Vat so!

Pieter-Steph du Toit het met die hart van 'n leeu Saterdag die All Blacks in strepe omgedop. Hy was strykdeur sy 80 minute op die veld in die voorste linie wat die All Blacks met dodelike lakwerk afgemaai het.

Cheslin Kolben Saterdag ná sy drie in die Rugbykampioenskapstoets teen die All Blacks in Wellington, Nieu-Seeland.  Foto: Hagen Hopkins, Getty
Cheslin Kolben Saterdag ná sy drie in die Rugbykampioenskapstoets teen die All Blacks in Wellington, Nieu-Seeland. Foto: Hagen Hopkins, Getty

Tog het die blondekopreus van die Bokke Saterdagaand die heel kleinste ou­tjie in die Bok-23-tal - die plaasvervanger-vleuel Cheslin Kolbe - as 'n held in die Springbokke se riller-sege van 36-34 uitgesonder.

"Teen die einde van die toets, en met die All Blacks op die aanval naby ons doellyn, het ons geen ander keuse gehad as om ons alles te gee nie.

"In 'n stadium het Cheslin as ons kleinste speler daar tussen die voorrymanne langs die losgemale gestaan om duikslae uit te voer. Dít het my gewys hoe graag ons die oorwinning wou hê.

"Ons as spelers beskerm mekaar en gee om vir mekaar. Ons as Suid-Afrikaners staan ook nie vir iemand terug nie, dit maak nie saak hoe groot of klein jy is nie," het Du Toit oor daardie laaste aangrypende minute van die toets gesê.

36: Die meeste punte wat nog deur enige span teen Nieu-Seeland in Nieu-Seeland aangeteken is.

Die Springbokke se skok-sege - hul eerste oor die All Blacks in Nieu-Seeland sedert 2009 - het Saterdag groot weerklank onder voormalige Bokke gevind en die afrigter, Rassie Erasmus, en sy spelers is groot lof toegeswaai vir hul toewyding met veral doeltreffende lakwerk.

Die plaasseun van die Swartland was die Bok wat die meeste kere 'n All Black omgedop of in sy spore gestuit het: Du Toit het 'n allemintige 24 duikslae uitgevoer, wat 'n verstommende syfer is as 'n mens in ag neem dat die volle All Black-span maar net 49 duikslae in die toets gemaak het.

‘Elke Bok het vir die trui geveg'

Hennie le Roux, oudlosskakel van Suid-Afrika se eerste wêreldkampioenspan, het die Bokke se keerwerk geloof. "Ons verdediging was van so 'n aard dat die All Blacks naderhand nie meer geweet het wat om te doen nie. Daardie laaste vyf minute se verdediging was ongelooflik. Elke laaste Springbok het sy hand opgesteek en vir die trui geveg," het hy gesê.

24: Die getal suksesvolle duikslae wat Pieter-Steph du Toit gemaak het. Nieu-Seeland se hele span het maar 49 suksesvolle duikslae gemaak.

Le Roux se spanmaat van destyds, Rudolf Straeuli, het gesê mens sal instinktief die Bokke se verdediging uitsonder, maar hy sê daar was veel meer as net dit. "Hierdie oorwinning het nie net uit duikslae bestaan nie, maar ook uit uitstekende aanvallende rugby by tye," is Straeuli se mening.

Ook die oud-Bok-kaptein Corné Krige sê die puik verdediging van die Bokke was nie al rede vir hul sege nie. "Ons het nie nét verdedig nie. Die Bokke het nooit in hul dop gekruip nie. Ons het ons sterkpunte - skrums en losgemale - uitstekend benut. En as hierdie elemente in plek is en jy voeg skitterende verdediging daarby, gaan jy wen."

Onbeskaamd in trane

Du Toit, wat ná die eindfluitjie onbeskaamd gehuil het, het agterna gesê hy dink die Bokke kan nóg beter met hul duikwerk vaar omdat die All Blacks steeds 34 punte kon aanteken.

"As jy kyk na hoeveel punte die All Blacks teen ons behaal het, kan ons verdediging seker nog verbeter ," het die Bok-flank gesê.

"Maar ons man-op-man-duikslae was nogal goed. Ons het dit baie persoonlik gevat. Dis iets waaraan ons groot waarde heg.

"Ons het geweet die All Blacks is die wêreld se beste aanvallende span. Ons het deur ons verdediging doelbewus hul vaardighede onder druk probeer plaas. Ons het altyd geglo ons kan wen. Ons het selfs 'n plan of twee gehad hoe ons hulle met ons verdediging naby ons doellyn kan weghou."

20: Die getal jare wat dit die Springbokke geneem het om weer in Wellington te wen.

Erasmus sê die sege was nie net soet omdat die Bokke die All Blacks in Nieu-Seeland kon klop nie, "maar omdat ons onder druk was nadat ons die vorige twee toetse teen Argentinië en Australië verloor het".

"Sulke nederlae plaas druk op die spelers. Dit kan hulle van hul selfvertroue ontneem. Ons besef ons was teen die einde 'n bietjie gelukkig en die All Blacks was waarskynlik nie op hul beste nie.

"Maar die oorwinning beteken baie vir die span se selfvertroue. Veral met die oog op die Wêreldbeker.

"Dit gee ons baie hoop.

"Ons weet nou ons kan ware aanspraakmakers op die Wêreldbeker wees nadat min mense dit ná die verloortoetse teen Argentinië en Australië geglo het.

"Dit was van die begin af ons plan om ons sterkste beskikbare span vir die toets teen die All Blacks te kies en 'n groot slag vir die Wêreldbeker te probeer slaan," het Erasmus gesê.

Die Bok-afrigter het ook klem gelê op die leerproses van spelers.

" 'n Span en spelers leer net deur foute te maak. Kyk byvoorbeeld na iemand soos Aphiwe Dyantyi. Hy het nie al sy duikslae teen die Poemas en Wallabies met sukses gemaak nie, maar vanaand (Saterdagaand) het hy die lyn van verdediging uitstekend gelees.

"As ek die span 'n punt uit tien moet gee, gee ek ons waarskynlik 'n ses vir ons aanvallende spel en 'n agt vir ons verdediging.

"Dit was egter die karakter van die span wat my die meeste beïndruk het. Siya (Kolisi) verdien krediet vir hoe hy die span ná die twee nederlae bymekaar gehou het. Daar kan maklik krake ná sulke nederlae wys.

Nog baie harde werk

"Ek het geweet die spelers het vertroue in ons strukture. Ons het nou gewys ons kan mededingend by die Wêreldbeker wees.

"Ons weet terselfdertyd dat ons maar die sesde of sewende plek op die wêreldranglys beklee. Ons moet nog baie teen lande soos Australië en Engeland opvang en moet nog baie verbeter. Ons is nog glad nie waar ons wil wees nie. Dié was een wen met baie geluk teen die wêreld se voorste span.

"Ons sal die wen geniet, maar terselfdertyd ons voete stewig op die grond hou. Ons het nog baie harde werk om te doen."

Kolisi, wat een van sy beste toetse nog as kaptein gespeel het, was verheug oor die Suid-Afrikaners se eerste oorwinning sedert 2009 in Nieu-Seeland.

"Ons wou vir mekaar speel," het Kolisi gesê. "Ons groei as 'n span. Die uitslag was belangrik, maar dit was ewe belangrik dat ons as 'n span groei getoon het."

21%: Met slegs 21% van die gebiedsvoordeel, en 25% van die balbesit, kon die Springbokke steeds wen.

Kolisi het sy afrigter se leiding in 'n moeilike week geprys. "Hy het dié week alles dieselfde gehou. Hy het 'n plan op die tafel gesit hoe ons Nieu-Seeland kon klop. Ons het ingekoop en dit gedoen."

Die All Black-afrigter Steve Hansen het agterna geweier om die skuld vir die nederlaag op die skouers van die skeidsregter Nigel Owens te plaas. Daar word beweer dat die Walliese skeidsregter nie teen die einde van die wedstryd gehoor het toe een van sy grensregters aan hom gesê het dat van die Bok-spelers onkant is nie.

"Ons het nie die toets verloor omdat Nigel 'n beslissing gemis het nie. Ons het die toets verloor omdat ons die Suid-Afrikaners toegelaat het om 36 punte te behaal en dit is iets wat ons kon beheer. Ons het nie."

Hendrik Cronjé in Wellington

SPELETJIES VANDAG

CTA