Slim wenke

Hoe en waar moet jy môre stem?

Suid-Afrikaners tydens stemdag. Foto: Getty Images
Suid-Afrikaners tydens stemdag. Foto: Getty Images

Maak heel eerste seker waar jy moet gaan stem.

Jy moet stem by die stemlokaal waar jy geregistreer is - en onthou: Dit is nie noodwendig die naaste lokaal aan jou nie.

Volgens Courtney Sampson, provinsiale verkiesingsbeampte van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), moes 'n paar stemlokale geskuif word.

"Ons doen ons bes om seker te maak dat mense elke keer op dieselfde plek stem. Dit is egter net in uitsonderlike omstandighede dat ons 'n stemlokaal moet skuif," sê hy in 'n verklaring.

Hoewel die OVK gereeld met die verskeie politiese partye vergader en hulle ingelig hou oor enige veranderinge, is dit kiesers se eie verantwoordelikheid om seker te maak hulle weet wel waar om hul kruisie te gaan trek.

Maak so seker:

  • SMS jou ID nommer na 32810. Jy sal 'n SMS kry wat jou laat weet waar jy geregistreer is om te stem (R1 per SMS).
  • Jy kan ook die verkiesings-app gebruik (soek vir "IEC South Africa" in jou app-winkel) of die OVK skakel by 0800-118-000.
  • Die inligting is ook op hul webtuiste beskikbaar.

Onthou:

  • Stemlokale open om 07:00 en sluit om 21:00.
  • Jy mag met jou groen ID-boekie, 'n nuwe slim-ID-kaart of 'n tydelike ID-sertifikaat stem.
  • 'n Paspoort of rybewys word nié toegelaat nie.
  • Geen foto's mag van die stemhokkie, jou stem of stembrief geneem word nie.
  • Daar is 48 politieke partye wat in alfabetiese volgorde op die nasionale stembrief verskyn.
  • Maak seker jou stembrief het 'n OVK-stempel asook die van die spesifieke stemstasie op, om sodoende vervalste stembriewe uit te skakel.
  • Merk 'n duidelike kruisie binne die blokkie van die politieke party vir wie jy wil stem. Dit mag nie oor die lyne gaan nie. Moenie kolletjies, kringetjies of enige ander boodskappe op die stembrief aanbring nie; so sal jou stem ongeldig verklaar word.
  • Siek, swanger, gestremde, verswakte en bejaarde kiesers wat nie vir 'n spesiale stem geregistreer het nie, mag voorkeur kry in die tou.
Joanie Bergh

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM