Terwyl pikkelbal en padel op die oppervlak lyk soos 'n sport wat nie baie inspanning verg nie, is die waarheid dat baie spelers gedwing word om op te hou speel weens beserings. Maricelle Botha het meer gaan uitvind oor die toename van beserings in dié gewilde spaansporte.

Nuwe sportsoorte soos pikkelbal en padel het die laaste paar jaar 'n behoorlike modegier geword. En met bane wat deesdae soos paddastoele opspring, wend jare lange banksitters hulle nou ook tot dié bane om deel van die pret te wees.
Namate meer mense die baan betree het, het die beserings egter ook begin toeneem. Dit sluit in beserings wat wissel van oorbenuttingstrauma soos tenniselmboog tot verstuitings en selfs frakture.
Byna 87% van alle aangemelde spaansportverwante beserings het plaasgevind by deelnemers ouer as 50, volgens 'n studie wat vanjaar in Scientific Research gepubliseer is.
Volgens die internasionale padelfederasie is daar tans meer as 25 miljoen aktiewe padelspelers in meer as 90 lande, terwyl die vereniging vir professionele pikkelbalspelers in 2022 aangedui het daar speel meer as 36,5 miljoen mense dié spel.
Anna Swanepoel, 'n Bloemfonteinse fisioterapeut en self 'n ywerige padelspeler, sê dat sy beslis 'n toename in beserings in haar praktyk sien en dat baie daarvan ooreenstem met dié wat in tennis en muurbal opgedoen word.
"Omdat beserings dalk nie altyd akuut is nie, gee baie mense soms nie onmiddellik aandag daaraan nie. Wat ons dan sien, is hoe dit 'n groter probleem raak of 'n nuwe probleem skep soos die persoon sy eie pyn probeer bestuur."
Padel is 'n dinamiese sport. Die uitleg van die baan vereis vinnige laterale bewegings, die vinnige verandering van rigting en kragtige bewegings na die net.
Dit is 'n fisiek veeleisende sport wat spesifieke fisiologiese eise aan spelers stel. Daarvan is beginners nie altyd bewus nie.
Swanepoel meen padelspelers wat op hul beste wil presteer, moet beskik oor 'n kombinasie van fisieke eienskappe, waaronder kardiovaskulêre uithouvermoë, krag, behendigheid, soepelheid en psigiese veerkragtigheid.
"Ongelukkig bewys ons leefstylsiektes vandag dat die spreekwoordelike sitting is the new smoking waar is. Mense kom uit posisies waar hulle heeldag voor 'n rekenaar sit en betree dan die baan sonder om op te warm of behoorlik te strek. En dit is waar die probleme begin."
Swanepoel sê sy strek getrou voor elke spel, al is sy die meeste van die kere die enigste persoon wat dit doen.
"Mense dink die spel is deel van die opwarming en omdat dit soveel pret is, vergeet jy dat dit inspanning van jou lyf verg."
Nóg 'n probleem is die verhouding tussen liggaamsmassa, spierkrag en soepelheid.
"Omdat ons deesdae sulke sittende lewens lei, is mense geneig om oorgewig te wees. En oorgewig is nie op sigself die probleem nie, maar jy het minder geoefen omdat jy oorgewig geword het, en omdat jy minder geoefen het, het jy swakker en stywer geword. As jy op dieselfde gewig jou sterkte en soepelheid behou het, is die feit dat jy oorgewig is nie eintlik so 'n groot probleem nie," meen sy.
Sy sê om aan te hou beweeg, is die belangrikste ding wat jy kan doen om na jou liggaam om te sien.
Nog 'n faktor wat waarskynlik bydra tot 'n toename in beserings, is dat nie almal 'n raketsportagtergrond het nie. Jy is dalk nie gewoond aan of vertroud met die tipiese bewegings van die boonste ledemate (bolyf) wat uitgevoer word wanneer jy 'n raket- of spaansport speel nie, soos dié wat jou skouers, elmboë en polse beïnvloed. Jy is dalk ook nie vertroud met bewegings van die onderste ledemate (onderlyf) wat gebruik word nie, soos om vinnig van kant tot kant op die baan te beweeg.
Swanepoel beveel 'n professionele les of twee aan sodat jy die regte tegnieke vir die sport kan aanleer en sodoende onnodige beserings kan vermy.
"Namate ons ouer word, raak ons liggaam ongekondisioneerd. Jou lyf vergeet letterlik hoe om reg te beweeg."
Hoewel die risiko van beserings in dié sportsoorte 'n werklikheid is, kan 'n mens nie die talle voordele van dié nuwe gier ontken nie. Dit is sosiaal, lok gesinne na die buitelug en kry mense aan die beweeg.
En wanneer dit kom by die opweging van die risiko's van die spel teen die voordele vir die gemoed en psige, veral vir ouer mense, dink Swanepoel die keuse is 'n maklike een.
"Gaan jy die risiko loop om 'n dyspier te skeur of 'n enkel te verstuit? Ja, maar om op die rusbank te sit is baie slegter vir jou gesondheid."
- Botha is 'n redaksielid van Beeld.
Tipiese beserings
Enkelbeserings: Vinnige verandering van rigting of laterale beweging kan 'n enkelverrekking ('n verrekte haksening) of 'n enkelverstuiting ('n skeur van die ligament aan die voor- en buitekant van die enkel) veroorsaak.
Kniebeserings: Laterale beweging kan ook lei tot 'n knieverstuiting - 'n skeur in die ligament wat die binnekant van die knie ondersteun.
Beenspierbeserings: Om groot treë te neem met stywe dyspiere kan spanning of skeure in daardie spiere veroorsaak.
Elmboogbeserings: As jy jou pols herhaaldelik draai terwyl jy voorberei om die bal met jou spaan te slaan, kan dit klein skeurtjies in 'n sening in jou voorarm veroorsaak. Die ontsteking en pyn in die elmboog is kenmerkend van sogenaamde tenniselmboog.
Skouerstremmings: Om te oorstrek vir 'n oorhoofse hou kan lei tot 'n skeur in die draaispier (die groep senings en spiere wat jou help om jou arm op te lig en te draai). "Baie mense oorstrek om by die bal uit te kom, omdat hulle dalk nie flink genoeg op hul voete is om by die bal uit te kom nie," verduidelik Swanepoel.
Valle en frakture: As jy vinnige treë agteruit neem om die bal te slaan, kan jy jou balans verloor. Wanneer mense val, steek hulle outomaties hul hande uit vir beskerming. Dit is 'n natuurlike reaksie, maar kan veroorsaak dat jy byvoorbeeld jou pols breek.
Voorkom beserings só
- Maak seker dat jy opwarm. Hoewel jy dalk in die versoeking kom om net op die baan te stap en te speel, kan dit jou beseringsrisiko verhoog as jy nie toelaat dat jou liggaam behoorlik opwarm nie. Swanepoel beveel strekoefeninge aan.
- Maak seker dat jy dit nie oordoen nie. Dit is algemeen dat mense verskeie dae in 'n ry speel, wat die risiko van beserings kan verhoog. Deur geleidelik jou speeltyd te verhoog kan 'n nuttige strategie wees om seker te maak dat daar hersteldae is sodat die liggaam kan aanpas.
- Doen kragoefeninge. Versterkingsoefeninge vir jou diep abdominale stabiliserende spiere, skouers en onderste ledemate sal jou baat.
- Maak seker dat jy na jou liggaam luister. As iets nie reg voel nie, neem 'n blaaskans en moenie dadelik terugspring in die spel nie. As die toestand oor die volgende paar dae vererger, is dit 'n teken dat iets ernstiger fout kan wees. Plaas ys op die geaffekteerde dele om inflammasie te help verminder totdat jy mediese hulp kry.
- Maak seker dat jy die regte raket het. Die verkeerde raket sal nie net jou spel benadeel nie, maar dit kan ook gewrig- en elmboogbeserings veroorsaak.
- Maak seker jy het skoene wat die toepaslike traksie het vir die baan waarop jy speel en nie jou kans op besering sal verhoog nie.
Wat is pikkelbal?
Pikkelbal is 'n raketsport wat elemente van tennis, pluimbal en tafeltennis kombineer deur 'n spaan en 'n plastiekbal met gate te gebruik.
Dit is 'n spel wat geskik is vir spelers van alle ouderdomme en vaardigheidsvlakke.
Die reëls vir pikkelbal is eenvoudig, wat dit 'n goeie inleidende sport maak. Dit kan ook nogal 'n uitdagende, vinnige en mededingende spel wees wanneer mense meer ervare raak.
Wat is padel?
Padel kombineer elemente van tennis en muurbal en is geskik vir alle ouderdomme.
Dit is 'n dubbelspelsport in 'n omheinde baan, wat ongeveer 'n derde van 'n standaard-tennisbaan is. Die omliggende mure is 'n integrale deel van die spel, wat spelers in staat stel om die bal daarvan af te speel.
Die puntestelsel is dieselfde as tennis.
















