
Dr. Zweli Mkhize, tesourier-generaal van die ANC, sê die ANC moet 'n nuwe leierskap kies wat vertroue onder alle Suid-Afrikaners sal inboesem.
"Terwyl ons opbou tot 'n suksesvolle konferensie moet lede onthou dat daar 'n ANC voor die konferensie is en dat daar 'n ANC ná die konferensie sal wees."
Hy het Saterdagoggend op 'n ontbyt van die Progressiewe Sakeforum by die Nasrec Ekspo-sentrum gepraat voordat lede van die nasionale uitvoerende komitee sou vergader - enkele ure voor die amptelike aanvang van die party se 54ste nasionale konferensie.
Die party het Vrydagaand bevestig dat die spesiale vergadering sou plaasvind om die drie hofuitsprake van Vrydag wat die provinsiale ANC-verkiesings nietig verklaar het, te bespreek.
Mkhize sê die party wil verseker dat die nasionale konferensie glad verloop.
"Die interne probleme sal bespreek word om te verseker dat die konferensie ordelik en suksesvol verloop."




















