
1. Alledaagse gewoontes
Swak liggaamsmeganika, dus jou liggaamshouding as jy sit, staan, iets optel en dra of slaap, is dikwels die oorsaak van rugpyn. Dit kan iets wees wat jy reeds 'n miljoen keer gedoen het, soos om te buk en jou skoenveters vas te maak.
Meer mense kla van laerugpyn as die weer mooi is en ons dus meer aktief is, soos tuinmaak of sport beoefen. Verbeter jou liggaamshouding en leer hoe om goed reg op te tel.
2. Gesondheidsprobleme
"Verplaaste pyn" is wanneer jy pyn in een deel van jou lyf voel, maar die oorsaak is elders. Al die senuwees in jou lyf is deel van een groot netwerk.
Só deel die interne organe senubane met onder meer die vel, sagte weefsel en rugspiere. Rugpyn kan dus 'n simptoom van 'n onderliggende gesondheidsprobleem wees.
Dit kan insluit gastroïntestinale probleme, nierstene, infeksie, pankreatitis, ankiloserende spondilitis ('n tipe artritis wat inflammasie in sekere dele van die ruggraat veroorsaak) en endometriose.
3. Jou slaapposisie
As jy soggens met 'n seer rug wakker word, is dit dalk te wyte aan die manier waarop jy jou snags in die bed opkrul. Dis 'n wanopvatting dat een slaapposisie deurlopend vir almal die beste is. Basiese anatomie en gesondheidstoestande kan 'n invloed hê op wat vir jou gemaklik is.
As jy byvoorbeeld laerugpyn ontwikkel, kan 'n dokter aanbeveel dat jy jou slaapposisie verander, jou kussing se posisie verskuif, of selfs strek voor jy bed toe gaan.
4. Angs en stres
Net soos fisieke gesondheidsprobleme, kan psigiese kwale pyn veroorsaak. Sielkundige toestande wat wissel van angs en depressie tot chroniese stres, kan dus die rede vir jou rugpyn wees. Dis nie "alles in jou kop" nie, nee. Navorsing het bevind dieselfde senuweepaaie wat verantwoordelik vir biochemiese wanbalanse is, kan chroniese pyn aanhelp.
5. Rook
Rook is 'n bekende oorsaak van rugpyn en agteruitgang van die rugwerwels. Trouens, navorsing het oorweldigend bevind rook verhoog nie net die risiko vir osteoporose nie, maar beskadig ook are in die rugspiere en gewrigte.
Nikotien vernou boonop die bloedvate, gevolglik bereik minder voedingstowwe en suurstof die ruggraat.
Bronneortho.duke.edu, huffpost.com, allstar-chiropractic.com



















