Jaag jy voortdurend van een taak na 'n ander en voel dit of daar nooit genoeg ure in jou dag is nie? Tydarmoede het 'n groot uitwerking op ons geluk en welstand. Maar deur goeie tydbestuur, kan jy keer dat die gejaag jou insluk.

‘Ek's laat, ek's laat, ek's laat . . ." Voel jy soms soos daardie haastige hasie in Lewis Carroll se Alice in Wonderland wat altyd laat is vir 'n baie belangrike afspraak? Indien wel, is jy nie alleen nie.
In die besige, tegnologies gedrewe wêreld waarin ons leef, voel mense toenemend hulle het minder tyd en daarom ook minder vreugde. Hulle is volgens internasionale studies minder gesond, minder produktief en meer geneig tot depressie. In een studie het tydstres selfs 'n sterker negatiewe uitwerking op geluk getoon as werkloosheid.
Oor die afgelope twee dekades het wêreldwye rykdom toegeneem, maar tog het materiële welvaart nie na tydwelvaart oorgespoel nie. Miljarde dollars word elke jaar bestee om materiële armoede te verlig, terwyl tydarmoede dikwels geïgnoreer of vererger word. Navorsers meen nou dat wetenskaplikes, beleidmakers en organisatoriese leiers meer aandag en hulpbronne moet afstaan aan die begrip en vermindering van tydarmoede om sielkundige en ekonomiese welstand te bevorder.
Fokus op geld
Johannes de Villiers, 'n aandagtigheidsghoeroe en skrywer van Kalmte in die malle gejaag, meen tydarmoede raak by die dag 'n groter probleem.
" 'n Mens sal dink in 'n tydperk met soveel tegnologie wat ontwerp is om jou lewe te vergemaklik, sal jy heelwat meer tyd hê."
Hy verwys na die ekonoom John Maynard Keynes wat in die 1930's voorspel het mense sal teen 2000 'n baie korter werksweek hê - tot miskien 15 uur per week - en dat mense sal verkies om meer tyd opsy te sit vir ontspanning, omdat hul materiële behoeftes bevredig sal wees.
"Die ironie is egter dat ons werksdae deesdae langer is as voor al hierdie tegnologie beskikbaar was. Sedert die pandemie in 2020, toe ons van ons huise af moes werk, het mense begin om ten minste 'n uur langer op 'n dag te werk. Grense tussen kantoorure en na-ure het vervaag en danksy kommunikasietegnologie, is jy nou basies 24 uur per dag beskikbaar," verduidelik De Villiers.
Hy meen die tweede rede hoekom ons so gejaag voel, is ons kapitalistiese ingesteldheid.
"Jy is geleer dat jy elke minuut van elke dag produktief moet inspan. En as jy in die ry staan by 'n winkel en dinge gebeur nie vinnig genoeg nie, dan is jou gedagte dadelik dat jy dié tyd wat nou gemors word, kon gebruik het om iets produktief te doen."
Prof. Desmond Painter van die departement sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch meen mense het 'n kulturele obsessie met werk en geldmaak.
"Die uitdrukking ‘tyd is geld' is beslis hier van toepassing. Ons het begin glo dat tyd net waarde het wanneer dit in geld omgesit kan word. Om tyd te hê vir onsself en ander, beteken om iets wat 'n kommoditeit geword het, weg te gee eerder as om dit te verkoop. Kapitalisme maak toenemend jag op ons tyd: nie net die tyd wat ons op kantoor is of bereikbaar is op ons fone nie, maar ook die tyd wat sosiale media opneem."
Painter sê om meer tyd vir onsself te neem, of meer tyd af te staan aan aktiwiteite wat nie geld inbring nie, kan maklik gesien word as onverantwoordelik of lui. Maar om ons tyd terug te eis is iets wat ons aktief moet doen.
De Villiers meen ons het die vermoë verloor om tyd te benader as iets wat jy kan gebruik om sommer net te kan wees. Ons leef daarom volgens hom in 'n konstante ritme van "iets verrig sodat ons 'n volgende ding kan doen om sodoende weer iets anders te bereik".
'n Statussimbool
Om aanhoudend besig te wees - al is dit hoe onproduktief - het vir baie mense 'n statussimbool geword. En daarom is mense se identiteite meer as ooit voorheen gekoppel aan hul werk.
Painter wys daarop dat ons binne 'n kapitalistiese samelewing geleer is dat dit nodig is om geld te verdien om te oorleef, en om geld te verdien moet ons werk. Mettertyd het die idee van 'n "loopbaan" egter self 'n bron van status en selfs identiteit geword en finansiële vooruitgang 'n doelwit om na te streef.
"Om hierdie stelsel aan die gang te hou, het ons allerlei idees geïnternaliseer, soos dat dit die moeite werd is om harder te werk ten einde meer geld te verdien, dat ontspanning en vakansie die uitsondering moet wees eerder as die reël, dat dit goed is om jou tyd op te offer en selfs verhoudings onder druk te plaas . . . Hierdie etos het van ons besit geneem, en ons sukkel soms om te verstaan waarom iemand 'n rustiger werk sal doen wat minder betaal, of nie belangstel in bevordering nie."
De Villiers reken mense besef nie die waarde daarvan "om net te wees" nie. Hy sê daar is tye wanneer jy werklik moet stil raak en moet luister.
"Soms moet 'n mens die gejaag stop. Ek dink dis 'n denkfoutjie wat ingetree het dat as jy nie rand-en- sent-waarde aan iets kan heg nie, dit nie waarde nie het nie. Daar is baie ander maniere waarop iets waarde kan hê. Dit kan gewoon ook net lekker wees."
Ledigheid en die duiwel ...
Navorsers glo selfs al het ons in 'n volkome gebalanseerder samelewing geleef, sou ons steeds tydstres vir onsself geskep het omdat die mens nie gebou is vir ledigheid nie.
Dan Gilbert, 'n professor in sielkunde aan Harvard-Universiteit in Amerika, het in 'n studie 'n paar universiteitstudente in 'n leë kamer geplaas met niks om te doen nie. Baie het verkies om hulself eerder ligte elektriese skokke te gee as om alleen met hul gedagtes gelaat te word.
Wat keer ons dan om volkome te kan ontspan? Painter sê selfs wanneer ons nie werk nie, voel ons soms ons moet ons tyd "verantwoordelik" aanwend. Ons wil nie ons tyd "mors" nie. Maar ons moet let op wat ons sien as "tydmors", waarsku hy.
"Hierdie soort ledigheid kan soms baie belangrik wees vir ons psigiese gesondheid en kreatiwiteit. Ons moet niksdoen herwaardeer, en die positiewe daarin sien."
De Villiers verwys in dieselfde asem na die konsep van kreatiewe verveling. "Heelwat groot uitvinders het in 'n periode van ledigheid groot insigte ervaar. Isaac Newton het byvoorbeeld onder 'n boom gelê en ‘niksdoen' toe die appel op sy kop geval het en hy sy swaartekrag-teorieë ontwikkel het. Charles Darwin het op sy beurt baie van sy ontdekkings gemaak terwyl hy in die natuur gewandel het.
"Dit is natuurlik moontlik dat slegte goed ook uit ledigheid kan spruit, seker van daar die spreekwoord, ‘ledigheid is die duiwel se oorkussing', maar dit is beslis 'n tyd waar jou kreatiwiteit gestimuleer word. Ledigheid is waarskynlik meer skeppend as wat ons dink."
Volgens De Villiers is dit belangrik om tyd in jou dag in te bou waar jy bloot die vreugde van die oomblik kan geniet. "Kinders speel nie doelgerig nie. Ja, hulle leer vaardighede aan terwyl hulle speel, maar dit is nie vir hulle die doel van speel nie."
As jy tydarm is, beteken dit nie dat jy jou lewe lank moet voel asof jy agter is en moet jaag om in te haal nie. Deur meer doelbewus met jou tyd te werk, sal jy mettertyd leer om jou tyd beter te benut en tyd af te staan aan dit wat werklik vir jou belangrik is - tot voordeel van jou algehele welstand.
- Botha is 'n redaksielid van Beeld.
Doen dit só
De Villiers gee die volgende wenke om jou tyd beter te bestuur:
- Moenie werk-e-posse op jou foon ontvang nie.
- Koop tyd eerder as goed. Betaal vir dienste wat jou lewe makliker maak en jou tyd spaar. Betaal vir jou gemoedsrus.
- Wees proaktief en beplan jou dag vooruit. Bou in jou dag ook 'n bietjie buffertyd tussen afsprake, asook doelgerigte tyd vir ontspanning.
- Probeer om nie meer as een ding op 'n slag te doen nie. As jy verskeie take gelyktydig verrig, werk jy stadiger en minder doeltreffend. Studies van die brein wys dat 'n mens slegs op een ding kan fokus. Pak jy meer as een taak op 'n slag aan, spring jy eintlik net rond tussen verskillende goed.
- Sê nee. Ons dink dis onbedagsaam om 'n sosiale uitnodiging van die hand te wys, want om iets te doen is altyd belangriker as om niks te doen nie. Ontwikkel jou vermoë om nee te kan sê, selfs al is jou rede niksdoen.
- Tyd is nie eindeloos nie. Jy gaan nie alles in jou lewe kan doen wat jy dalk wil nie. As jy nie beplan nie, is 'n mens geneig om na goed te beweeg wat jou tyd roof. Beplan jou kosbare tyd in jou dagboek en wees doelbewus met wat jy daarmee wil doen.




















