‘Iets drasties moet gedoen word om ANC te help’

Iets drasties moet gedoen word om die ANC uit die krisis te help waarin die party verkeer.

Dit is luidens Gwede Mantashe, huidige ANC-sekretaris-generaal, se organisatoriese verslag wat hy Sondag aan die ANC se nasionale konferensie by Nasrec in Johannesburg voorgelê het.

Die verslag is Maandag beskikbaar gestel.

Dit bespreek onder meer die werk wat die ANC die afgelope vyf jaar gedoen het, die probleme wat die pary ondervind het, en stel ook moontlike oplossings voor.

Mantashe erken in die verslag dat die ANC sedert 1994 op 'n afdraande pad is rakende die gehalte en getalle van lidmaatskap, ideologiese uitkyk, formulering van beleid, sowel as die afname in organisatoriese dissipline, waardes en beginsels onder leiers sowel as lede van die party.

Gwede Mantashe praat op 'n nuuskonferensie oor die stand van die ANC op die derde dag van die ANC se verkiesingskonferensie by die Nasrec-sentrum in Johannesburg. Foto: Deaan Vivier
Gwede Mantashe praat op 'n nuuskonferensie oor die stand van die ANC op die derde dag van die ANC se verkiesingskonferensie by die Nasrec-sentrum in Johannesburg. Foto: Deaan Vivier

Volgens Mantashe kan dit slegs gepak word as erken word dat iets drasties gedoen moet word om 'n nuwe rigting in te slaan.

"Wat die reeds toksiese omgewing vererger, is die wyse waarop die presidensie intern en ekstern aangeval is soos nog nooit gesien is in die geskiedenis van ons beweging en die bevrydingstryd nie.

"Verder is daar ook toenemend ontevredenheid oor staatskaping, korporatiewe kaping en die rol van geld in politiek en beleidsformulering.

"Fel, selfs noodlottige wedywering, tesame met 'n byna endemiese faksionalisme tussen en onder kamerade, domineer ons strukture en veroorsaak erge verdeeldheid in die beweging in sy geheel."

Wat die reeds toksiese omgewing vererger, is die wyse waarop die presidensie intern en ekstern aangeval is...

Mantashe sê die ANC se egtheid as die handhawer van standaarde en die kampvegter van vryheid in die samelewing word ernstig bedreig.

"Nie net is daar 'n groterwordende gaping tussen die ANC en die mense nie, maar daar is ook minder vertroue in die party."

Hy sê dat die minderheidselite se opgaar van rykdom ten koste van 'n armerwordende meerderheid sentraal staan tot die krisis waarin die ANC hom bevind.

* Volg Netwerk24 vir meer hieroor.

SPELETJIES VANDAG

CTA