Ná die skoolvakansie is die strande nou weer 'n bietjie stiller. Jy kies 'n perfekte kolletjie om jou strandsambreel te plant, gooi jou handdoek oop en kry behaaglik jou lê...
Net om byna oombliklik deur 'n fluitjiebek versteur te word. Jy stut jouself op jou elmboë en kyk rond.
Waar kom die skrille klank vandaan? Dan sien jy hom: 'n Gitswart voël met 'n helderrooi snawel. Die swarttobie. Dié voëls se lawaai raak veral intens wanneer 'n dispuut oor gebied besleg moet word. Dan staan 'n bondeltjie van hulle in 'n halfmaan, laat sak hulle koppe en gil in mekaar se ore.
Studies van gemerkte voëls het bewys dat 'n swarttobie tot 20 jaar sy stukkie strand bewoon. En kom ons wees eerlik: Hulle was lank voor jou en jou sonsambreel daar. Sy Engelse naam is die oystercatcher, want, wel, hy leef van oesters en ander weekdiere.
Het jy al ooit 'n klipmossel van 'n rots probeer aftrek? Dis 'n bykans onbegonne taak! Maar die swarttobie gee bloot die agterkant van dié skulp 'n harde hou met sy snawel.
Tobies slaan op mossels toe wanneer hulle onderwater is met die skulpe ietwat oop sodat die mossel plankton wat deur hom spoel, met sy filter kan opvang.
Tobie wriemel die skerp punt van sy snawel tussen die skulpe in en knip dan die sterk spier af. Hy sal ook soms 'n mosselskulp herhaaldelik op 'n harde oppervlak kap, en as dít nie werk nie, vlieg hy met die mossel in die lug op en laat dit op 'n rots val totdat dit oopbreek. Dis maklik om 'n swarttobie se dieet te bestudeer.

Wanneer 'n broeipaar hulle kuikens voer, beland die oopgebreekte reste van die weekdiere wat hulle nes toe aandra op 'n skulphoop daar naby. Ontledings van sulke hope het gedui dat swarttobies tot 50 verskillende spesies vreet, insluitend 31 soorte weekdiere.
Wat hulle vreet en hoe hulle dit in die hande kry, word bepaal deur die seisoen, gety, tyd van die dag en die voël se ouderdom en geslag. Die wyfie se snawel is langer en skerper.
Dit stel haar in staat om ander soorte prooi by te kom en dus hoef 'n broeipaar nie om kos te wedywer nie. En kyk mooi, die wyfie se oog het eienaardige swart vlekke op die iris reg langs die pupil.
Vir ons topswaar primate met twee voete is dit moeilik om oor gladde seewieroortrekte rotse te beweeg. Maar tobies klim en draf danksy hulle stewige pote, robuuste tone en kort naels heel behendig oor dié verraderlike terrein.
As die nood druk, kan hulle selfs met hulle gedeeltelik gewebde pote swem, maar dít doen hulle selde. Die kuikens duik wel soms onder die water in om te verhoed dat 'n roofvoël hulle vang. Net soos by ander waadvoëls is die donskuikens vroegselfstandig en net deels afhanklik van hulle ouers.
En omdat die swarttobie 'n spesialisdieet volg, is dit veral vir kosinsameling wat hulle op Ma en Pa se vernuf staatmaak. Die meeste kuikens word vir die eerste twee of drie maande gevoer, maar soms sal 'n luiaard selfs vir solank as nege maande aanhou bedel!
Sulke uitgerekte versorging vind hoofsaaklik plaas wanneer die spruite nog nie die nodige vaar-dighede aangeleer het om 'n klipharde skulp oop te kry nie. (Interessant genoeg leef die skaars bonttobie meestal van wurms, en sy kuikens verlaat die ouers ná skaars 'n paar weke.)

Wanneer 'n jongeling die nes verlaat, neem hy eers 'n gap year. Sowat 65% van Suid-Afrika se swarttobies vlieg 1 600 km noord tot by die sentrale gedeelte van Namibië se kus, waar hulle dan in vyf "kleuterskole" saamtrek.
Slegs 'n handjievol trek ooswaarts - jy sal nie sommer 'n swarttobie langs KwaZulu-Natal se kuslyn gewaar nie. Die swarttobie was in 'n stadium in groot moeilikheid.
Hulle gemiddelde broeikoers is 0,3 tot 0,6 kuikens per paar per jaar. Eenjariges het 'n oorlewingskoers van slegs 20%. Maar volwasse voëls oorleef aansienlik makliker en kan selfs ouer as 30 jaar word.
Dit moet die sonskyn en vars lug wees... Maar die onwikkeling van kusgebiede, lastige honde, besoedeling, rooigety en voëlcholera bly voordurende bedreigings. Toe voertuie vroeër jare nog op strande toegelaat is, het dié voëls ook behoorlik deurgeloop.
'n Toevallige gelukkie sorg dat die tobie deesdae floreer. Sedert die Mediterreense indringermossel hier by ons aangetref word, het die plaaslike tobie-bevolking met 150% toegeneem. (Maar dit het natuurlik ook nadelige gevolge vir die ekologie.)
Ek is nie seker waar die mooi Afrikaanse naam vandaan kom nie, maar vermoed dit is dalk 'n klank-nabootsing van die voël se skrille fluitklank.
Of het William Shakespeare eendag iewers op 'n strand gelê en wonder wie dié klankie maak: "Tobie, or not tobie, that is the question."















