Gesprekke by Luthuli-huis oor ‘vermiste stemme’

ANC-verteenwoordigers sal Vrydag glo regsverteenwoordigers sien wat probeer om die kwessie rondom die 68 "vermiste stemme" vroeër by die ANC se 45ste nasionale konferensie op te los.

Dexter Selepe van Selepe Seleke-prokureurs het bevestig dat die vergadering vir 14:30 by Luthuli-huis, die ANC-hoofkantoor in Johannesburg, geskeduleer is.

Selepe het by navraag Vrydagoggend gesê hy verteenwoordig die groep ANC-afgevaardigdes van Limpopo en KwaZulu-Natal wat deel is van die 68 stemme waaroor omstredenheid ontstaan het.

Ace Magashule, die nuwe sekretaris-generaal van die ANC, lewer sy eerste toespraak by Nasrec. Foto: Teboho Letsie
Ace Magashule, die nuwe sekretaris-generaal van die ANC, lewer sy eerste toespraak by Nasrec. Foto: Teboho Letsie

Hy sê die regsfirma tree nie namens Senzo Mchunu, 'n voormalige premier van KZN, op nie. Mchunu het met 24 stemme teen Ace Magashule, die Vrystaatse premier, verloor in die stryd om die posisie van sekretaris-generaal van die ANC.

Selepe sê die saak kan in die hof eindig, sou die partye nie tot 'n vergelyk kom nie.

Volgens hom was sy kliënte nie op die kieserslys nie, hoewel hulle gemagtig was om te stem. "Hulle het spesiale stembriewe gekry, wat in ‘kwarantyn' geplaas is en wat dan later saam met die res van die stemme getel sou word."

Die afgevaardigdes het hul kommer gelug dat Magashule se verkiesing onreëlmatig was, met net 'n verskil van 24 stemme tussen die kandidate.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa, nuutverkose ANC-president, het Woensdag sy ondersteuners gevra om ter wille van die integriteit van die ANC en sy 54ste nasionale konferensie by Nasrec in Johannesburg hul hofplanne te laat vaar.

Dit blyk uit 'n video-opname, wat News24 bekom het, waarin hy hulle gevra het om te aanvaar Magashule het Mchunu in 'n naelskraapse verkiesing geklop.

Die meerderheid van die vermiste stemme is glo van takke wat Mchunu ondersteun.

Zizi Kodwa, die ANC-woordvoerder, kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

Selloane Khalane

SPELETJIES VANDAG

CTA