
Die benoemings vir die topses poste in die ANC het die verdeeldheid in die party Sondagaand opnuut beklemtoon.
Ontleders is dit eens dat die benoemings geen verrassings ingehou het nie en dit duidelik gemaak het dat die ANC in twee kampe verdeel is.
"Ons praat hier nie net van twee kampe nie, ons praat eintlik van twee verskillende ideologieë," sê dr. Piet Croucamp, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit.
Theo Venter, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit se sakeskool en Netwerk24 se ontleder by die konferensie, sê die benoemings wys daar is 'n Cyril Ramaphosa-kamp en 'n dr. Nkosazana Dlamini-Zuma-kamp.
"Dit is duidelik dat daar geen poging was om versoening tussen die twee kampe te bewerkstellig met die benoemings nie."
Nie een van die benoemings het Venter verbaas nie. "Die name van die benoemdes was die afgelope maand gereeld in sirkulasie," sê hy.
"Die feit dat dit so lank geneem het om by die benoemingsproses uit te kom, weerspieël die verdeeldheid in die ANC," sê prof. Pieter Labuschagne, politieke ontleder van Unisa.
Croucamp was net verbaas oor die onttrekking van dr. Zweli Mkhize as kandidaat vir die adjunkpresidentskap. Mkhize het dit ter wille van eenheid gedoen.
"Ek dink die sterkste mededinging sal om die pos van adjunkpresident wees. Mense wat vir Ramaphosa stem, kan dalk almal vir Lindiwe Sisulu as adjunkpresident stem. Dit sal David Mabuza se kanse in die wiele ry."
Baleka Mbete, nasionale voorsitter van die ANC, se onttrekking as presidentskandidaat Saterdagaand laat blyk nou volgens Venter betekenisvol te wees. "Sy het die tekens gelees en besluit om terug te staan.
Dit is nou ook duidelik dat Naledi Pandor, adjunk-president op Ramaphosa se aanvanklike spanlys, net 'n plekhouer was wat Sisulu kans gegee het om haar veldtog te voltooi.

"Dit is nou ook duidelik dat Naledi Pandor, adjunk-president op Ramaphosa se aanvanklike spanlys, net 'n plekhouer was wat Sisulu kans gegee het om haar veldtog te voltooi."
Labuschagne sê hy het aanvanklik verwag die stryd tussen Ramaphosa en Dlamini-Zuma sou baie taai gewees het, maar hy kry nou die idee Ramaphosa sal makliker wen as wat mense gedink het.
Volgens Croucamp het 'n peiling van Markinor bevind dat 64% van ANC-lede Ramaphosa as leier verkies.
Ipsos het bevind dat 62% Ramaphosa steun en slegs 19% hulle agter Dlamini-Zuma skaar, sê Venter.
"As die konferensie teen dié grein gaan, sal die meerderheid ANC-lede omgekrap wees en kan dit later tot probleme lei," meen Croucamp.
Volgens Croucamp kan dit ook gebeur dat afgevaardigdes hul eie kop volg met die stemproses en hulle nie aan ANC-takke se voorskrifte steur nie.
Venter voorspel dat die Ramaphosa-spanlys almal verkies gaan word.
Jacob Rooi, senior politieke joernalis van Rapport, sê die gespanne atmosfeer in die saal beklemtoon die verdeeldheid.
"Dlamini-Zuma se ondersteuners was oorheersend. Hier gaan beslis vanaand (Sondag) lang trane gehuil word, maar hopelik vloei die bloed nie."
Die 4 776 stemgeregtigde afgevaardigdes het Sondagaand begin stem en die uitslag word Maandagoggend verwag.
















