Borneo se Gomantong-grot: Dié voëlkyk-hemel is vol Oscar-oomblikke

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Verbeel jou: dis anderkant 40°C en die humiditeit 100% vet druppels. Jy stap iewers in 'n reënwoud op die eiland Borneo met 'n heldergeel plastiekveiligheidshelm op jou kop.

In 2024 is 'n toeris oorlede toe 'n tak op hom geval het. Nou is dit veiligheid eerste en oral is waarskuwings wat lees "pasop vir vallende takke". Okei, okei, ek dik 'n bietjie aan.

Dié valhelm is eintlik vir die finale bestemming: die Gomantong-grot. Ek, my vrou, Ronél, en twee Franse twenty-somethings is op pad na die grot in die staat Sabah, wat deel is van Maleisië, in die noorde van Borneo.

In die reënwoud op pad na die grot.
In die reënwoud op pad na die grot.

Gomantong word beskou as een van die wêreld se top-100 voëlkykbestemmings en al lank op my wenslys. Die grot se bek lyk nie besonders indrukwekkend nie, buiten 'n jong kuifkopslangarend wat waghou.

Maar as jy eers die donkerte betree, is dit asof jy in 'n katedraal staan. Dit voel heilig - vir millennia huisves hierdie grot die grootste kolonies van drie baie spesiale windswaelspesies. 'n Kakofonie oorweldig jou.

Dis so raserig dat jy moet skree om te kommunikeer. Die geluid is die eggolokasieklieks van honderde duisende swaeltjies. Ja, dis reg: eggolokasie, net soos vlermuise.

Dis haas onmoontlik om die drie spesies te onderskei op hoe hulle lyk. Die beste manier is om na hulle nessies te kyk. Dis waar hulle name vandaan kom: mosnes-, swartnes- en witneswindswael. Laasgenoemde is verantwoordelik vir die tuisgemaakte stellasies, lere en toue wat tot doer bo teen die dak van grot strek.

Die nessies is wit omdat die voëltjies dit met hulle speeksel maak. Die nessies word jaarliks geoes vir China se onversadigbare aptyt vir voëlnessop. Soveel so dat dié klein halfmaanvormige nessies een van die waardevolste biologiese materiale is, ten minste R40000/kg!

Te danke aan die teleskoop en kopliggies sien ons darem al drie spesies wat styf aan hulle nessies vasklou.

Maar behalwe vir die swaeltjies en vlermuise teen die dak van die grot is hier 'n hele ekosisteem rondom jou voete. Krappe, slange en meer kokkerotte as in enige openbare badkamer - ek skat sowat 50/m2! 'n Mens probeer hulle mistrap, maar so elke nou en dan hoor jy 'n aaklige knarsgeluid.

Die Franse meisie is nie beïndruk met die plaag insekte nie, en toe die eerste grothonderdpoot sy verskyning maak... is mademoiselle skoonveld. Dis 'n grieselrige gedierte so groot soos jou hand en lyk soos 'n kruising tussen 'n spinnekop en iets uit die buitenste ruim.

Ons volg die loopplank deur die enorme grot. Maar ek vergaap my so aan die wêreld bo my dat ek nie ordentlik onder my kyk nie.

Ek trap 'n plank af en in 'n oogwink staan ek binne in die stink guano. Ek voel effens paniekerig, want ek is nie seker hoe diep ek gaan insink nie: knieë, halflyf, kop onder? Dis genadiglik net tot by my enkels. Ek voel wel jammer vir my tekkies, en die mense wat saam my in die bussie moet terugry.

Ek sou nog ure in die donker wou rondhang, maar ons het 'n ander afspraak - die klim na die boonste uitkykplatform.

Dit verg net 520 trappe om daar uit te kom!

Die bruinbosuil woon ook hier.
Die bruinbosuil woon ook hier. (Keith Barnes)

Teen die tyd dat ons uitasem bo staan, tap die sweet ons behoorlik af. Die Franse sit natuurlik lankal en wag. Maar hulle het darem ook so 'n effense sweetskynseltjie oor hulle delikate neusbruggies.

Nou is dit die groot wag. Dis amper skemer en tyd vir die twee skofte om te ruil: die swaeltjies kom terug grot toe om te slaap, en die vlermuise kom uit om te jag.

'n Miljoen lyfies wat moet plekke ruil en die plaaslike roofvoëls wag saam: vlermuisvalke, swerfvalke en Wallace se jagarende. Daar is nog ander voëlkykers wat die trappe oorleef het.

Ek leen my teleskoop vir 'n egpaar van Indië om 'n renosterneushoringvoël ver onder in die woud te bekyk, en raak aan die gesels met 'n ou van Switserland wat sy Ph.D. in Bloemfontein voltooi het.

'n Simfonie van voëlsang weerklink terwyl die son sak: die skril geskreeu van 'n swart- en geelbreëbek; die spookagtige fluit van 'n swartkroonpitta; die opgewonde note van 'n perskoekoek; en selfs die gepiep van 'n bruinbosuil wat vroeg uit die vere is.

Ons wag en wag, maar die vlermuise maak nie hulle verskyning nie. Die gidse verduidelik dat die diertjies soms by 'n kleiner tonnel aan die ander kant van die berg uitstroom - die geluk was nie vanaand aan my kant nie.

Ek sal maar weer moet kom kyk op 'n volgende geleentheid.

Hoe lyk'it? Kom jy saam? Onthou net jou valhelm!

Faansie Peacock

SPELETJIES VANDAG

CTA