Reis

Navorsing bewys wat kampeerders lankal weet: Die buitelug is goed vir jou!

'n Ruk gelede kom ek op 'n nuusberig af oor navorsing in Finland waarin bevind is die natuur kan help om 'n reeks kwale teë te werk – dinge soos angs, asma, depressie, hoë bloeddruk en slapeloosheid.

Kyk, ek besef ek preek hier vir die mense in die voorste kerkbank, want ons almal weet mos al lankal tyd in die buitelewe is nie net goed is vir die gees nie, maar ook vir die vlees.

Wat veral my oog getref het in die artikel, is dat die navorsing so amper wil te kenne gee tyd in die natuur kan ook die behoefte verminder aan medikasie – vir 'n hele klomp siektetoestande.

Dit is dus nie net 'n geval van voorsorg nie, maar duidelik ook een van nasorg. Die navorsers van die departement van gesondheidsekerheid by die Finse Instituut vir Gesondheid en Welsyn sê hoe meer gereeld mense tyd in die natuur deurgebring het, hoe minder het hulle nodig gehad om psigotropiese, hipertensie- en asmamedikasie te gebruik.

En dit is ongeag hulle sosio-ekonomiese status. Onderhoud is gevoer met sowat 6 000 mense in van die groot Finse stede.

Hoewel die fokus hoofsaaklik geval het op groen ruimtes – soos parke in groot stede – blyk dit selfs dan is gereelde besoeke aan sulke ruimtes gekoppel aan 'n 36% laer kans om bloeddrukmedisyne te gebruik. Vir geestesgesondheidsmedikasie is die syfer 33% en vir asmamedisyne 26%.

Dit is egter nie net die mense in Helsinki wat so sê nie. Hulle navorsing word bevestig deur wetenskaplikes in Japan wat tot 'n soortgelyke slotsom gekom het, én deur die slimkoppe by Harvard wat beweer net 30 minute in die natuur kan jou bloeddruk met tot 10% laat daal.

Is dit nie fantastiese en bemoedigende nuus nie?

Om bevestiging te kry dat hierdie lewenswyse wat ons almal só na aan die hart lê, nie net jou emosionele batterye herlaai nie, maar ook goed is vir jou gesondheid.

Daar is wel 'n voorwaarde: Jy moet die natuur ervaar en nie net sien nie. Dít is wat die verskil maak, sê die slim mense.

Dit help dus min as jy net sit en deur die venster daarna kyk.

Nee, jy moet buite kom, 'n rukkie daar vertoef en alles inneem en dit elke oomblik opnuut waardeer.

Dit is dán wanneer jy 'n verskil sal sien.

Maar dit weet ons mos, nè?

Veilig reis.

Jy moet die natuur ervaar en nie net sien nie. Dít is wat die verskil maak, sê die slim mense.