Genesende krag van musiek

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Musiek was nog altyd 'n integrale deel van die menslike kultuur, dit is alomteenwoordig en kom in verskillende vorme oor die wêreld heen voor. Maar het jy geweet dat musiek ook as 'n kragtige hulpmiddel vir genesing kan dien? Maricelle Botha het meer hieroor gaan vasstel.

Het jy al ooit in jou motor gery of in 'n winkel geloop en skielik 'n liedjie oor die radio gehoor wat jou aan 'n belangrike tyd in jou lewe herinner het?

Miskien het die musiek jou rustiger gemaak. Of gelukkig. Of selfs hartseer. Ons almal kan van die krag van musiek getuig.

Hoewel baie van ons steeds musiek hoofsaaklik as vermaak beskou, word daar reeds in historiese geskrifte soos dié van Aristoteles en Plato na die invloed van musiek op gedrag en gesondheid verwys. Ons weet ook dat musiek 'n groot genesende rol gespeel het in talle antieke kulture, veral in die vorm van tromme, fluite en psalmodie.

In die Weste is die eerste belangstelling in musiek se genesende waarde ná die Eerste en Tweede Wêreldoorloë geprikkel toe 'n verskeidenheid musikante militêre veterane in hospitale oor Amerika heen besoek het. Die duisende veterane - wat aan trauma gely het - het noemenswaardige fisieke en emosionele reaksies op die musiek getoon en gevolglik het die medici die aanstelling van musikante by die hospitale versoek.

Dit was egter gou duidelik dat die hospitaalmusikante opleiding nodig gehad het om by die geriewe te kon optree en dit het gelei tot die begin van musiek­terapie-onderrig. Sedertdien het die veld van musiekterapie aansienlik ontwikkel en vandag is dit 'n kliniese beroep gegrond op bewyse wat musiek binne 'n terapeutiese verhouding gebruik om fisieke, emosionele, kognitiewe en sosiale behoeftes aan te pak.

Mense en ritme

In Suid-Afrika is musiekterapie nog 'n relatief jong professie en die Universiteit van Pretoria was die eerste wat dit in 1999 as 'n nagraadse kursus begin aanbied het. Dit is ook die eerste musiekterapie-opleidingskursus in die land wat deur die Raad vir Gesondheidsberoepe (RGB) goedgekeur is. Musiekterapeute moet dus ook by die RGB geregistreer wees om te kan praktiseer.

Daar is tans slegs 53 geregistreerde terapeute in die land.

Maritsa Barlow, een van hierdie terapeute, werk in Bloemfontein. As jy haar vra hoe musiekterapie van kognitiewe gedragsterapie verskil, sê sy skertsend: "Dit is eenvoudig baie beter."

"Musiek het die potensiaal om sonder woorde met jou onderbewussyn te praat en ontlok dinge uit jou onderbewussyn wat praat en skryf nie noodwendig kan nie. Hier praat ek spesifiek van musiek sonder lirieke, waar woorde nie jou aandag kan aftrek nie."

Elkeen van ons is 'n musikale wese en klanke is reeds vandat ons in die baarmoeder is 'n vorm van kommunikasie, verduidelik Barlow. "Alles wat ons doen, het 'n ritme - dink maar aan stap of asemhaling."

Barlow maak gebruik van 'n gemengde benadering van ontvanklike en aktiewe musiekterapietegnieke. Dit beteken dat daar tydens 'n sessie na musiek geluister kan word, geskryf of ge­teken word, sowel as musiek gemaak word in die vorm van vrye improvisasie, liedjieskryf en liriekanalise. Sy fokus op klawerbord, djembe-tromme en verskeie perkussie-instrumente, asook asemhalingswerk en vokale psigoterapie.

Haar aanvanklike sessies dien as assessering van die kliënt of pasiënt om hul behoeftes en moontlike kliniese doelwitte vas te stel. Dan word een of meer spesifieke tegnieke wat toepaslik en voordelig is, gebruik.

Sy vertel 'n verhaal van 'n pasiënt wat palliatiewe sorg ontvang het wat van elkeen van haar geliefdes wou afskeid neem, maar dit baie moeilik gevind het om dit persoonlik te doen. Met die hulp van 'n musiekterapeut het sy vir elke geliefde 'n liedjie geskryf wat die musiekterapeut getoonset en vir haar laat opneem het. By haar afsterwe het elke mens wat sy persoonlik wou groet 'n laserskyf met sy of haar liedjie gekry.

Barlow vertel ook van 'n pa­siënt met demensie wat gevrees het dat sy haar geliefdes se name uiteindelik sou vergeet. "Ons het gaan sit en 'n liedjie geskryf waarin die persoon se familie se name vervat is. Elke keer as sy met 'n naam gesukkel het, het sy die liedjie begin sing en sodoende kon sy weer die naam onthou. Dit is 'n heel ander deel van ons brein wat met musiek werk."

Sing en speel!

Navorsers aan die Universiteit van Exeter in Brittanje het in 'n nuwe studie bewys dat om tot in 'n laat stadium van jou lewe 'n musiekinstrument te bespeel of in 'n koor te sing, op jou oudag die sleutel tot 'n beter funksionerende brein kan wees.

Deur voort te gaan om as volwassene musiek te beoefen, kan selfs help om die risiko van kognitiewe agteruitgang te verminder en die uitwerking van veroudering op 'n gesonde brein voorkom.

Die resultate was veral betekenisvol vir diegene wat 'n lewenslange verhouding met musiek gehandhaaf het.

Die studie beveel ook aan dat die bevindinge daarvan op musiekonderrigbeleid toegepas moet word sodat toekomstige geslagte soveel as moontlik deur 'n sterk musikale grondslag gebaat kan word.

Nog iemand met 'n groot belangstelling in die genesende waarde van musiek is dr. Frelét de Villiers, akademiese hoof van die Odeion Skool vir Musiek aan die Universiteit van die Vrystaat.

"Daar is reeds bewys dat die voordele van musiek legio is. Musiekvoordrag is seker een van die mees veeleisende take wat die menslike brein kan hanteer."

Sy verduidelik dat om 'n instrument te bespeel, dit gelyktydig die inspanning van klein en groot motoriese vaardighede verg, sowel as die inspanning van sensoriese terugvoermeganismes wat voortdurend die voordrag monitor, wat beteken dat jy moet luister of jy die klanke reg uitvoer.

Verder moet jy emosioneel betrokke wees om die stuk te interpreteer en te vertolk.

De Villiers verwys na 'n roerende YouTube-video van die voormalige ballerina Marta C. González wat aan Alzheimer se siekte gely het. Sy het op Tsjaikofski se Swanemeer gereageer en die choreografie daarvan onthou wanneer die musiek vir haar gespeel is. Die video van González, wat in 2020 oorlede is, is miljoene keer op YouTube gekyk.

"Die deel in jou brein waar musiek verwerk word, verskil byvoorbeeld van die deel waar jou korttermyngeheue funksioneer. En dit is hoekom mense met demensie so goed op musiek funksioneer. Dit help om herinneringe op te roep wat nie noodwendig op 'n ander wyse na vore sou kom nie," verduidelik De Villiers.

Omdat sommige tieners sukkel om hulself uit te druk, maak Barlow graag van liriekanalise en liedjieskryf gebruik.

"Sodra jy 'n tiener vra wat hul gunstelingmusiek is, kan hulle nie ophou praat nie. Dit is 'n goeie aanknopingspunt om uit te vind met watter liedjie hy of sy haar vereenselwig, en deur die lirieke te analiseer kry jy insig in waarmee die pasiënt op daardie oomblik worstel."

Wat liedjieskryf betref, kry die pasiënt weer die geleentheid om sy gevoelens op papier vas te lê. Barlow help dan met die toonsetting daarvan. Só kry sy as terapeut toegang tot die persoon se gedagtes en gevoelens.

"Musiek is nie iets wat gebonde is aan die wyse waarop jy grootgemaak is, jou opvoeding, kultuur, jou intellek of jou fisieke vermoëns nie, dit is iets wat tot ons almal spreek en het ongelooflike waarde as dit by ons welstand kom."

  • Botha is 'n redaksielid van Netwerk24.

My eie ervaring

In werklikheid is ek 'n groot babbelbek wat daarvan hou om meer van mense en dinge te leer, maar sodra ek in my binneste se donker hoekies moet rondkrap, klap ek toe soos 'n oester. Omdat ek nuuskierig is oor musiekterapie, besluit ek om 'n afspraak by Barlow te maak.

Sy nooi my om myself gemaklik te maak op 'n bank - soos kopdokters mos maar doen. Ons gesels 'n bietjie en sy besluit om die Bonny-metode van begeleide beelde en musiek (GIM) vir ons sessie te gebruik.

Dié metode is 'n gespesialiseerde veld in musiekterapie en behels die speel van geselekteerde reekse (sekwensies) van klassieke musiek om sensoriese en emosionele response by die luisteraar te ontlok.

Die eerste liedjie het skaars twee minute lank gespeel toe ek met geweldige emosie oorval word. Gedurende die sessie moes ek die beelde en emosies wat ek ervaar het aan haar kommunikeer. Die sekwensie het uit sowat vyf liedjies bestaan wat jou deur die proses gelei het.

Dit is 'n dieptebenadering waarin innerlike ervarings uitgedruk word deur liggaamlike sensasies, beelde of simbole wat deur die psige aangebied word - niks is taboe nie. Jy gee deur wat jou onderbewussyn oplewer, dan maak Barlow gebruik van 'n Jungiaanse benadering in haar ontleding van jou ervaring.

Terwyl musiek nog altyd 'n groot rol in my lewe gespeel het, was ek totaal verras deur die enorme kragtoer waarop dit my tydens die sessie geneem het.

SPELETJIES VANDAG

CTA