook vir Vryburg in Noordwes voorspel.
Die SAWD sê dié voorspelling moet as 'n waarskuwing dien vir mense wat vakansies beplan. Hulle moet hul reise daarvolgens beplan.
Daar word verwag dat reënweer Dinsdag oor die Wes-Vrystaat en noordelike en westelike streke van die Oos-Kaap effens sal opklaar.
Die wydverspreide (80%) buie en donderbuie wat op Oukersdag in die weste van Limpopo en die noorde van Gauteng verwag word, kan met ontwrigtende reën en plaaslike oorstromings gepaard gaan.
In die suidwestelike binneland sal dit gedeeltelik bewolk en warm wees en warm op plekke in die noordelike dele van die Noord-Kaap.
Op Kersdag word reën in die oggend langs die Limpopo- en Mpumalanga-platorandstreke verwag.
Oor die grootste dele van die Kaapprovinsies word sonnige weer verwag en dit kan warm tot baie warm wees.
Volgens Lehlohonolo Thobela en Vanetia Phakula, weervoorspellers van die SAWD, dui weermodelle tans daarop dat net Noordwes teen laatmiddag verspreide buie en donderbuie kan kry.
Op Welwillendheidsdag word geïsoleerde buie en donderbuie oor die grootste dele van die land verwag, behalwe vir die noordoostelike en suidwestelike streke. Donderstorms sal oor Gauteng, Noordwes, die Vrystaat asook oor die noordelike dele van die Noord-Kaap uitsak.




















