NDZ ‘beledig en gereduseer tot eksvrou’

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma wens Cyril Ramaphosa geluk nadat hy aangewys is die nuwe president van die ANC op die derde dag van die ANC se verkiesingskonferensie by die Nasrec Ekspo-sentrum in Johannesburg. Foto: Deaan Vivier
Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma wens Cyril Ramaphosa geluk nadat hy aangewys is die nuwe president van die ANC op die derde dag van die ANC se verkiesingskonferensie by die Nasrec Ekspo-sentrum in Johannesburg. Foto: Deaan Vivier

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, wat die stryd om die ANC-leierskap teen adj.pres. Cyril Ramaphosa verloor het, is "beledig en gereduseer tot 'n eksvrou".

Só het Bathabile Dlamini, voorsitter van die ANC-vroueliga, Dinsdag in reaksie op die uitslag van die leiersverkiesing gesê. Buiten Jessie Duarte, wat haar pos as adjunk-sekretaris-generaal behou het, is al die lede van die nuwe topleierskap mans.

Dlamini het gesê die ANC het die vroue van Suid-Afrika in die steek gelaat. Die Vroueliga is teleurgesteld oor die uitslag. "Ons kan nie trots wees op die uitslag nie."

Sy het Dlamini-Zuma bedank dat sy haar as kandidaat beskikbaar gestel het en daarop gewys dat dit die eerste keer was dat die naam van 'n vrou op die stembrief vir die pos van ANC-president verskyn het. Patriargie het egter weer eens sy lelike kop in die party uitgesteek, meen Dlamini.

Dlamini-Zuma is 'n slag toegedien. Sy is beledig en 'n eksvrou genoem.

"Dlamini-Zuma is 'n slag toegedien. Sy is beledig en 'n eksvrou genoem. Ons wil haar bedank omdat sy haarself onselfsugtig beskikbaar gestel het. Haar geloofwaardigheid is vertrap en sy is gereduseer tot 'n eksvrou. Dit kon nie maklik gewees het vir haar en haar kinders nie," het Dlamini gesê.

Vroue maak die grootste deel van die ANC en die samelewing uit en 'n uitslag teen vroue kan nie gevier word nie. Duarte is bloot gekies omdat haar teenstander ook 'n vrou was. As sy teen 'n man meegeding het, sou sy ook onder die bus ingegooi gewees het, meen Dlamini.

Die vroueliga se mediakonferensie is gehou nadat die ANC se bestuurskomitee die stemuitslag bespreek het.

Dlamini het haar blydskap uitgespreek dat die topses hulle daartoe verbind het om die uitslag te aanvaar. Die bestuurskomitee het vergader ná bewerings dat 68 stemme vir die pos as sekretaris-generaal glo "vermis" is.

Sy is herhaaldelik gevra waarom die vroueliga nie ook vir Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, wat teen David Mabuza vir die pos as adjunkpresident gestaan het, gesteun het nie. Dlamini het hierop geantwoord dat individue in die ANC nie strukture is nie en dat die liga 'n sterker stem het as dit as 'n kollektief optree.

Op die vraag wat hulle dink skeefgeloop het in Dlamini-Zuma se veldtog, het sy geantwoord hulle sal daaroor nadink. Dlamini-Zuma sal Ramaphosa steun want hulle respekteer die demokratiese prosesse van die ANC.

Philda Essop en Selloane Khalane

SPELETJIES VANDAG

CTA