Aktueel

‘Shogun’ kry meeste Emmy-benoemings

Die trefferdramareeks Shogun, wat kykers op 'n reis neem na Japan in die vroeë 17de eeu, het Woensdag die meeste Emmy-benoemings ontvang met benoemings in 25 kategorieë.

The Bear het die rekord vir die meeste benoemings in 'n enkele jaar vir 'n komedie geslaan, met 23. In dieselfde kategorie het Only Murders in the Building 21 benoemings ontvang.

True Detective: Night Country, met Jodie Foster in die hoofrol, is voor in die koor in die afdeling vir beperkte reeks/antologiereeks, met 19 benoemings.

Benoemdes vir die 76ste Emmy-toekennings is Woensdag tydens 'n regstreeks gestroomde seremonie vanuit Los Angeles aangekondig.

Die prysuitdeling vind op 15 September plaas.

Hiroyuki Sanada vertolk die hoofrol in Shogun. Foto: Getty Images
Hiroyuki Sanada vertolk die hoofrol in Shogun. Foto: Getty Images

Shogun is aangepas van James Clavell se historiese fiksieroman en beeld die ingewikkelde en dodelike hofpolitiek van feodale Japan uit.

Die hoofaktrise Anna Sawai en hoofakteur Hiroyuki Sanada het aan AFP gesê hulle is "werklik beskeie" oor die benoemings en dat dit 'n wonderlike geleentheid is om hul kultuur met die wêreld te deel.

"Ek hoop dit sal 'n wegspringplek wees vir die volgende geslag," het Sanada in 'n verklaring gesê.

Shogun ding in dramakategorieë mee met die finale seisoen van Netflix se Britse koninklike sage The Crown en Apple se The Morning Show met Jennifer Aniston in die hoofrol.

‘The Bear'

The Bear, wat tops in die komediekategorieë is, handel oor 'n chaotiese Chicago-restaurant wat deur 'n groep puntenerige en soms mishandelende sjefs bedryf word. Die reeks se debuutseisoen was ook 'n groot wenner by die laaste Emmy-pryse.

Jeremy Allen White is in Januarie met 'n Golden Globe bekroon as beste akteur in 'n TV-reeks, musiekblyspel of komedie vir sy rol in The Bear.  Foto: Getty Images
Jeremy Allen White is in Januarie met 'n Golden Globe bekroon as beste akteur in 'n TV-reeks, musiekblyspel of komedie vir sy rol in The Bear. Foto: Getty Images

Dit het teruggekeer met 'n nog meer ambisieuse en eksperimentele tweede lopie.

Dit is bisar dat The Bear in die komediekategorieë ingeskryf word, want hy hanteer harde kwessies soos rou en verslawing. Sy mededingers in die kategorie is Hacks,Abbott Elementary, Only Murders in the Building en Curb Your Enthusiasm.

Sowel Shogun as The Bear kom uit die kraal van FX, 'n kanaal in Disney se besit, wat ook fees kan vier oor benoemings vir Fargo, Feud: Capote vs The Swans, Welcome to Wrexham en What We Do in the Shadows.

‘True Detective'

Die kategorie vir beperkte reeks/antologiereeks is altyd vol treffers.

Jodie Foster is te sien in  True Detective: Night Country. Foto: Getty Images
Jodie Foster is te sien in True Detective: Night Country. Foto: Getty Images

True Detective: Night Country, die vierde aflewering van die donker misdaad-antologiereeks, waar die aksie hierdie keer na Alaska verskuif het, het vanjaar die meeste benoemings behaal.

Die ander mededingers in die kategorie is Netflix se Baby Reindeer, aangepas van die Skotse komediant Richard Gadd se donker eenmanvertoning oor sy ontmoetings met 'n vroulike agtervolger.

Die reeks het groot omstredenheid tot gevolg gehad nadat 'n vrou wat beweer het sy is die werklike inspirasie vir die bekruiper, die stroomdiens gedagvaar het. Nietemin het die reeks 11 benoemings gekry, insluitend een vir Gadd.

Ander beperkte reekse benoem in die kategorie is Fargo, Ripley en Lessons in Chemistry.

Die 76ste Emmy-toekenningsgeleentheid sal die tweede een vanjaar wees, nadat verlede jaar se seremonie weens die Hollywood-stakings uitgestel is en eers in Januarie gehou is.

Dit vereer televisiereekse wat tussen Junie 2023 en Mei 2024 uitgesaai is.

Lede van die Television Academy het nou 'n maand om al die reekse te kyk voordat hulle in 'n finale ronde in middel-Augustus vir hul gunstelinge stem. - AFP

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM