Cyril wen omdat ANC-lede vernuwing soek

Adj.pres. Cyril Ramaphosa het die nuwe president van die ANC geword omdat die meerderheid van ANC-lede vernuwing wil hê sodat hul party nie nog steun onder kiesers verloor nie.

Jackson Mthembu, hoofsweep van die ANC, sê ANC-lede wil hê die ANC moet weer die ANC van weleer wees - die ANC van Oliver Tambo en Nelson Mandela.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa. As onderhandelaar was daar eenvoudig geen gelyke vir hom by ­Kodesa nie. Foto: Deon Raath
Adj.pres. Cyril Ramaphosa. As onderhandelaar was daar eenvoudig geen gelyke vir hom by ­Kodesa nie. Foto: Deon Raath

Een van die vernaamste faktore wat bygedra het tot sy oorwinning, is die feit dat Mpumalanga - wat gesien is as 'n veilige vesting vir dr. Nkosazana Dlamini-Zuma - in baie groter getalle vir Ramaphosa gestem het as wat verwag is.

Mthembu meen tot 350 van die sowat 700 afgevaardigdes van Mpumalanga het vir Ramaphosa gestem.

"So beklink jy die konferensie."

Prof. Richard Calland van die Universiteit van Kaapstad sê die uitslag wys daar was groter verdeeldheid in die provinsies wat Dlamini-Zuma gesteun het as wat voorheen gemeen is.

"Dit was nader aan 50/50 as 80/20," sê Calland.

Dié provinsies is KwaZulu-Natal, die Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga.

Ramaphosa het groot steun in Gauteng, Limpopo, die Wes-Kaap, die Oos-Kaap en die Noord-Kaap.

Die ANC glo met Ramaphosa as president het die party 'n veel beter kans om die volgende algemene verkiesing in 2019 te wen.

Onder Dlamini-Zuma was daar 'n groot gevaar dat die party se steun tot minder as 50% kon daal.

ANC-lede het waarskynlik ook besef die party sou in twee geskeur het as sy gewen het. Dit sou na verwagting 'n veel groter skeuring gewees het as toe Cope en die EFF weggebreek het.

Die afgevaardigdes het ook gewys ANC-lede is moeg vir onder meer swak regering, korrupsie en staatskaping.

Hulle glo ook Ramaphosa het 'n beter kans om die Suid-Afrikaanse ekonomie uit die moeras te bestuur.

Luidens 'n onlangse meningspeiling wou tot 64% van ANC-lede Ramaphosa as president hê. Dit sou dom van die konferensie gewees het om teen hul wil in te gaan, sê dr. Piet Croucamp, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit.

Ramaphosa het ook gewen omdat hy 'n baie goeie veldtog gevoer en sy huiswerk gedoen het.

Ramaphosa se span het die laaste paar maande die land vol gereis om steun te werf. Dit het vrugte gedra, soos die groot swaai in Mpumalanga bewys het.

Wat ook tot sy voordeel gestrek het, was dat talle swaargewigte in die party - soos Baleka Mbete en Lindiwe Sisulu - die afgelope paar dae hul gewig agter hom ingegooi het.

Waarnemers meen hulle het gesien hoe die wind waai.

Gert van der Westhuizen en Sarel van der Walt

SPELETJIES VANDAG

CTA