Reis

Grondpaaie en bergpasse: Weg-redakteur herontdek Suid-Afrika van wes tot oos

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Ek het 'n ruk gelede weer die voorreg gehad om reg oor die breedte van die land te reis - van Lambertsbaai aan die Weskus tot op Morganbaai aan die Ooskus.

En toe met ander paaie weer wes, terug Stellenbosch toe waar ek woon. Waar moontlik het ons grondpaaie gery, sonder haas oor bergpasse en deur die dorpies wat ver uit mekaar deur ons binneland gesaai lê.

Die storie oor dié reis het in Weg se Oktober-November 2021-uitgawe verskyn, en ek wil 'n paar dinge deel wat my opgeval het.

Julle weet dit reeds, maar mensig, ons land is pragtig! En die uiteenlopendheid van haar landskappe en haar mense maak haar net mooier.

'n Mens vergeet dit partykeer as jy te lank op jou eie molshopie sit. Soos wat die geval was toe ons in die grendeltyd ingehok was.

Oral langs die pad ontmoet ons groepe Suid-Afrikaners - op motorfietse, in hulle motors en diegene wat woonwaens sleep - wat hulle eie land van vooraf leer ken.

Want hoewel daar kort ná die inperktyd hier en daar 'n grenspos oop was sodat ons 'n buurland soos Namibië en Botswana kon besoek, was die meeste internasionale bestemmings steeds gesluit vir mense wat die "groen mamba" as paspoort het.

Vermoënde Suid-Afrikaners wat dalk ander jare Patagonië, Suidoos-Asië en Oos-Europa sou platgery het, het weer hulle eie plek ontdek, want die behoefte aan reis beskaam nie.

En vir 'n toerismebedryf wat se wind in 2020 deur Covid-19 uitgeslaan is, was dit uitstekende nuus. Deur die bank vertel hotel- en gastehuis-eienaars hoe plaaslike reisigers sedert die einde van grendeltyd tot hulle redding gekom het.

Ja, hulle moes pryse laat daal en kreatief raak met hulle pakkette, maar in party gevalle was die eerste kwartaal van 2021 beter as twee jaar gelede.

En op baie dorpies, geknou deur droogte en vrot munisipale bestuur, is toerisme een van die min dinge wat kos op die tafel sit en die ligte aan die brand hou.

As jy jou reis mooi beplan, kan dit bekostigbaar wees om Suid-Afrika van wes na oos en noord tot suid te herontdek.

En daar is niks beter as Weg om jou hiermee te help nie. Klim net in jou kar en ry!

Hierdie artikel het oorspronklik in Julie 2021 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.