Februarie is bekend as gesonde-leefstyl-bewustheidsmaand, 'n tydige herinnering aan die belangrikheid om aktief te bly om chroniese siektes te voorkom en algehele welstand te verbeter.
Volgens die fakulteit gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad lei byna die helfte van Suid-Afrikaanse volwassenes 'n sittende lewenstyl - wat hul risiko vir toestande, soos hartsiektes, diabetes en vetsug aansienlik verhoog.
Wêreldwyd skat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) dat 1,8 miljard volwassenes nie aan die aanbevole 150 minute oefening per week voldoen nie.
Die risiko's strek ook na kinders.
Data van die Hart-en-beroertestigting van Suid-Afrika toon dat byna een uit elke vier kinders in die land oorgewig of vetsugtig is, met onaktiwiteit wat 'n sleutelbydraer is.
Volgens Nicole Jennings, woordvoerder van Pharma Dynamics, bied die begin van die jaar die perfekte geleentheid om ongesonde gewoontes af te skaf, veral aangesien sittende leefstyle steeds 'n wesenlike bedreiging vir gesondheid inhou.
"Fisiese onaktiwiteit is een van die voorste bydraers tot leefstylsiektes soos vetsug, diabetes, hartsiektes, asook geestesgesondheidskwessies," sê Jennings. "Gesonde-leefstyl-bewusmakingsmaand herinner ons aan die belangrikheid van voorkoming, wat begin met gereelde oefening en 'n verbintenis tot beter gesondheidsgewoontes."
Die voordele van oefening strek veel verder as gewigsbestuur.
"Daar is bewys dat dit die risiko van baie leeftylsiektes verlaag, stres en angs verminder, kognitiewe gesondheid verbeter en jou slaap verbeter," sê Jennings.
In 'n studie wat in die Journal of the American Medical Association (Jama) gepubliseer is, is bevind dat matige oefening, soos om daagliks 30 minute lank te stap, die risiko van mortaliteit met 27% verminder en 'n meta-analise in Jama Psychiatry toon dat fisieke aktiwiteit die risiko om depressie te ontwikkel met 17% verlaag.
"Begin teen 'n hanteerbare pas en verhoog jou aktiwiteitsvlak geleidelik," beveel Jennings aan. "Oefening hoef nie intimiderend te wees nie; selfs klein pogings maak 'n groot verskil."
Riglyne
Die WGO se riglyne beveel aan:
- Volwassenes: Minstens 150 to 300 minute van matige intensiteit aërobiese aktiwiteit of 75 tot 150 minute van kragtige intensiteit aërobiese aktiwiteit weekliks.
- Kinders en adolessente (vyf tot 17 jaar): Minstens 60 minute van matige tot kragtige fisieke aktiwiteit daagliks.
Aanbevole tipes oefening sluit in:
1. Aërobiese aktiwiteite: Stap, hardloop, swem of fietsry.
2. Kragoefening: Liggaamsgewigoefeninge (bv. hurke, opstote) of gewigsoefeninge twee keer per week om spiere op te bou.
3. Buigsaamheid en balans: Joga of strek om mobiliteit te verbeter en die risiko van val te verminder.



















