Ysige sneeustorm verlam Amerika

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Persoon probeer ’n dik laag sneeu van ’n wandelpad naby die Brooklyn-brug in New York af vee.
’n Persoon probeer ’n dik laag sneeu van ’n wandelpad naby die Brooklyn-brug in New York af vee. (ANGELA WEISS/Foto: AFP)

’n Groot winterstorm het Sondag gevaarlike toestande oor groot dele van die VSA gebring, van Texas tot New England, ’n streek in die noordooste wat die deelstate Maine, New Hampshire, Vermont, Massachusetts, Rhode Island en Connecticut omsluit.

Owerhede het inwoners gewaarsku om van paaie af te bly, terwyl etlike duisende vlugkansellasies en kragonderbrekings voorgekom het.

Volgens PowerOutage.com was meer as 700 000 huishoudings Sondag sonder elektrisiteit, veral in die suidelike dele van die VSA waar die storm begin het. Tennessee het byna 250 000 kragonderbrekings gehad, terwyl Texas, Mississippi en Louisiana elk meer as 100 000 onderbrekings aangemeld het.

Die storm het sneeu en ysreën oor die land gestort, en amptenare het gewaarsku dat ’n arktiese kouefront temperature vir dae lank gevaarlik laag gaan hou.

Die Amerikaanse nasionale weerdiens het gewaarsku dat sneeu en ysreën nog lank sal voorkom, met herbevriesing wat paaie en sypaadjies gevaarlik maak om op te ry of te loop.

Motoriste in New York probeer hul weg vind te midde van ysige weersomstandighede.
Motoriste in New York probeer hul weg vind te midde van ysige weersomstandighede. (ANGELA WEISS/Foto: AFP)

Owerhede van Texas tot New York het inwoners versoek om tuis te bly. “Bly van die paaie af, tensy dit absoluut noodsaaklik is,” het Texas se rampbestuursowerhede op X gewaarsku.

Die storm het van die suide na die noordooste beweeg en sneeu oor digbevolkte stede gestort. Minstens 20 deelstate asook die hoofstad, Washington DC, het ’n noodtoestand verklaar.

Federale regeringskantore is reeds vir Maandag gesluit.

Groot lughawens in Washington, Philadelphia en New York het byna al hul vlugte vir die dag gekanselleer en landwyd is meer as 10 000 vlugte Sondag gekanselleer.

’n Bord wys gekanselleerde vlugte vanaf die LaGuardia-lughawe in New York weens die gure weerstoestande.
’n Bord wys gekanselleerde vlugte vanaf die LaGuardia-lughawe in New York weens die gure weerstoestande. (CHARLY TRIBALLEAU/Foto: AFP)

Pres. Donald Trump het op Truth Social gesê: “Bly veilig en bly warm!”

Hy het ook ’n steek ingekry oor klimaatverandering en gevra hoe dié koue front daarby inpas. “WAT HET TOG GEBEUR MET AARDVERWARMING???,” het hy op sy sosialemediaplatform geskryf.

Wetenskaplikes sê die koue kan lewensgevaarlik wees, met windkoue wat tot -45°C kan daal en binne minute vriesbrand kan veroorsaak. – AFP

SPELETJIES VANDAG

CTA