Mbete sê steun aan Ramaphosa toe

Adj.pres. Cyril Ramaphosa se veldtog om die nuwe president van die ANC te word, het laat Saterdagaand ‘n hupstoot gekry toe Baleka Mbete, voorsitter van die ANC en speaker van die nasionale vergadering, haar steun aan hom toegesê het.

Mbete was aanvanklik een van sewe kandidate wat gehoop het om die nuwe ANC-leier te word.

Pres. Jacob Zuma se tweede en laaste termyn as ANC-president verval dié naweek met die ANC se 54ste nasionale konferensie wat by Nasrec in Johannesburg plaasvind.

Zuma het die ANC Saterdagmiddag in ‘n toespraak van meer as twee ure die laaste keer as ANC-president toegespreek.

Baleka Mbete
Baleka Mbete

Mbete het buite die mediasentrum by Nasrec aan joernaliste gesê sy en Ramaphosa was al geruime tyd in gesprek oor wat gedoen kan word om eenheid in die ANC te verseker.

Vroeër het Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings en ‘n dogter van die struggle-helde Walter en Albertina Sisulu, haar ook aan die presidentskapswedloop onttrek en haar steun aan Ramaphosa toegesê.

Sy het haar beskikbaar gestel vir die pos van adjunkpresident.

Ramaphosa, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, Mathews Phosa, dr. Zwele Mkhize en Jeff Radebe is nou die oorblywende kandidate in die presidentskapswedloop.

Die konferensie is Saterdagaand kort ná 22:30 tot Sondagoggend om 09:00 verdaag.

Die proses om seker te maak wie van die afgevaardigdes mag stem en wie nie, is nog nie afgehandel nie.

Daar is volgens inligting groot onenigheid onder die afgevaardigdes oor wie toegelaat mag word om te stem en wie nie.

Eers as dié proses, wat ‘n paar ure kan neem, afgehandel is, kan daar begin word met die benoeming van kandidate vir die onderskeie verkiesings.

Na verneem word, is daar groot onenigheid tussen die groepe oor watter afgevaardigdes stemreg het en watter nie.

Ná die benoemingsproses sal die afgevaardigdes die geleentheid kry om te stem vir die kandidate van hul keuse.

Dit is nog onseker of die verkiesing Sondag afgehandel sal kan word.

Waarnemers het Saterdagaand gesê dit is steeds baie moeilik om te voorspel wie die nuwe ANC-president sal word.

Dlamini-Zuma en Ramaphosa is die twee groot gunstelinge.

SPELETJIES VANDAG

CTA