Anke-Marie Heymans (33), dieetkundige, Potchefstroom

Vele terugslae het haar geleer haar land en haar mense is goud werd, sy bly nét hier. Dis ook hoekom dié vasbyter, ’n ‘jong Wilma van der Bijl’, weer ingeskryf het vir Voorbladgesig
Hoekom wil jy so graag SARIE Voorbladgesig wees?
Ek het seker al agt keer ingeskryf, ek’s nie eens seker nie! My pa, Piet Bronkhorst, ’n boer, het altyd gesê ek’s ’n vasbyter. Ek glo elke vrou dra ’n storie van krag, sagtheid en lig in haar.
Ek skryf in vir my broer, ma en dogtertjies. My boetie, Pietie, is in 2013 op 36 in ’n veldbrand in die Oos-Kaap dood. My ma, Debbie, het soveel tyd in my ingeploeg. Sy het ’n gewilde boetiek, Kimi Clothing, op Potchefstroom.
My kleintjies, Melinke Debbie (6) en Carmi Louche (4), het die SARIE waarin ek as een van die 35 semifinaliste verskyn het, skool toe geneem, baie chuffed.
Hoe het jy die fotosessie ervaar?
Ek wens ek kon almal se vaardighede in my tas pak. Algria Ferreira, die grimeerkunstenaar, reken ek lyk soos ’n jong Wilma van der Bijl [Mej. SA in 1987].
Ek het bitter mooi gevoel. Die klere, die grimering, áls was wonderlik.
Hoe lees jy jou SARIE?
Ek lees SARIE op Netwerk24, maar koop dit ook soms. Toe ek op skool was, het my ma altyd die SARIE en my pa Landbouweekblad en Rapport gekoop.
Definisie van skoonheid?
My ma het altyd gesê skoonheid vergaan, maar deug bly staan. As jy gesond is, straal dit na buite uit. Dit gaan nie soseer oor jou wangbene, mooi bene of die vorm van jou oë nie. As jou liggaam gifstowwe uitskei, sal jou gewig onder beheer wees, as jou hormone werk, is jou vel mooi . . .
Grootste uitdaging?
Tydens Covid, toe ek swanger was met ons tweede kind, is aggressiewe breinkanker by my man, Malem, gediagnoseer. Ons eersteling was maar agtien maande oud.
Weens die pandemie kon ons mekaar lang rukke nie sien nie. Hy is geïsoleer in die hospitaal. Ná bestraling het hy vyftien kilogram verloor. Hy is ’n lopende wonderwerk.
Ná my keisersnee het ek sepsis ontwikkel. Ek is vier keer geopereer. Twee jaar lank was ons om die beurt in die hospitaal.
Danksy vriende, familie en gebede is ons daardeur.

Suid-Afrika en Afrikaans?
Afrikaanse musiek op Apple Music, en konserte soos Krone en Afrikaans is Groot kry regmerkies. Ek meng my taal soms, maar Afrikaans is my hartstaal.
Ek en Malem, ’n ingenieur, het al aanbiedings gekry om oorsee te gaan werk. Toe ons tydens Covid weens ons siektes so gereeld in die hospitaal was, het ons besef ons ondersteuningsnetwerk is goud werd.
Gunsteling-dinge
Parfuum Elie Saab se In White Ikone Prinses Di, Rolene Strauss Blom Magrietjie Oefenprogram Elektriese spierstimulasie (EMS)
Cara Vosloo (16), graad 10-leerder, Somerset West Learning Centre

Sy’t ’n hart vir die planeet en sal vreesloos opstaan vir die underdog. Maar sy is ook nie bang om te skitter nie! Cara het nie brieke nie.
Hoekom wil jy op SARIE se voorblad wees?
Nes SARIE, het ek nie brieke nie. Ek’s nuuskierig. Van kleins af droom ek van modelwees. Verlede jaar het ek ’n modelkursus gedoen en dit het my selfvertroue gegee.
’n Vriendin van my ma het my aangemoedig om in te skryf. Toe begin ek ou SARIES bestudeer. En wát ’n voorreg om een van die finaliste te wees.
Ek het geleer ek is selfstandig, gedissiplineerd en onafhanklik en kan stres redelik goed hanteer. My ouma Ina Lourens, ’n SARIE-geesdriftige, sal juig as ek op die voorblad is.
Wat dink jy is Gen Z se sterk punte?
Ons aanpasbaarheid en dat ons vreesloos opstaan vir onsself én die underdog. Ons glo aan volhoubaarheid en koop tweedehandse klere want ons besef die omgewing is belangrik.
Ons is sensitief oor rassisme en het empatie vir mense wat nie noodwendig in die hoofstroom is nie.

Grootste uitdaging vir jongmense?
Selfbeeld. Leer jouself waardeer, hou op om jouself met ander te vergelyk. Sosiale media plaas soveel druk op tieners.
Hoe hanteer jy konflik?
Praat eerlik, maar redelik en ordentlik. Die einddoel is probleemoplossing.
Jy stel belang in aktuele sake en die politiek?
Ja, maar ek’s versigtig vir vals nuus wat dikwels deur sosiale media versprei word. Ek volg eerder betroubare nuuskanale.
Die rol van jou gesin in jou lewe?
My ma, Elana Lourens, en pa, Robert Vosloo, is geskei toe ek een jaar oud was. My halfsussie, Robin (25), is ’n grimeerkunstenaar. Danksy haar en my ma (’n modeontwerper) is ek altyd aan modes, skoonheid en tydskrifte blootgestel.
My pa is weer getroud en ek en my stiefsussie, Milla van der Merwe (22), kom ook goed oor die weg.
My ma het my geleer hoe om myself goed te versorg en stiptelik, kalm en georganiseerd te wees. My pa het my onafhanklikheid en selfvertroue geleer.
Het jy ’n kêrel?
Ja, ek hou van sy sterk persoonlikheid, soos myne. Hy’s aantreklik, my beste vriend, soms laf, soms ernstig en ons is gemaklik by mekaar.

Gunsteling- Afrikaanse woord?
Skitter. Ek geniet Afrikaanse grappe en die taal val maklik op die tong. Ek moes lag oor die aktrise Charlize Theron se stelling dat daar omtrent net vyf mense is wat Afrikaanse praat . . . Afrikaans is ’n pragtige taal. Solank ons dit praat, sal dit voortbestaan.
Gunsteling-dinge
Sjokolade of roomys Roomys FliekThe Devil Wears PradaHoë of lae hakke Hoog Boek of Kindle Kindle Rok of jeans Rok
Nikki Meyer-Kapp (43), fotograaf van Stellenbosch

Ma-wees is ’n voorreg, maar soms hou sy nét kop bo water, erken die ma van vier. Met dieselfde eerlikheid vertel sy hoe sy angs en depressie bestuur in ‘’n harde wêreld’
Hoekom fassineer voorblaaie jou al sedert studentedae?
Toe ek grafiese ontwerp aan die Universiteit Stellenbosch studeer het, het ek in my finale jaar navorsing oor Afrikanervroue se identiteit van 1930 tot 2000 gedoen deur vrouetydskrifte soos SARIE te ontleed.
Ek’t gewonder watter tipe gesig vorm ’n band met die leser. As fotograaf wil ek mense gemáklik laat voel.
Vanjaar was my tweede probeerslag vir die wedstryd. Ek wou van die daaglikse sleur ontsnap, myself uitdaag. Die proses was ongelooflik bemagtigend. Om deur te dring tot die laaste ronde is spesiaal en opwindend vir ’n kreatiewe siel.

Ma-wees is uitdagend, nè?
Dis ’n voorreg, maar soms hou ek nét kop bo water. My man, Kappie, ’n bedryfsingenieur, help baie met Johnny (11), Nia (9), Olivia (7) en Ameri (3). Om my werk, finansies en ma-pligte te balanseer verg fyntrap. Gelukkig is my ouers, Louis en Martie Meyer, ook steunpilare. Sonder Melissa September, ons huishulp, sal ek sukkel.
Hoe bly jy kalm?
Ek sukkel om af te skakel en angs teister my. As ek stres, probeer ek diep asemhaal, of ek word stil in die natuur. Spirituele podsendings en positiewe mense wat fokus op die mooi in die lewe, kalmeer my. Saans drup ek kalmerende laventelolie op my kussing.
Ek raak soms neerslagtig en besoek ’n sielkundige. Die wêreld is ’n harde plek. Die woede en pyn óm mens kan verlammend wees. Maar ek besef ek kan nie die lot van die honger kinders in Gasa verbeter of die verwaarloosde honde langs die pad red nie. Jy kan slegs help in jou klein kring.
Dit help om met vertrouelinge te praat oor my emosies.

Sosiale media en jy?
As dit nie vir my besigheid was nie, sou ek dit kon laat staan. Maar ek benodig dit vir bemarking en my netwerk.
Verlede jaar is van my sosialemedia-profiele gekaap. Ek’t al my kontakte en plasings verloor. Dit was ’n geweldige verlies vir my besigheid en het my amper geknak. Dit het ’n paar maande geneem om weer op die been te kom, maar jy kan óf wrokkig wees óf ’n kognitiewe besluit neem en weer vorentoe kyk.
Angstig oor SA se toekoms?
Ons wil hier bly. Ek’s versot op die sport-vibes, Suid-Afrikaners se humor en Afrikaans. Die blomme, dierelewe, strande, mense, die mooi kleure in die natuur – wáár gaan ek dít kry? Ons leer ons kinders veerkragtigheid.
Gunsteling-dinge
Leesstof SARIE/Netwerk24 en SARIE WOON Parfuum Elizabeth Arden se Green Tea Afrikaanse musiek Die Heuwels Fantasties
Jacinda Louw-Schutte (44), entrepreneur, Johannesburg

Dié toegewyde ma het onlangs ’n nuwe hoofstuk begin. Sy doen weer modelwerk, maak kostuums vir top-balletproduksies. Kalm en koelkop, net soos in haar Survivor-dae!
Jou motivering om in te skryf?
Ek’t my lewe gewy aan my twee dogters, Scarlett (17) en Sienna (15), albei begaafde ballerinas. Sienna het die afgelope twee jaar aan die Paris Opéra se Somer-balletskool deelgeneem en Scarlett was in 2023 by ’n Somerprogram van die Orlando Ballet in Amerika.
Ma-wees is soms ondankbaar. Ek het ná sowat agt jaar weer modelwerk begin doen. Ek was effe benoud, want jy lyk nie meer soos vroeër nie, maar toe lyk die foto’s goed en ek skryf in!
Ek wou myself opnuut uitdaag en is opgewonde oor die nuwe hoofstuk in my lewe.

Geniet jy jou nuwe besigheid?
Ek kon nooit klere maak nie, maar was nie te gelukkig met my dogters se kostuums nie. Sowat drie jaar gelede het ek self kostuums vir Sienna begin maak.
Eers ’n jaar gelede was ek gereed om ook vir kliënte te maak. Dit moes perfek wees. Onlangs het ek vyftien rokke en agt manshemde vir Cape Ballet Africa gemaak. Dit was vir Allegro Brillante, met choreografie deur George Balanchine.
Ek gaan weer help met kostuums vir Giselle. Ek stel belang in balletgeskiedenis en ken die repertoires, so dit help.
Hoe hanteer jy uitdagings?
Kalm en koelkop. Ek fokus op elke dag se emosies. Dit was ook my strategie in die eerste Survivor SA in 2006 in Panama, waarin ek naaswenner was.
Definisie van skoonheid?
Energie. Meryl Streep straal dit uit as sy in ’n vertrek instap. Dís wat ek my girls leer. Om onapologeties hulself te wees.
Wat is jou gevoel oor skoonheidswedstryde?
My dogters neem nie daaraan deelnie, maar ek het op skool skoonheidswedstryde gewen. My kinders kan eendag deelneem as hulle wil. Dit is tog ’n groeiproses en maak ’n mens emosioneel sterker.
Suksesresep vir jou huwelik?
Hansie, ’n advokaat, is amper 60 maar het ’n jong siel. Hy is kalm, ’n familieman, ’n goeie geselser en baie snaaks. Ons werk goed saam.

Kantelpunt in jou lewe?
My broer Jaco is in 2001, op 21, aan ’n oordosis kokaïen dood, terwyl my pa, Chinks (54), besig was om aan lewerkanker te sterf. Hy en my ma, Jackie, was gebroke.
Die tragedie het my hard gemaak. Ek praat openlik met my dogters oor die gevare van dwelms. Ná Jaco se dood het ek my blonde hare bruin gekleur, ’n hipnoterapeut besoek en die trauma probeer verwerk met kreatiewe visualisering.
Gunsteling-dinge
Boek of Kindle Boek Kleur Persblou Parfuum Coco Mademoiselle van Chanel Fliekgenre Misdaadrillers Drankie Groentee
Karin Melvill (58), tuisteskepper van Mosselbaai

Ná haar egskeiding het sy vroualleen geboer, maar ook geweet daar is altyd hoop. Nou geniet sy ’n vol lewe op ’n kusdorp, met ’n nuwe liefde aan haar sy, en kyk vorentoe.
Jy was al ’n skoonheidskoningin, hoekom juis SARIE Voorbladgesig?
Dis heeltemal anders as om Skoukoningin van bv. Steytlerville en Graaff-Reinet of Mejj. Tegniese Kollege en Tygermed te wees.
Wat ’n voorreg om deur ’n topspan bederf te word, deur ’n topfotograaf gefotografeer te word, SARIE se redakteur te ontmoet en gratis skoonheidsbehandelings te ontvang.
Bring die ouderdom selfvertroue?
Dit bring meer kalmte omdat jy baie dinge moes oorwin. Ek is in 2016 ná dertig jaar geskei en moes vroualleen boer by Steytlerville met my 400 skape. Dit was droogte, maar daar’s altyd hoop.
Ek’t ook my tweede man, Albert, ontmoet, met wie ek in 2018 getroud is. Ons kon gelukkig tydens Covid bly werk as versekeraars. Verlede jaar het ons die besigheid verkoop. Albert het my aangepor om in te skryf.
Ek was onseker, want ek het voorheen ingeskryf en die Top-35 gehaal, maar hier is ek nou! Dankbaar dat SARIE in elkeen van ons iets raakgesien het.

Werk jul saamgestelde gesin? My seuns, Gé en Tiaan, kom baie goed oor die weg met Albert se kinders, Shell en Jam. Dit help vir seker dat die kinders al ouer is.
En ek en Albert gesels ure aaneen, reis op agterpaaie op die platteland, braai, lees, speel tennis en gholf, fotografeer voëls in die tuin en bederf mekaar.
Jou gevoel oor Botox?
Dis oukei, solank dit natuurlik lyk.
Definisie van skoonheid?
Aanvaar jou gelaatstrekke en maak die beste daarvan.
Hoe hanteer jy “af” tye?
As ek eers in die tuin gewerskaf het, is my kop oop. Ek moes myself leer om negatiwiteit te blok en vorentoe te kyk, maar eintlik is ek gelykmatig, met min oppe en affe.
Glo jy Afrikaans het ’n toekoms?
Ja! Dis die taal van my en soveel mense se harte. Ons is gek na kykNET, veral die innemende Hannes van Wyk van Bravo!. Weg! is een van ons geliefde tydskrifte, naas SARIE. Ek wens Corlea en Rudi sing nog saam. Hulle het darem die mooiste Afrikaanse liedjies gesing.

Hoekom lees jy SARIE?
Dis stylvol en bied soveel vir elke vrou. Mis jy die Karoo? Die grond, die reuk van reën, die mense, selfs die droogte, dorperskape en boklammers, dis als spesiaal van my grootwordplek.
Maar die plaaslewe is hard. Ek het meer tyd vir myself op Mosselbaai, ek het lekker aangepas.
Gunsteling-dinge
Oefening Stap en Zumba Ekstrovert of introvert Introvert Parfuum Knowing van Estée Lauder Beste Afrikaanse woord Mooi
















