SA ‘het uitgesien na nuwe ANC-leierskap’

David Mabuza, nuwe adj.pres. van die ANC, by Cyril Ramaphosa wat tot president van die party verkies is. Foto: Reuters
David Mabuza, nuwe adj.pres. van die ANC, by Cyril Ramaphosa wat tot president van die party verkies is. Foto: Reuters

Suid-Afrikaners het uitgesien na die nuutverkose ANC-leierskap en die markte móét positief reageer, veral op die verkiesing van adj.pres. Cyril Ramaphosa as nuwe ANC-president, meen Oscar Mabuyane, ANC-voorsitter in die Oos-Kaap.

Die Oos-Kaap was een van die groot blokke steun agter Ramaphosa se naelskraapse oorwinning oor dr. Nkosazana Dlamini-Zuma by die ANC se nasionale konferensie in Nasrec, Johannesburg.

Ramaphosa het 2 440 stemme op hom verenig en Dlamini-Zuma 2 261.

Die wenkbroue is egter gelig oor die res van die topses-leierskap, met veral die verkiesing van David Mabuza, ANC-voorsitter in Mpumalanga, tot adjunk-president van die party, asook Ace Magashule, ANC-voorsitter in die Vrystaat, se verkiesing as sekretaris-generaal van die party.

Gwede Mantashe, voormalige sekretaris-generaal, is verkies tot ANC-voorsitter, terwyl Jesse Duarte herverkies is as adjunk-sekretarisgeneraal.

Mmusi Maimane Foto: ARGIEF
Mmusi Maimane Foto: ARGIEF

Paul Mashatile, ANC-voorsitter in Gauteng, is tot tesourier-generaal van die party verkies.

Mabuza en Magashule, twee lede van die sogenaamde Premierliga, sowel as Duarte, word as stoere ondersteuners van pres. Jacob Zuma en Dlamini-Zuma beskou.

Op 'n vraag of daar enige kommer heers oor of Ramaphosa met bogenoemde drie mense sal kan saamwerk, het Mabuyane Maandagaand gesê dat al topses-leiers verkose ANC-leiers is wat deur ANC-lede ondersteun sal word.

"Die ANC werk as 'n kollektief, dis nie wie jy as individu vir leier wil hê nie. Ons sien egter uit na die verkose kollektiewe leierskap omdat hulle hope ervaring met hulle na die ANC bring."

Politieke partye het Maandagaand ook gemengde gevoelens oor veral Ramaphosa se verkiesing gehad.

Mmusi Maimane, DA-leier, het Ramaphosa se verkiesings as te min, te laat vir die ANC bestempel.

"Dit beteken baie min vir die mense van Suid-Afrika wat in armoede en werkloosheid agtergelaat is. Die ANC is dood en kan nie selfkorrigeer nie."

Hy sal sy kabinet moet skommel en al die onbevoegde (vrot appels) ministers vervang met bekwame ministers.

Maimane sê dit maak nie saak wie aan bewind is nie, want die party is aanmekaargeplak deur "die gom van patronaatskap en korrupsie".

Volgens die DA-leier is Cyril Ramaphosa is "net 'n nuwe gesig vir dieselfde ou ANC".

Maimane sê die toekoms van Suid-Afrika lê buite die ANC. "Dit hang nou af van kiesers om totale verandering teweeg te bring deur die ANC in 2019 te verwyder en om 'n nuwe begin vir die land in te lei."

Maimane sê van die eerste dinge wat Ramaphosa moet doen, is om enige weergawe van 'n kernkragtransaksie te skrap, terwyl hy ook 'n bevoegde nasionale direkteur van openbare vervolgings moet aanstel om die vervolgings teen Zuma en ander spoedig te laat voortgaan.

Pieter Groenewald, VF Plus-leier, sê daar wag strawwe uitdagings op Ramaphosa en die manier waarop hy dit hanteer, sal bepaal of hy Suid-Afrika sal kan red van verdere verval en ondergang.

"Ramaphosa se verkiesing sal op die kort termyn beleggersvertroue ? hupstoot gee en selfs ? verdere afgradering na rommelstatus kan voorkom, maar indien hy langtermyn-vertroue wil skep, sal hy 'n aantal drastiese stappe moet doen."

Volgens Groenewald is van die eerste dinge wat Ramaphosa moet doen, om Zuma te herroep en te sorg dat hyself die staatsrede op 8 Februarie 2018 lewer.

"As president van die land sal hy dan beslissend moet optree en dadelik die regterlike kommissie na staatskaping laat aanstel soos voorgestel deur die verslag van die destydse Openbare Beskermer.

"Hy sal sy kabinet moet skommel en al die onbevoegde (vrot appels) ministers vervang met bekwame ministers."

Eerw. Kenneth Meshoe, ACDP-leier, het die ANC se nuwe leiers daaraan herinner dat hulle die behoeftes van die armes in die land moet bevredig pleks van diegene wat tot mag verkies is te voed en te verryk.

"Ons doen 'n beroep op hulle om die plunder van staatshulpbronne te ondersoek wat in die regering plaasvind en om 'n einde daaraan te maak en te verseker dat alle betrokkenes aangekeer, aangekla en vervolg word."

Die munisipale werkersvakbond, Samwu het gesê Ramaphosa se oorwinning lei 'n nuwe era vir die ANC in.

"Ons hoop (Ramaphosa) sal die onmiddellike inwerkinstelling van die nasionale gesondheidsversekering fasiliteer wat doelbewus deur sy voorganger vertraag is. "Nie net is dit 'n oorwinning vir demokrasie nie, maar ook 'n oorwinning vir werkers wat vir lank gemarginaliseer was."

Llewellyn Prince, Philda Essop en Selloane Khalane

SPELETJIES VANDAG

CTA