Cyril Ramaphosa het die steun van meer as 2 389 van die 4 776 stemgeregtigde afgevaardigdes by die ANC se konferensie, sê Jackson Mthembu, dié party se hoofsweep.
Volgens Mthembu het 350 van die sowat 700 takafgevaardigdes van Mpumalanga vir Ramaphosa gestem. "Dit beklink die konferensie," sê Mthembu.

"Ons wen die konferensie. Ons het vyf van die ANC-provinsies aan ons kant en hulle het reuse-afvaardigings," sê Mthembu.
Mthembu het Maandag by die mediasentrum by die Nasrec-Eksposentrum in Johannesburg rondgestap en met verslaggewers gepraat. Hy het geweier om met die omstrede televisiekanaal ANN7 te praat, omdat hulle hom onder meer daarvan beskuldig het dat hy met die DA geheul het en hom nie die reg gegee het om daarop te reageer nie.
Volgens Mthembu moet bewerings van korrupsie in die ANC en die regering, sowel as staatskaping, ernstig opgeneem en ondersoek word. Dit moet ook op die konferensie bespreek word.
"Mense sê dit het niks met die konferensie te doen nie, maar dit het alles met die konferensie te doen. As daar korrupsie is, moet die ANC dit beveg. As daar staatskaping is, moet die ANC dit beveg.
"Die ANC gaan wen by dié konferensie, ongeag wie die nuwe president is. Ek dink ons het die vermoë om die ANC van homself te red. Ons het arrogant geword omdat ons die mag het. Dit moet weer die ANC van Oliver Tambo en Nelson Mandela word. Ek dink ons kan dit doen as ons die leierskap het met die politieke wil om probleme op te los."














