Die politieke sentrum van mag in Suid-Afrika sal weer in Luthuli-huis, die ANC-hoofkantoor in Johannesburg, gesetel wees.
Dit is die besluit van afgevaardigdes by die ANC se nasionale konferensie by die Nasrec-sentrum in Johannesburg.

Die besluit is Woensdag deur Fikile Mbalula, voorsitter van die ANC se kommissie oor organisatoriese hernuwing en minister van polisie, bekend gemaak.
Dit is veral nou belangrik nadat adj.pres. Cyril Ramaphosa by die nasionale konferensie tot nuwe ANC-president verkies is.
Hierdie stap skep twee sentrums van mag met pres. Jacob Zuma, voormalige ANC-president, wat tans die staatshoof is. Volgens Mbalula moet die twee sentrums van mag in die ANC nou deur die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) bestuur word.
Die nuwe 80 NUK-lede sal ná 'n verkiesing later Woensdag bekend gemaak word.
Volgens Mbalula is daar op die nasionale konferensie besluit dat die ANC tans die sentrum van politieke mag is.
"Dit beteken dat die ANC besluite sal neem wat sy ontplooides in die regering moet uitvoer. Ontplooides sal die mandaat van die ANC uitvoer."
Dit is welbekend dat Zuma in sy termyn as ANC-president, wat by die nasionale konferensie met Ramaphosa se verkiesing tot 'n einde gekom het, sonder enige konsultasie met die res van die ANC se topses belangrike besluite, soos kabinetskommelings, geneem het.
Mbalula het gesê afgevaardigdes het ook besluit dat die NUK voortaan ook nie deur kabinetslede gedomineer word nie.
Op 'n vraag of Zuma na die nasionale konferensie herroep sal word, het Mbalula geantwoord: "Die herroeping van die president sal die besluit van die NUK wees. Dit is ononderhandelbaar".
Die herroeping van die president sal die besluit van die NUK wees. Dit is ononderhandelbaar.
Hy het bygevoeg dit is daarom belangrik dat die twee sentrums van mag baie streng bestuur moet word.
Volgens Mbalula moet dit nie tot spanning lei soos met die geval toe oudpres. Thabo Mbeki ná die ANC se nasionale konferensie in 2007 in Polokwane herroep is nie.
"Die NUK sal nou besluit of die president herroep word en nie net die topses soos in die Mbeki-geval nie. Ons moet sulke besluite in die beste belang van die ANC neem."
Mbalula het ook gesê die afgevaardigdes het besluit dat 'n regterlike kommissie sou gou moontlik aangestel moet word om staatskaping te ondersoek.
Volgens hom sal die ANC se grondwet ook gewysig word om die integriteitskomitee meer byt te gee.
"As die integriteitskomitee meen dat 'n ANC-lid die party in oneer gebring het, moet dit nie die NUK vra of hy daardie persoon kan skors nie. Die komitee moet die lid direk kan kontak om hom of haarself te verdedig en dan 'n besluit maak. Daardie besluit moet finaal en bindend wees. Integriteit is nie onderhandelbaar nie," het Mbalula gesê.
Die nasionale konferensie duur voort.


















