‘Hofuitsprake ’n pynlike les vir ANC’

Hofuitsprake kan die ANC "in die maag slaan" en pyn veroorsaak. Die organisasie is egter deur pyn gebou en moet die uitsprake as 'n les beskou.

Só het Lindiwe Zulu, 'n senior ANC-lid en minister van kleinsakeontwikkeling, Vrydagaand by Nasrec gesê nadat die ANC 'n dag voor sy belangrike 54ste nasionale konferensie deur drie hofuitsprake geruk is wat 'n impak sal hê op die samestelling van die stemgeregtigdes by die konferensie.

Zulu het by navraag by die mediasentrum daarop gewys dat Gwede Mantashe, sekretaris-generaal, en die provinsiale leiers hulle reeds oor die hofuitsprake uitgespreek het en dat hulle dit respekteer.

"As die ANC het ons altyd gesê - en ons staan steeds daarby - dat ons die uitsprake van die howe respekteer. Dit is 'n les vir die ANC. My siening is dat elke keer dat as jy iets soos dié het, staan jy op soos 'n soldaat en vra wat is die implikasies en wat moet hierna gedoen word."

Die afgevaardigdes sal in staat wees om te sê: Al hierdie uitsprake is gelewer, wat is die implikasies daarvan?

Sy is vasbeslote dat die konferensie, wat Saterdag amptelik begin, volgens plan sal verloop.

"Die goeie ding van die ANC is dat daar lawaai van buite kan wees, maar daar sal afgevaardigdes by die konferensie wees waar ons al die kwessies sal moet hanteer. Nie een van die afgevaardigdes gaan weghardloop nie.

"Die afgevaardigdes sal in staat wees om te sê: Al hierdie uitsprake is gelewer, wat is die implikasies daarvan? Die topleierskap en die nasionale uitvoerende komitee self het 'n verantwoordelikheid teenoor die konferensie, daarom is ek vol vertroue (dat dit sal voortgaan). Ons weet dat hofuitsprake jou in die maag kan slaan en jy voel die pyn.

"Ons was al daar. Ons was soldate in die ANC. Ons het die ANC deur pyn gebou. Selfs al is dit nou 'n pyn, is dit 'n andersoortige pyn - dit is die pyn van hofuitsprake. Ons het dit (die ANC) voorheen gebou deur ander pyn. Ons sal dit selfs deur die pyn van vandag bou," het sy gesê.

Zulu het daarop gewys dat die ANC 105 jaar oud is en dat enigiemand wat sê dinge het altyd seepglad in die organisasie verloop en dat sy lede altyd met mekaar saamgestem het, nie die waarheid sal praat nie.

"Die punt is dat hierdie 'n les is vir die organisasie - 'n bevrydingsorganisasie wat nou regeer. Dit is verskillend van wat ons in 1994 gehad het.

"Daar is 'n demokrasie in Suid-Afrika. Ons moet mekaar leer met elke tree wat ons gee dat ons ons bes moet probeer om te verseker dat ons by ons stelsels hou en seker maak dat ons dinge doen ingevolge ons eie grondwet. As gevind word dat ons iewers tekortskiet, sal ons dit regstel waar ons tekortskiet."

SPELETJIES VANDAG

CTA