Gesond: Vriende is belangriker as ooit vantevore

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Getty Images
Foto: Getty Images

Daar word baie klem op romantiese verhoudings gesit. Trouens, probleme met jou liefie is een van die belangrikste redes waarom mense vir terapie gaan.

Die boekwinkel se selfhelp-afdeling is vol gidse wat vertel hoe jy jou huwelik kan red. Raad oor hoe jy 'n langtermynvriendskap se bande kan verstewig? Jy soek mos nou wors in 'n hondehok.

En ja, romanse kan 'n betekenisvolle (en lekker) deel van die lewe wees. Maar moenie die voordele van platoniese vriende miskyk nie.

Stabiele, gesonde vriendskappe speel 'n groot rol in jou welstand en selfs in hoe lank jy gaan lewe. En, nes 'n romantiese verhouding, moet dit gevoed word.

Dit het die nuustydskrif TIME in 'n onlangse artikel genoop om te vra: Is friendship therapy the next big thing in mental health? Namate ál meer mense "nee dankie" sê vir tradisionele mylpale soos die huwelik en kinders, raak platoniese vriende se rol - vir ondersteuning, kameraadskap en omgee - nog groter.

Nou kan 'n mens seker sê SARIE se slagspreuk van 'n paar dekades gelede, "'n Vriendin vir elke vrou", was die tyd vooruit.

Daardie slagspreuk is steeds wat by baie mense opkom wanneer hulle SARIE se naam hoor, al het dit lankal vir 'n nuwe een plek gemaak. Lesers wil dit nie laat los nie en dit het dus onuitwisbaar deel van SARIE se identiteit geword.

Dit was die breinkind van die internasionaal gerekende skrywer Etienne van Heerden, tydens sy inkarnasie as kopieskrywer by 'n advertensiemaatskappy. Dít in 'n era van ongebreidelde individualisme, van in jou eie baantjie aankap. Jy in jou klein hoekie en ek in myne.

Lank voor Covid die besef tuisgebring het: Sonder mekaar kan ons nie, daar is krag in sáámstaan.

'n Vriendin wat altyd in jou hoek is, in tye van vreugde én swaar dra. Dít skop jy nie sommer agter elke bos uit nie. As dit nou beteken julle moet daardie vriendskapsbande met die hulp van 'n terapeut koester, is dit nie te veel gevra nie.

Die terapeut gebruik dieselfde tegnieke as met tradisionele huweliksberading om kommunikasie te verbeter en die vriendskap se sterk punte uit te lig.

Dis presies wat Aminatou Sow and Ann Friedman gedoen het toe hul jare lange vriendskap in 'n skommelende bootjie beland. As aanbieders van die aanlyn uitsending Call Your Girlfriend en skrywers van die boek Big Friendship: How We Keep Each Other Close, is vriendskap vir hulle 'n ernstige saak.

Destyds, in 2016, was dit 'n ietwat onkonvensionele roete. Maar nou is dit 'n vuurwarm trend in Yank-land.

Die Bybel se Dawid en Jonathan. Carrie, Sam, Charlotte en Miranda in Sex and the City. Rachel and Monica in Friends. Die akteurs Ben Affleck en Matt Damon.

Wie wil nou nie sulke vriende hê nie? Maar dalk herinner joune meer aan John en Paul s'n, die Beatles wie se kreatiewe ego's hul verhouding beduiwel het. Of Taylor Swift en Katy Perry, wie se vriendskap nie 'n herrie oor agtergronddansers oorleef het nie.

Maar nou kan ons nie elke keer wegstap as 'n goeie pel ons kwaad maak nie. Ons is veronderstel om konflik op gesonde maniere op te los, pleks van 'n wrok koester omdat jou vriendin jou dansers gesteel het.

Weet maar 'n gebrek aan vriende raak meer as jou sosiale kalender. Betekenisvolle vriendskappe is net so belangrik vir jou algemene gesondheid soos reg eet en oefen, voer dr. Kelli Harding aan in die boek The Rabbit Effect.

En dr. Elizma van der Smit, kliniese sielkundige van Klerksdorp, sê: "Vriendskap is soos kos. Ons funksioneer die beste as ons sosiale behoeftes bevredig word - ons is dan meer gemotiveerd om die lewe se uitdagings aan te pak. Daarsonder voel jy leeg, bang en hartseer."

Vivek Murthy, die Amerikaanse geneesheer-generaal (die "nasie se dokter"), is uitgesproke oor die gesondheidsgevare (vir kop en lyf) van eensaamheid.

Hy het al gewaarsku dit het 'n soortgelyke effek op jou lewensduur as die rook van 15 sigarette per dag. Hoewel die vergelyking as "sensasioneel" gekritiseer is, is dit 'n feit dat vriende jou lewensjare kan rek.

In die jare dertig het 'n bielie van 'n studie oor geluk aan die Harvard-universiteit afgeskop. Negentienjarige studente sowel as tieners uit Boston se armste woonbuurte is genooi om deel te neem.

Vir langer as 75 jaar is dit opgevolg met onderhoude en mediese toetse. Robert Waldinger, tans hoof van die studie, sê in 'n TED-praatjie, "What makes a good life? Lessons from the longest study on happiness": "Baie jongmense dink roem, geld en harde werk sal hulle geluk bring. Nie so nie. Want dis beter vir jou gesondheid en welstand om vriende te hê. Die omgekeerde geld ook: Eensaamheid is dodelik," sê hy.

Voorts is die gehalte van jou verhoudings belangriker as hoeveel vriende jy het. Goeie verhoudings is nie net 'n tonikum vir jou lyf nie, maar ook vir jou brein.

Weet maar: Vriendskap is die een ding wat jou deurtrek as die aarde onder jou voete wankel; 'n stutpaal vir jou kop én lyf se gesondheid.

Vriendskap nie altyd maklik

Maar wanneer is 'n vriendskap die moeite werd om voor te baklei? Dr. Elizma van der Smit gee raad.

Dilemma: Krities en baasspelerig

My vriendin sedert ons hoërskooldae raak ál meer krities en baasspelerig. Sy verkleineer my voorkoms en besluite en laat my skuldig voel as ek tyd saam met ander vriende deurbring.

Ek soek verskonings vir haar gedrag, maar voel toenemend angstig en sonder selfvertroue as ons saam is. Ek probeer my grense trek en dit tuisbring dat ek nie van haar optrede hou nie. Sy maak of ek oordryf en gaan net voort met haar gedrag.

Dr. Van der Smit antwoord: Jou vriendin voel moontlik toenemend onseker oor haarself en projekteer dit op jou. Vriendskap beteken julle waardeer mekaar se verskille, bring die beste in mekaar na vore en is 'n positiewe toevoeging tot mekaar se lewe. Dis nie die geval hier nie.

Angstige mense probeer dikwels om, soos sy, hul omgewing en die mense daarin te beheer. Stel jou grense: Verduidelik wat jy voel en wanneer jy so voel en wat jy van jul vriendskap verwag.

As haar gedrag nie verander nie, moet jy besef die vriendskap is nie meer goed vir jou geestesgesondheid is nie. Dit sal jou die moed gee om uiteindelik weg te stap.

Foto ter illustrasie: Getty Images.
Foto ter illustrasie: Getty Images.

Dilemma: Sosiale angs

Ek is in my middel dertigs met net een vriend wat ek dalk twee keer per jaar sien. Ek sukkel met sosiale angs en werk boonop van die huis af: Dus skuur ek nie in my daaglikse omgang met baie mense skouer nie.

Nou het ek agtergekom dit is selfs vir ekstroverte moeilik om as volwassenes nuwe vriende te maak. My pogings om by 'n plaaslike boekklub of enige ander groep aan te sluit, was onsuksesvol. Daar is net mooi geen sulke aktiwiteite op ons dorp wat my belangstelling prikkel nie.

Dr. Van der Smit antwoord: Sosiale angs spruit uit 'n vrees dat jy deur ander geoordeel gaan word. Probeer luister na wat hulle sê, eerder as om te fokus op wat hulle dalk van jou gaan dink.

Konfronteer jou vrese, een op 'n slag. Maak byvoorbeeld oogkontak met 'n vreemdeling en vra hulle 'n vraag. As daar nie groepsaktiwiteite op jou dorp is wat jou belangstelling prikkel nie, probeer iets aanlyn vind.

Identifiseer ander introverte, probeer 'n geselsie aanknoop en nooi hulle selfs vir koffie. Geniet jy dit, probeer 'n vaste afspraak vir byvoorbeeld een keer per week maak. As iemand nie belangstel nie, kan jy maar bekaf voel. Moet egter nie toelaat dat dit jou keer om na iemand anders uit te reik nie.

Jy het probeer, wees trots op jouself.

Foto ter illustrasie: Getty Images.
Foto ter illustrasie: Getty Images.

Dilemma: Afstand van vriende

Met mense se kom en gaan (emigrasie, skuiwe na ander stede/dorpe) is dit nie net families wat opbreek nie, maar dikwels ook kosbare vriendskappe.

Hoe hou julle dan daai vriendskapsbande sterk? Is dit moontlik soos die jare aanstap? Of sal sulke vriendskappe op die ou end tog sneuwel en jou weerloos laat voel?

Dr. Van der Smit antwoord: Met 'n bietjie ekstra moeite kan langafstandvriendskappe van die belangrikste verhoudings in jou lewe word. Maak seker julle deel positiewe ervarings ten spyte van die afstand, maar ook jul weerloosheid en hartseer.

Vind uit hoe jou vriendin verkies dat julle kontak maak. Sommige mense is tevrede met 'n weeklikse oproep; ander wil deur die dag van jou hoor. Beplan gereelde oproepe of 'n virtuele kuiery en maak dit spesiaal. Drink byvoorbeeld saam koffie.

Vind maniere om mekaar op hoogte van jul daaglikse lewe te hou, met byvoorbeeld foto's en stemnotas. Stuur gereeld klein verrassings oor en weer, soos sjokolade of 'n geskenkbewys vir koffie. Dis 'n manier om te sê: "Ek dink aan jou."

Dilemma: Kan die skade herstel word?

My jare lange vriendin het verloof geraak. Ek was in 'n diep gat ná 'n verbreekte verhouding en het boonop my werk verloor. Ek het haar dus op 'n afstand gehou - ek het gevoel ek kon nie 'n goeie vriendin wees nie.

Sý het dit as verwerping ervaar en dat ek nie in haar verlowing belangstel nie. Ek was openlik met haar oor hoekom ek so optree, maar sy het haar onttrek en my uiteindelik nie na haar troue toe genooi nie. Is dit die moeite werd om die vriendskap te probeer herstel?

Dr. Van der Smit antwoord: Vriendskappe ontwikkel gewoonlik as gevolg van gedeelde belangstellings, geografiese nabyheid en lewensfases wat ooreenstem. Veranderinge, soos 'n verlowing en troue, plaas groot druk op die vriendskap.

Daarby het jy waarskynlik deur 'n diep depressie gegaan wat jou onwaardig laat voel het - jy het dus jou vriendin in haar nuwe lewensfase weggestoot.

Vriendskap kán herstel word, maar wees eerlik met jouself oor jou motiewe. Wil jy net beter voel oor jouself, soek jy 'n verskoning of wil jy een aanbied? Of wil jy regtig tyd en energie bestee om opnuut 'n vriendskap te bou? Het julle nog genoeg met mekaar gemeen? Wil sy ook die vriendskap herstel? Indien wel, praat dit uit, dalk met die hulp van 'n terapeut.

Wees duidelik oor jul grense en verwagtinge - en gee dit tyd!

Kontak

Dr. Van der Smit: 018 468 5365, gvdsmit@lantic.net

SPELETJIES VANDAG

CTA