YouTube-preek tel as ware erediens, maar ...

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) het vir die eerste keer uitdruklik beslis dat lidmate wat regstreeks by ’n erediens inskakel, wérklik aan daardie erediens deelneem – maar sê in dieselfde asem dié deelname is onvolledig en kan nie gelykgestel word aan fisieke teenwoordigheid nie.

As jy nie die diens regstreeks volg nie en eers later na ’n opname daarvan kyk, word dit glad nie as deelname gereken nie.

Met dié besluit, wat deur die GKSA se 2026-sinode aanvaar is, lê die kerk nou vir die eerste keer ’n vaste, amptelike raamwerk neer vir ’n praktyk wat sedert die Covid-19-pandemie wyd in gemeentes posgevat het.

“Die studie neem nie belewenis van die mens as vertrekpunt nie, maar neem as vertrekpunt die reg wat God op ons as gelowiges het,” lui die verslag van die studiedeputate wat die kwessie ondersoek het.

Luidens die verslag word gelowiges geroep “om hulle by ’n plaaslike kerk te voeg en op bepaalde tyd en plek saam te vergader”.

Teen hierdie agtergrond word die kernformulering gemaak: “Die virtuele deelnemer deel waarlik aan die erediens, maar die ware deelname is onvolledig.”

Ds. Gerben Meijer, predikant van die gemeente Die Kandelaar in Waverley, Pretoria, sê die sinode het doelbewus nie probeer om tegniese reëls vir gemeentes neer te lê nie, maar eerder beginsels vas te lê.

Ds. Gerben Meijer
Ds. Gerben Meijer (Ds. Gerben Meijer)

“Daar is nie praktiese riglyne aan plaaslike kerkrade gegee oor hoe die besluit toegepas word nie,” sê hy.

“Die besluit gee wel duidelikheid oor wat die erediens is en die erns word beklemtoon vir lidmate om by die fisieke erediens teenwoordig te wees. Dit bied ook ruimte en duidelikheid vir lidmate wat weens omstandighede soos siekte, ouderdom of afstand verplig is om virtueel in te skakel.”

Meijer verwerp kritiek dat die debat in wese oor finansies gaan, spesifiek dat gemeentes kollektes sou verloor wanneer lidmate nie fisiek eredienste bywoon nie.

“Ek dink nie die kritiek is gegrond nie,” sê hy. “In die gesprekke het finansies myns insiens geen rol gespeel nie. Inteendeel word heelwat kollektes digitaal bygedra. Ook diegene wat virtueel inskakel, gee gereeld dankoffers.”

Volgens hom is die studie onderneem nadat lidmate tydens die Covid-19-pandemie gemaklik geraak het om bloot tuis te bly en net aanlyn in te skakel. “Die studierapport toon duidelik dat lidmate wat kan, volledig aan die eredienste behoort deel te neem. Virtueel is kosbaar en belangrik vir diegene wat werklik in moeilike omstandighede verkeer,” sê hy.

Op die vraag of die standpunt nuwe spanning in gemeentes kan skep waar groot groepe lidmate sedert die pandemie hoofsaaklik virtueel inskakel, sê Meijer hy verwag nie dat dit die geval sal wees nie.

“Daar het al ’n tyd verloop sedert Covid-19 en die meeste lidmate woon weer eredienste by. Dit gee kerkrade wel duidelikheid oor hoe om met lidmate om te gaan wat hoofsaaklik virtueel inskakel,” sê hy.

Die riglyn trek terselfdertyd ’n harde grens wat ou opnames betref.

“Mense wat later kyk na ’n opname van ’n erediens, is nie deelnemers aan die erediens nie,” lui die verslag, “alhoewel die kyk na die opname vir hulle wel van groot waarde kan wees.”

Vir die deputate is die tydsaspek deurslaggewend. “ ’n Deel van die wese van die erediens is om saam teenwoordig te wees by mekaar in die teenwoordigheid van die Here,” lui die verslag, en daarom kan “verskillende lidmate nie op verskillende tye dieselfde erediens hou nie”.

“Die kerkraad moet toesien dat die erediens waarlik ’n ontmoeting van die gemeente met God is,” lui die verslag, en voeg by dat die erediens ’n dialogiese karakter het waarin “God spreek tot die gemeente en die gemeente spreek tot God en mekaar”.

Hieruit vloei die sterk klem op fisieke teenwoordigheid. Die deputate het bevind dat fisieke saamwees dit moontlik maak “om ten volle (na liggaam en siel) aan die erediens deel te neem” omdat aanbidding “die totale mens betrek”. Daarom word fisieke bywoning steeds as die norm en ideaal gehandhaaf.

Teenoor hierdie ideaal beskryf die verslag die beperkings van virtuele dienste. Deelname aan aktiwiteite “waar die liggaam besonderlik betrek word, [kan] nie so volledig wees as tydens fisieke deelname nie”.

Die sakramente is nóg ’n groot struikelblok. Die verslag stel dit duidelik: Die sakramente is fisieke tekens en seëls. Die bediening daarvan aan virtuele deelnemers is by die doop onmoontlik en die bediening van die nagmaal wek “baie vrae”. Daarby word die kerkraad se toesigfunksie bemoeilik omdat virtuele deelnemers nie gesien kan word nie.

Oor gemeentesang lui die verslag: “Die virtuele deelnemer kan voel hy of sy sing alleen, en daardie sang dra nie op dieselfde manier by tot die opbou en uitbou van die gemeentesang nie. Samesang kan nie so goed plaasvind nie.

“Die belewenis van koinonia is ook meer gebrekkig omdat daar ’n fisieke afstand is; deelnemers kan nie almal mekaar sien nie, en die fisieke deelnemers is dikwels nie eens bewus van virtuele deelnemers nie.”

Die besluit is die uitvloeisel van ’n debat wat reeds op die 2023-sinodesitting begin het, toe die algemene sinode ná ’n heftige bespreking besluit het om die kwessie na ’n taakspan vir ondersoek te verwys. Tydens daardie bespreking is aangevoer dat nuwe tegnologie nie vanself beteken dat die wese van die erediens verander nie, en daar is gewys op die feit dat Paulus in sy tyd van die nuutste tegnologie gebruik gemaak het deur briewe te stuur wat in gemeentes voorgelees is.

johan.eybers@media24.com

5094

SPELETJIES VANDAG

CTA