Soms wil ons só ver anderkant die horison tuur dat ons vergeet om net hier langsaan by ons eksotiese bure soos Namibië, Botswana, Zimbabwe, Swaziland en Mosambiek aan te klop.
Óf ons vergeet om op te kyk na 'n koninkryk doer bo wat Suid-Afrika soos 'n gekartelde kroon op sy kop dra.
Lesotho het dalk in die verlede ontoeganklik gelyk vanweë sy berge, sneeuwinters en rowwe paaie wat net vir 4x4's geskik was. Dis immers die enigste land in die wêreld waar elke duim meer as 1 000 m bo seespieël is.
Selfs Nepal – die tuiste van die Himalajas – het 'n laagtepunt van 60 m! Anders as Toast Coetzer het ek nog nooit voet op Antarktika gesit nie, maar ek was al in meer as 40 lande op al die ander vastelande.
En tot vandag toe is ek spyt dat ek tot in my vyftigs gewag het voordat ek Lesotho besoek het. Sedertdien haal ek verlore tyd in, en probeer om ten minste een keer per jaar daar te kuier.
Net soos Evan Naudé word ek elke keer uitgeboul deur sy tientalle bergpasse, wilde landskappe en unieke natuurwonders.
Met splinternuwe en uitstekende teerpaaie wat die land danksy Chinese padbouers deurkruis, is ontoeganklikheid ook nie meer 'n probleem nie.
Ek en my vrou, Ronel, het vroeër op die dek van die Sani Mountain Escape gesit nadat ons bier in die hoogste kroeg in Afrika bestel het.
Ek het my verkyker in die hand gehad, sy het haar kamera se lang lens gemonteer terwyl ons gehoop het om een van die baardaasvoëls te sien wat gereeld hier op die lugstrome sweef.
Ons aandag het vinnig terug aarde toe verskuif na vele klein marmotagtige diertjies wat onder en om die dek geskarrel het.
Dit was 'n kolonie Slogget-rotte. Hulle is mollige knaagdiere, kort van stert wat aangepas is om meer as 2 600 m bo seespieël te leef.
Hulle sou uit een van die tonnels van 'n massiewe uitgeholde, ondergrondse skuiling na buite skarrel, vinnig iets knaag en dan tjoepstil op hulle agterbene op 'n warmgebakte rots staan om 'n bietjie son te vang.
Een oog sou die lug vir roofvoëls dophou terwyl die ander een uitkyk vir 'n mededinger wat die warm kolletjie wou afvat. Indien dit gebeur, sou 'n wilde boksgeveg van twee of drie sekondes volg.

Ons gunsteling was 'n klein kêrel wat besonder paraat was om sy plek in die son te verdedig.
'n Bietjie soos Lesotho self, wat ondanks sy klein statuur 'n reuse-indruk maak.















