KYK: ‘Ten minste einde van Zuma-era’

Goed of sleg - dit is die einde van die "Zuma-era" in Suid-Afrika, het landsburgers van Kaapstad tot Johannesburg Maandag oor die naelbytverkiesing by die ANC se konferensie gesê.

'n Kapenaar op pad stasie toe was hoorbaar opgewonde oor Ramaphosa se oorwinning oor Nkosazana Dlamini-Zuma nadat 'n vriend hom daaroor ingelig het. Verder af in die straat by 'n restaurant het mense gesit en bespiegel of dit wel 'n goeie ding is dat Ramaphosa nou die nuwe ANC-president is.

Hy is 'n goeie sakeman, ja, maar hy was by Marikana betrokke en dit sal mense nooit vergeet nie.

"Hy is 'n goeie sakeman, ja, maar hy was by Marikana betrokke en dit sal mense nooit vergeet nie," het Andy Sokhela gesê.

'n Groep mans wat sit en luister het hoe een van hul vriende op 'n kitaar sit en tokkel, het van vreugde op en af gespring toe hulle die nuus hoor.

"Hy is 'n goeie man, 'n sakeman, en ons wil hê besighede in Suid-Afrika moet groei. Ons soek vrede en stabiliteit en nie korrupsie nie," het Andrew Ndlovu gesê.

"Hopelik beteken dit 'n nuwe Suid-Afrika," het Schalk Cornelissen gesê.

Die algemene gevoel, hetsy in Johannesburg of Kaapstad, was een van verligting. Verligting in die sin dat dit dalk ook die einde van pres. Jacob Zuma se bewind kan beteken.

Viva! Goddank die Zuma-era is uiteindelik verby.

"Viva! Goddank die Zuma-era is uiteindelik verby," het 'n groep vriende by 'n Johannesburgse restaurant op die nuus gereageer.

Die atmosfeer in Melville, Johannesburg, was meer gedemp as in Kaapstad, maar mense het ook hul hoop uitgespreek dat Ramaphosa Suid-Afrika op 'n nuwe koers sal plaas.

"Suid-Afrika het 'n lang pad gestap en ons bid almal om verandering, in watter gedaante dit ook al mag kom," het kliënte by Paul's Tavern in Melville gesê.

"Wat ons nou nodig het, is 'n verstandhouding dat ons saam moet werk om die uitdagings vorentoe aan te pak."

Van links is Maryke van Niekerk (26), Mongi Mthombeni (35) en Gerda van Benecke (32).Foto: Ügen Vos
Van links is Maryke van Niekerk (26), Mongi Mthombeni (35) en Gerda van Benecke (32).Foto: Ügen Vos

Die kroeg se kliënte het egter kommer uitgespreek dat Ramaphosa dieselfde pad as Jacob Zuma kan stap.

"Zuma het ons ook verandering belowe en kyk in watter penarie sit ons nou. Ek hoop net Cyril trap nie in dieselfde strik nie," het een persoon gesê,

"Ons het dringend verandering nodig; en as Suid-Afrika verkrummel, gaan die res van Afrika ook verkrummel."

Michael Mushiane (43) sê dit maak nie saak of Ramaphosa of Dlamini-Zuma die leisels sou oorneem nie, solank die wenner die ekonomie herstel. Volgens hom is landsburgers hoofsaaklik besorg oor praktiese probleme soos die hoë misdaadsyfer, werkloosheid, straatkinders en dwelmmisbruik onder jeugdiges.

Lola Mokgoetsi (23) en Terry Yula (22). Foto: Ügen Vos
Lola Mokgoetsi (23) en Terry Yula (22). Foto: Ügen Vos

Lola Mokgoetsi (23) sê sy is nie noodwendig gelukkig met Ramaphosa se oorwinning nie en is skrikkerig oor hoe hy sal regeer.

"Ons hoop almal maar net hy doen nie dieselfde ding as Jacob Zuma nie," sê haar vriendin Terry Yula (22). "Ons hoop vir beter leierskap."

Albei sê dit is 'n goeie gevoel om iemand nuut aan die stuur van die ANC te hê en hulle wag om te kyk hoe hy die ekonomiese en politieke landskap van Suid-Afrika gaan herskep.

Kokedho Mashoene (27).Foto: Ügen Vos
Kokedho Mashoene (27).Foto: Ügen Vos

Kokedho Mashoene (27) sê hy is aan die kant van enigiemand wat 'n voorstander van geregtigheid sal wees.

Die vriende Maryke van Niekerk (26), Mongi Mthombeni (35) en Gerda van Benecke (32) was oorbluf deur die nuus, maar sê Ramaphosa kan nie erger as Zuma wees nie.

Van Niekerk sê dit is nou tyd om babatreetjies te gee, maar sy glo "Suid-Afrika is nou op die regte pad".

Ügen Vos En Jana Breytenbach

SPELETJIES VANDAG

CTA