Reis

Spoedige beterskap, Mic! skryf Schalk

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Mic van Zyl, een van “Ry & Sleep” se gereelde rubriekskrywers.
Mic van Zyl, een van “Ry & Sleep” se gereelde rubriekskrywers.

Mic is baie lank al deel van ons redaksionele familie en het al meer as 'n honderd 4x4- en veldryrubrieke vir Ry & Sleep en ons voorgangertydskrif WegRy geskryf. Hy is 'n goeie mens met 'n vurige passie vir die buitelewe en sy beroep.

Laasgenoemde twee loop toevallig hand aan hand, want hy is per slot van sake 'n direkteur van Ironman 4x4, een van die grootste en gewildste handelsname in die bedryf.

Dit is 'n absolute plesier om saam met Mic te werk en ek het net die hoogste agting vir sy etiek, sy eerlike en ordentlike manier van dinge doen, en sy aansteeklike passie vir alles wat met 4x4-avonture en -toerusting, tegnologiese ontwikkeling en oorlandsreise te make het.

Hy verbaas my gereeld met sy indrukwekkende kennis oor die geskiedenis van elke toepaslike motorvervaardiger en hoe dinge lank terug gewerk het, hoe dit sedertdien verander het, en dan, natuurlik, sy gebalanseerde en weldeurdagte mening oor of die verandering 'n goeie of slegte ding is.

Dit is duidelik te sien in elkeen van sy insiggewende rubrieke wat hy al oor die jare gelewer het.

Wat hom veral van só baie ander sogenaamde kenners onderskei, is dat hy hom min steur aan heilige koeie. Heelwat meningsvormers sal katvoet wees as 'n gewilde vervaardiger die bal misslaan met iets wat hy in die mark sit - uit vrees om die gramskap van die vervaardiger (en natuurlik sy stewige bemarkings­begroting) op die hals te haal.

Nie Mic nie.

As hy iets raaksien of ervaar wat 'n medegeesdriftige of potensiële koper se ervaring moeiliker eerder as makliker gaan maak wanneer hy die boendoes invaar, noem Mic dit op die naam en sê presies hoekom hy dink dit kort werk, is ondeurdag of selfs doodgewoon dom.

Ongeag die kenteken op die sierrooster.

Mic is die verpersoonliking van die 4x4- en veldryleefstyl. Hy leef vir wat hy doen en sy beroep is 'n integrale deel van sy DNS. Hy verkies die grondpad, het ons vasteland al van hoek tot kant deurkruis en sy entoesiasme en opgewondenheid wanneer hy jou in die fynste besonderhede vertel van iets wat hy vir die eerste keer - of selfs die twintigste keer - beleef het, is aansteeklik.

Daarom was dit vir ons almal in die redaksie sleg om die nuus te hoor dat Mic, wat al soveel jaar deel van ons familie is, 'n ruk gelede met keelkanker gediagnoseer is.

Terwyl ons besig was om die April-Mei 2025-uitgawe af te handel het hy laat weet hy is in die hospitaal vir behandeling omdat hy begin sukkel het om te sluk. Jy sou dit egter nooit kon raai as jy na hom kon luister toe ek hom bel nie.

"Nefie," het hy gesê, "ek gaan orraait wees. Ek het nou net die spesialis wat met my splinternuwe kompressiekouse hier aangekom het, oortuig om 'n draai by ons te kom maak sodat ons sy Hilux 'n bietjie beter kan toerus, dan kan hy en sy gesin ook 'n slag van die teerpad afklim en die bekoring van die bos ervaar en geniet.

Wag, ek stuur gou vir jou 'n foto van my nuwe sokkies, dan sê jy vir my wanneer laas het jy sulke mooi bene gesien..."

Op 'n ernstige noot verduidelik hy, soos nét hy kan, dat hy behoorlik gaan oplees het oor hierdie ding wat nou oor sy pad gekom het.

Dis nie my plek om alles hier te deel nie, maar Mic het wel daarop aangedring dat ek één ding noem: "Nefie, sê vir ons lesers daar is 'n sameloop van redes hoekom ek nou in die hospitaal is met kanker. Maar al daai faktore is deur net een ding veroorsaak: stres!

"Ek was baie lank om baie redes heeltemal te gestres en dit was die brandstof vir dit waardeur ek nou gaan. Soos almal van ons weet, is die natuur die beste plek om van stres ontslae te raak, en sodra hulle my hier ontslaan, kies ek so vroeg as wat ek kan koers na die boendoes toe. Sodat ek ordentlik gesond kan word."

Ons wens jou spoedige beterskap toe, Mic. En sien daarna uit om jou binnekort weer langs die pad raak te loop!

Veilig reis.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM