Stap saam: Madonna-en-kind-roete, Hogsback

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Houtbruggies met trappe help die bobene op steiler dele.
Houtbruggies met trappe help die bobene op steiler dele.

Al is 'n mens 'n bedrewe stapper, bly dit 'n onaangename gevoel as die roete op die papierkaart in jou hand en die paadjie voor jou nie ooreenstem nie. Des nog te meer as donker wolke begin saampak...

Dís die situasie waarin ek en my gesin ons bevind in 'n woud op Hogsback op pad na die Madonna-en-kind-waterval. Watter van die drie afdraaie is die regte een? Gaan die reën opklaar soos die Noorweegse weer-app YR belowe het?

Ná 'n halwe kilometer se stap was hier nog nie veel aanduidings dat ons op die regte roete is nie. Ons het wel ene Nomthunzi se waterval wat nié op die kaart aangedui word nie, aangedoen.

Ek moes maar net kalm gebly het, want etlike minute later gewaar ek 'n bordjie met 'n bloedrooi vlakvark wat die res van die roete saam met ons stap. Jy besef gou jy hoef eintlik nêrens in dié woud bekommerd te wees nie, want al die paadjies dop uiteindelik op die Wolfridgepad of Hoofstraat uit.

Dis nou nie 'n hoofstraat met 'n kerk, winkel, koöperasie en 'n paar woonhuise soos op die meeste plattelandse dorpies nie. Hogsback se Hoofstraat is 'n grondpad vol slaggate wat verby 'n SaveMor Spar, 'n kannabidiol-winkel, 'n chocolaterie en toeristekantoor loop.

Die res van die dorpie lê versteek aan die einde van kronkelpaadjies agter hoë bome en digte struike - die dorp is eintlik 'n versameling plotte styf teenaan 'n eskarp hoog bo in die Amatolaberg.

Die uitdaging vir stappers is dat hier nie net een of twee roetes is nie, maar 'n stuk of 20 moontlike roetes. Hier's allerlei belangepunte, insluitend vyf watervalle, die Groot Boom, die Arboretum en 'n eko-tempel.

Die punte word verbind met 'n netwerk paadjies deur die eeue-oue bergwoud wat die dorp omring.

Madonna-en-kind-waterval.
Madonna-en-kind-waterval.

Jy kan dus kies of jy bloot sowat 2 km uit en tuis na die Madonna-en-kind- en Bridal Veil-waterval wil stap of 'n sirkelroete van sowat 10 km na ál vyf watervalle toe. Op 'n koue wintermiddag in Junie het ons gesin besluit op 'n sirkelroete van sowat 6 km wat die Swallowtail-, Bridal Veil- en Madonna-en-kind-waterval insluit.

Die varkies daal nou redelik skerp af tot onder in die kloof by die Swallowtail-waterval. Die waterval is glo na die Swallowtail-vlinder genoem, maar vandag lyk die twee dun wit slierte meer na die stert van 'n koningrooibekkie.

Swallowtail-waterval
Swallowtail-waterval

Anderkant die waterval raak die woud se blaredak só dig dat die Wikiloc-app nie meer die roete kan volg nie! 'n Mens daal al hoe dieper in die kloof af.

Die rooi vlakvarke lei jou verby omgevalle boomstompe oortrek met sagte groen mos, oor houtbruggies en talle strome wat voortsnel na die Tyumerivier- en -dam onder in die vallei. Skielik is daar 'n geritsel in die boomtoppe...Ha!

Dis 'n samango-apie. Die apies is tans as kwesbaar gelys op die rooidatalys.

Hulle kom net in enkele woude in Suid-Afrika voor onder meer Magoebaskloof, Mariepskop, St. Lucia en hier. Teen dié tyd het jy seker ook al die groenerige voëls gewaar wat hoog bo in die bome sit en skel. Dis woudpapegaaie.

Die skaars geveerdes is die enigste papegaaispesie eie aan Suid-Afrika. En Hogsback se bergwoude is een van die min plekke waar die voëls, waarvan daar net sowat 2 000 oor is, hou.

Rooi varkies dui die roete aan.
Rooi varkies dui die roete aan.

Bo die blaredak stuif die reën neer, maar hier onder op die woudvloer voel 'n mens geborge. Net nou en dan kry 'n druppel dit reg om deur talle blaartjies en takkies tot op jou kop te plop! In sulke boomryke klowe, die diep voue van moederaarde, voel 'n mens veilig.

Ná twee kilometer begin die paadjie afplat totdat jy op 'n breë blaretapyt deur die bos stap. Dit begin weer reën.

Ons maak 'n gesamentlike besluit om die Bridal Veil-waterval oor te slaan, want daar lê later nog 2 km op 'n grondpad, sonder die beskutting van die bos, se terugstap na die bakkie voor.

Anderkant die afdraai na Bridal Veil toe, begin klim die roete op 'n reeks houtbruggies tussendeur onder meer witysterhout- en wildepruimbome. Vir 'n jakkalsvoël doer bo in vlug lyk ons seker soos dassies wat stelselmatig uit die kloof tot teen 'n rotswand klim.

In 'n effense oopte stulp 'n dagsoom teen die donker rotswand uit met spierwit strome rondom: die Madonna-en-kind-waterval.

In die poel onder die waterval het iemand op 'n rots twee beskermende hande met 'n kindjie in die middel gegraveer. Hier's ook oorblyfsels van gesmelte kerse. Dit was juis gister volmaan...

Van die waterval af volg jy weer 'n stel steil houtbruggies tot bo-op die platorand waar die paadjie by die Wolfridgepad aansluit. 'n Paar mense sit onder 'n boom by 'n vuurtjie.

Dis koud maar die son skyn helder. Ek kan nie wag om môre weer 'n ander varkie woud-in te volg nie.

Die Wolfridge-grondpad lei jou terug na Hogsback toe.
Die Wolfridge-grondpad lei jou terug na Hogsback toe.

Waar? Die sirkelroete begin langs die Wolfridgegrondpad. Dis die pad wat verby die Hogsback Inn loop. Ry verby die hotel totdat jy 'n parkeerplek aan jou linkerkant sien. Die roete begin aan die oorkant van die pad langs die Hunterstoun-sentrum se perseel. Kyk uit vir die Swallowtail-bordjie.

Hoe ver? Dis 'n sirkelroete van sowat 6 km. Jy kan afdraai na die Big Tree en Bridal Falls toe - dan is die totale afstand sowat 7 km.

Koste Gratis, maar kry 'n kaart by die toerismekantoor in Hoofstraat vir R20. Die geld word gebruik om die roetes te onderhou. Gaan na visithogsback.co.za.

SPELETJIES VANDAG

CTA