Weskus-slenterstap: In die San se voetspore

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Met die son agter my strek my skaduwee lank en dun oor die grond van die bek tot teenaan die agterkant van die grot.

Bo die donker kop van my skaduwee gloei die rots geeloranje in die namiddagson.

Tientalle handafdrukke in verskillende skakerings van rooi pigment is duidelik sigbaar. Tussenin kan jy die strepiesfigure van mense en diere uitmaak en in die middel van die muurskildery pryk die uitgebleikte lywe van drie groot elande.

"Daar is twee dinge wat die San nagelaat het," vertel die gids Johnny van Rooyen. "Eerstens het hulle in baie van ons mense 'n bloedlyn gelaat.

Die stapgroep besoek twee grotte: Die eerste een by Elandsbaai en die tweede op die plaas Steenbokfontein naby Lambertsbaai. Albei grotte is voorheen deur die San gebruik.
Die stapgroep besoek twee grotte: Die eerste een by Elandsbaai en die tweede op die plaas Steenbokfontein naby Lambertsbaai. Albei grotte is voorheen deur die San gebruik.

"En die tweede ding is hulle rotskuns. Presies hoe oud dié tekeninge is, kan niemand sê nie, maar daar word geskat dat dit enigiets tussen 200 en 6 000 jaar oud kan wees."

Terwyl die son oor Elandsbaai sak, drink ons 'n skemerkelkie. Johnny vertel die verlate radarstasie langs die grot is tydens die Tweede Wêreldoorlog gebou om veral Duitse duikbote op te spoor.

Hy vertel ook hoe die s.adm. G.W. Hallifax aan die begin van dié oorlog in Maart 1941 met 'n Lockheed Lodestar-vliegtuig noodlottig teen Bobbejaanpunt vasgevlieg het.

Nader aan die see staan 'n verlate kreeffabriek. Johnny sê dis nog aan die gang, maar met 'n veel kleiner span as in die kreefbedryf se gloriedae.

'n Mens wonder of die San destyds ook so gesit en klets het terwyl hulle die sonsondergang dopgehou het.

Dalk het dié jagterversamelaars ook 'n gids gehad wat die gebied goed geken het. Dalk het 'n nuwe San-groep wat verbygetrek het presies verstaan watter storie dié rotstekeninge vertel.

Hoe dit ook al sy, die kol is 'n gepaste vertrekpunt vir die reis wat voorlê: 'n vyf dae lange slenterstap van Elandsbaai tot Strandfontein wat in die voetspore van die einste San volg.

Die ding van strandstap

Vroeër die middag het die toerlede mekaar ontmoet by die Vensterklip-gasteplaas langs

die Verlorenvlei, sowat 6km oos van Elandsbaai.

Hier verwelkom Anette Grobler, die eienaar van Silent Steps, 16 stappers van onder meer Durbanville, Vredendal, Wolseley, Adelaide en Midstream.

"Die doel van die toer is om 'n paar interessante plekke te besoek en deur die San se leef-wêreld te stap," verduidelik Anette. "Dis hoe ons op die naam Shoreline of the San besluit het."

Aandete word bedien in 'n ou skuur met merkies teen die muur waarmee die boere destyds skaap getel het.

Op die spyskaart is plaaslike disse soos herenbone, soetpatat en smoorsnoek. Ná ete tree 'n dramagroep uit die dorp op met 'n handjievol liedere en 'n blyspel om Paasfees te gedenk.

Die plan is om elke dag twee ure voor laagwater weg te spring.

Anette beplan die staptoer se datums volgens die getye. "Dis sodat jy stap wanneer die see op sy laagste is. Die strand is wyer en die sand harder," verduidelik sy.

"Anders raak die baaitjies se sand sag en om tydens hoogwater in die diep sand te stap is nie lekker nie."

Johnny, Anette se regterhand, begelei die groep elke dag. Johnny is 'n plaaslike gids van Lambertsbaai en het op die Weskus grootgeword.

Anette stap dele saam, maar sy vervoer bagasie tussen bestemmings en lei diegene wat op die sand sukkel op alternatiewe roetes.

"Julle hoef nie in 'n groep te stap nie," sluit Anette af. "Die lewe is 'n gejaag, moenie hier ook nog jaag nie. Dis eenvoudig, hou net die see aan julle linkerkant!"

Dans vir 'n mossel

Kort ná agtuur die volgende oggend klim ons in Anette se minibussie. My dagsak is lig: Daar is net sonroom, 'n 1,5l-waterblaas en 'n kospakkie met 'n eier, gebakte brood, 'n peer, droëvrugte en bokkoms in.

Op Elandsbaai val ons saam-saam in 'n bondel weg.

Dis 'n mooi dag vir stap: windstil en koel maar sonnig. Die gety is nog aan't terugtrek, maar die strand lê wyd, die sand hard.

"Julle is gelukkig," sê Johnny. "Gewoonlik is hier meer van 'n helling soos die branders die sand wegkalwe, maar vandag is dit mooi gelyk!"

Terwyl ons stap, wys hy allerhande dinge in die sand: Krappe se ronde gaatjies; die hopies sand en spoortjies wat sandluise agterlaat; 'n mosselskulp wat 'n seevoël van 'n hoogte laat val het sodat dit oopkraak.

"Ken julle die jive?" vra Johnny en trek sy skoene uit. Hy plant sy hakke in die nat sand naby die water en beweeg sy heupe heen en weer sodat sy voete in die sand verdwyn.

"Dis hoe ons jive vir mossels!" sê hy laggend en druk sy hand in die sand tussen sy voete en bring 'n witmossel te voorskyn.

"Lekker vir die pot en vir aas." Johnny sit die mossel egter versigtig terug, want nie een van ons het 'n permit nie. (Kry een by 'n poskantoor teen R94 per jaar as jy uit die see wil eet.)

Op sommige plekke loop die staproete hoog bo die see terwyl ander dele stappers tot naby die water neem waar bordjies almal vermaan om die omgewing skoon te hou.
Op sommige plekke loop die staproete hoog bo die see terwyl ander dele stappers tot naby die water neem waar bordjies almal vermaan om die omgewing skoon te hou.

Hoe verder ons vorder, hoe meer versplinter die groep.

Later strek die groep - in twee of drie mense wat saamstap - oor omtrent 'n kilometer. Elandsbaai is nou net 'n spikkel op die horison en dis net see en sand sover jy kyk.

Seemeeue krys bo jou kop en die briesie ruikna bamboes. Die golwe wat deurentyd op die strand breek, sorg vir 'n ritmiese gesuis in jou ore.

Later trek ek my skoene uit sodat ek die sand kan voel. Soms gesels ek vir lang ente met ander stappers, ander ente stap ek saam met mygedagtes.

Op die Shoreline of the San-staptog besoek stappers plase soos Steenbokfontein waar die eienaar, Albert Burger, almal meer leer oor die Weskus-veld en sy bossies.
Op die Shoreline of the San-staptog besoek stappers plase soos Steenbokfontein waar die eienaar, Albert Burger, almal meer leer oor die Weskus-veld en sy bossies.

Dis net voor twaalf toe Anette van voor af op die strand aangestap kom.

"En toe, hoe was dit?" vra sy. "Sien, 17 kilometers is nie so erg nie. Jy kan na die pad stap; ons maak hier klaar vir vandag."

Ons staan oorkant die plaas Steenbokfontein, sowat 9 km buite Lambertsbaai. Kort voor lank is almal by en die bussie neem ons tot by ons gastehuis op die dorp.

In die namiddag ry ons weer terug Steenbok-fontein toe om nog 'n merkwaardige grot te besoek.

Die grot is in 'n koppie genaamd Simon se Klip, 'n sandsteenkop waar Simon van der Stel glo op een van sy verkenningstogte oornag het.

In 1993 het 'n span argeoloë van die Universiteit van Kaapstad in die grot kom grawe en onder meer die beendere van 'n eeue-oue San-baba ontdek.

Ons verken rondom Simon se Klip. Albert Burger, Steenbokfontein se eienaar, laat ruik ons aan geurige veldkruie soos wilde roosmaryn en gaan wys 'n rots wat glo deur olifante in die ou dae gladgeskuur is.

Wanneer die son laag oor die Atlantiese Oseaan hang, staan ek vir die tweede dag in 'n ry met 'n glasie wyn in 'n grot.

Op 'n mistige oggend sluit 'n paar seemeeue en 'n hond vir 'n entjie buite Lambertsbaai by die stapgroep aan.
Op 'n mistige oggend sluit 'n paar seemeeue en 'n hond vir 'n entjie buite Lambertsbaai by die stapgroep aan.

Houtkruise, klipmossels en seekosbuffets

Die volgende oggend laai Anette ons af waar sy ons gister opgetel het - ons stap vanoggend die 9 km Lambertsbaai toe.

"Die sand is 'n bietjie sagter op vandag se stukkie," sê Johnny. "Jy kan ook op harder grond padlangs stap as jy nie kans sien vir die strand nie."

Met die see aan ons linkerkant mik ons noordwaarts. Vandag sprei die groep vinniger uit.

Ek trap dieper en stap swaarder. Boonop is die helling steil af na die water toe. My linkervoet loop heeltyd laer as my regtervoet enek kan voel dit kou my kuite.

'n Ent strandaf staan 'n houtkruis tussen die duine. "Kruise langs die strand vertel altyd 'n tragiese storie," sê Johnny.

"Drie vissermanne, ervare seemanne, het verdrink toe branders hulle boot omgeslaan het. Dis hoekom ek sê: Moet nooit jou rug op die see draai nie, want jy kry soms skelm brandertjies wat jou van agter af gryp. Selfs as jy op die rotse loop, moet jy wakker wees; hou altyd jou oë op die oseaan."

Ons stap verby die Muisbosskerm-opelugrestaurant. 'n Paar werkers is besig om voorraad in die kombuis te dra, voorbereidings vir vanmiddag se seekosfees - ons s'n!

Maar eers moet ons voetslaan.

Die strand is smaller as gister se stuk en meer rotsagtig. Met laagwater lê groot rotspoele ontbloot; die banke oortrek met klip- en swartmossels, kleurryke anemone en slymerige seegras. Skoorsteenveërs en duikers probeer klipvisse vang.

In die duine knak Johnny die tak van 'n melkbos sodat die wit melk uitloop. "Dis giftig. Die San het dié vloeistof op die punte van hulle pyle gesit, soms ook met slang- of paddagif gemeng."

Dalk raak ek die strandstap gewoond, of miskien is dit die Muisbosskerm se legendariese seekos wat my aanpor, maar voor ek my kom kry, staan ek op Lambertsbaai se strand.

Ek drentel deur die dorp en kry die res van die groep in 'n koffiewinkel.

Teen die tyd dat ons by die Muisbosskerm instap, het die weer gedraai en ek rits my baadjie tot onder my ken toe.

Dié restaurant langs die strand is al sedert die 1980's 'n instelling vir locals en besoekers van heinde en ver.

Op die Shoreline of the San-staptog geniet stappers tipiese Weskus-geregte.
Op die Shoreline of the San-staptog geniet stappers tipiese Weskus-geregte.

Op naweke word 'n allemintige seekosbuffet voorgesit en as jy die hele spyskaart wil proe, moet jy matigheid voor oë hou, veral aan die begin.

"Moenie net brood eet nie, al is dit hoe lekker," gee die eienaar, Elmien Turner, raad.

"Die brood word nog op die ou metode met aartappelsuurdeeg gemaak. Ek het gistermiddag sowat drieuur ingesuur, dan suur jy weer vyfuur in die oggend in.

"Jy wag tot hy in daai pot rys, dan knie jy voor kerk en bak ná kerk. Dan's hy betyds vir die skerm teen middagete!"

Ek probeer Elmien se raad in gedagte hou, maar verloor beheer iewers tussen die calamari, paella, gerookte snoek, soetpatats en kreefstert. Tog slaag ek daarin om 'n plekkie te vind vir 'n koppie moerkoffie en 'n koeksister vir nagereg.

Jou ou doring!

Vanoggend het die Weskus steeds 'n droewige grys jas aan. 'n Dik mis hang oor die kuslyn en 'n nattigheid kleef aan die geniepsige windjie.

Dit reën egter nie en ons trek in die dynsigheid ná ontbyt weg.

Ons hou noord vir sowat 8km tot by 'n paar strandhuisies in die Doorspring-privaat-natuurreservaat.

Daarna volg 'n verdere 3,5 km met 'n plaaspad langs tussen fynbos tot by die ingangshek waar Anette ons inwag.

Om Doringbaai 'n dorp te noem is dalk ambisieus, tog het dié spikkel 'n aantrekkings-krag wat by baie ander plekke teen die kus ontbreek. Dis stil, afgeleë en sonder winkels, maar vol karakter.

'n Paar strate vleg rondom 'n klein baaitjie, Bamboesbaai, waar 'n diamantboot met sy lang slurp in die water dobber.

'n Effe lendelam kaai strek uit oor die water, agter dit steek 'n wit-en-swart vuurtoring uit. Hier is 'n klein hawe, 'n perlemoenfabriek en 'n bemagtigingsprojek wat strandklippies vir tuinmaak verpak.

Die stapgroep eet middagete én proe wyn by Fryer's Cove op die Doringbaai-hawe.
Die stapgroep eet middagete én proe wyn by Fryer's Cove op die Doringbaai-hawe.

En ook die land se enigste wynkelder ín 'n hawe, Fryer's Cove. Die wynkelder is in Bamboesbaai se ou visfabriek. Moet dus nie fênsie persiese tapyte en skilderye verwag nie.

The Jetty-restaurant is sommer so staangemaak op die kaai, onder 'n tent. Van jou tafel af kyk jy uit oor die Atlantiese Oseaan wat 'n groot rol speel in die wyn se smaak.

Die wingerd aan die rand van die dorp is slegs 500 m van die see af.

Die klimaat verleen dus 'n unieke Weskus-geur aan Fryer's Cove-wyne.

Tydens middagete raak ons vertroud met die einste sauvignon blanc voordat ons stuk-stuk terugstap na ons gastehuis.

"Vandag is die laaste stukkie se stap, maar ook die mooiste," sê Anette ná ontbyt.

Johnny van Rooyen kyk uit oor die kuslyn met hoë kranse tussen Doringbaai en Strandfontein, 'n ongewone gesig op die plat Weskus.
Johnny van Rooyen kyk uit oor die kuslyn met hoë kranse tussen Doringbaai en Strandfontein, 'n ongewone gesig op die plat Weskus.

Ons eindbestemming is Strandfontein en die voetpad soontoe is nie strandlangs nie, maar bo-op hoë kranse.

Hoe nou? Ja, dié wit kranse - 'n ongewone verskynsel aan die meestal plat Weskus - strek van Doringbaai tot anderkant Strandfontein.

Die roete loop hoog bo-op kranse tussen melkbosse, plakkies en goudgeel pietsnotte deur.

Ek neem foto's van glinsterende spinnerakke en 'n skilpadgeraamte tussen die bossies.

Met tye stap ons verby groot erosieletsels in die landskap. Ander kere is die rantjie so naby dat ek nie oor die afgrond durf loer nie.

Hoewel ek op Vredenburg, 'n ent verder suid aan die Weskus, grootgeword het, was ek salig onbewus van dié kranse.

Dit voel asof ek 'n verlore stukkie van my Weskus-legkaart opgespoor het en stadig maar seker 'n beter geheelbeeld van die kuslyn voltooi.

Van Doringbaai loop die laaste ent na Strandfontein langs hoë kranse oortrek met fynbos en vetplante.
Van Doringbaai loop die laaste ent na Strandfontein langs hoë kranse oortrek met fynbos en vetplante.

Op die harde oppervlak vorder ons vinnig en ná twee en 'n halfuur kom Strandfontein se huise in sig. In 'n klein baaitjie net voor die dorp wag Anette ons vir oulaas in.

"Julle het as vreemdelinge uit alle rigtings bymekaargekom, maar vandag vertrek julle as vriende. Dis vir ons die heel grootste pluimpie by Silent Steps," bedank Anette die groep.

Op pad huis toe dink ek weer aan haar woorde.

Die Weskus voel soos 'n ou vriend. Een wat vol nukke kan wees op 'n slegte dag, maar jou met sy nederige opregtheid verfris op 'n goeie dag.

En met hierdie besoek het my ou vriend 'n paar nuwe geheime gedeel.

Wat sê die mense?

Hermien Prinsloo, Midstream

Op ander staproetes waarop ek al was, sien 'n mens dalk meer, maar hier maak jy jou kop heeltemal skoon. Die natuur lyk leeg, maar tog sê dit baie. Op hierdie ooptes pak jou siel uit.

Sanet de Beer, Adelaide

Ek het tydens die staptog verjaar. My gunsteling-oomblik was toe ek met 'n koek langs die see verras is. So saam met die mooi, die stilte en die mense was dit 'n spesiale ervaring.

Anton Koch, Durbanville

Ek was eers skepties oor dié staptog, maar dis deur en deur die moeite werd! Die roete oor vier dae het elke keer iets anders opgelewer. Ek sal dit beslis weer doen.

Weet voor jy waai

Hoe lank stap ek? Die Shoreline of the San is 'n vyfdagroete (50 km) wat op Elandsbaai begin en op Strandfontein eindig. Jy los jou voertuig op Elandsbaai - 'n minibus bring julle terug op die laaste dag (jy stap nie op die eerste dag nie). Die langste stapdag is 17km en jy stap tussen twee en vyf ure elk dag.

Waar slaap ek? Op gasteplase en -huise op Elandsbaai, Lambertsbaai en Doringbaai.

Hoe fiks moet ek wees? Jy hoef nie 'n gesoute stapper te wees nie. Jy stap teen jou eie pas en as jy nie kans sien vir verder stap nie, is daar ontsnaproetes.

Kan ek in my Crocs stap? 'n Mens moet liefs in 'n paar gemaklike tekkies loop, maar swaar stapstewels is onnodig. Dik sokkies wat jou voete droog hou, word ook aanbeveel.

Wat moet ek saamdra? Jy dra net 'n dagsak met water en snoepgoed.

Hoeveel kos dit? Vanaf R9 400 p.p. wat deel, R11 800 vir enkelpersone. Die prys sluit alle etes, blyplek, uitstappies en vervoer in.

Kontak 082 903 5445; silentsteps.co.za

SPELETJIES VANDAG

CTA