Vandaar die bekende waarskuwing: Wanneer jy op 'n slang afkom, moenie roer nie!
Nog beter raad is: Stap stadig agteruit en maak dat jy wegkom.
Sodra jy meer as vyf meter van 'n slang af staan, is jy relatief veilig en dis onwaarskynlik dat die dier jou sal byt.
Slange val nie stilstaande voorwerpe óf mense aan nie... tensy dit soos prooi lyk of ruik.
Gelukkig is daar darem net twee slangspesies in Suid-Afrika wat se sig só goed is dat
hulle stilstaande prooi kan uitken: die boomslang en die takslang.
Die meeste slange het monokulêre visie; dus registreer die een oog nie 'n beeld in koördinasie met die ander oog nie.
Maar dié twee spesies het – soos ons – binokulêre visie. Hulle kan dus met albei oë gelyktydig op 'n voorwerp fokus.
Slange se ooglede kan nie toeknip nie. In plaas daarvan word hulle oë deur 'n deursigtige skild bedek wat net soos die res van 'n slang van tyd tot tyd vervel.
Dié eienskap is een van die maniere hoe ons slange van pootlose akkedisse onderskei – laasgenoemde het wel ooglede.
'n Mens kan baie van 'n slang se gedrag aflei deur net sy oë dop te hou.
Neem byvoorbeeld die pupil: Slange met 'n vertikale, elliptiese pupil(soos 'n kat) is gewoonlik naglewend terwyl slange met 'n ronde pupil daglewend is.
Die plasing van die oog in die skedel is ook van belang: waterslange,soos die swart-waterslang, en woestynslange, soos die namibduinadder, se oë sit bo-op die kop.
Dit stel waterslange in staat om 'n verrassingsaanval op prooi te loods omdat hulle bykans ongemerk onder die wateroppervlak kan nader swem.
En slange wat in die woestyn hou, kan hulleself in die sand ingrawe totdat net die borand van die kop nog uitsteek – dis die perfekte hindernis vir 'n niksvermoedende akkedis wat verbyloop.
Die deursnit van die oog in verhouding tot die kop kan 'n mens ook iets van 'n slang se leefstyl vertel.
Slange wat in bome woon (soos die gespikkelde bosslang en die boomslang)het groot oë met goeie sig terwyl slange wat onder die grond woon (soos Bibron se blindeslang) weer klein oë het wat nie te waffers sien nie.
En het jy geweet daglewende slange – soos mambas en kobras – het kleurvisie, terwyl naglewende slange slegs in swart-en-wit sien?
Gaan na africansnakebiteinstitute.com vir nog inligting.















