Adj.pres. Cyril Ramaphosa en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, ANC-LP, is nou amptelik die twee voorlopers om Maandag aangewys te word as die nuwe ANC-president.
Die sowat 5 000 afgevaardigdes by die ANC se 54ste nasionale konferensie by Nasrec in Johannesburg, het hulle soos verwag vir dié amp benoem.
Stemmery sal deur die nag plaasvind.
Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, en David Mabuza, premier van Mpumalanga, is benoem vir die ANC se adjunkpresidentskap.
Gwede Mantashe, huidige ANC sekretaris-generaal en Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, is benoem vir die pos as die party se nasionale voorsitter.
Senzo Mchunu, voormalige premier van KwaZulu-Natal, en Ace Magashule, premier van die Vrystaat, is albei vir die amp as sekretaris-generaal benoem, terwyl Zingiswa Losi, tweede adjunkpresident van Cosatu, vir die pos as adjunksekretaris-generaal benoem is. Jessie Duarte wat op die oomblik in dié pos is, is weer vir die pos benoem.
Paul Mashatile, ANC-voorsitter in Gauteng en LUR vir menslike nedersettings, sowel as Maite Nkoana-Mashabane, het benoemings aanvaar vir die pos as tesourier-generaal.
Die aankondiging van die benoemdes is voorafgegaan deur gestry oor hoe die proses moet verloop, veral toe die verkiesingskommissie gevra het dat takke by hul mandaat moet hou, maar provinsies soos Noordwes, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die ANC-jeugliga kapsie gemaak het daarteen en gesê het hulle moet steeds toegelaat word om stemme te werf.
Mantashe het in 'n stadium opgestaan en afgevaardigdes daarop gewys dat takke wel by hul mandaat moet hou. "Ons moet die verkiesingskommissie toelaat om ons teen onsself te beskerm."
Tony Yengeni, voormalige ANC-hoofsweep, was daarna op sy voete en gesê die konferensie se reëls is vroeër aanvaar en dat enige ander reëls nie op die konferensie - die ANC se hoogste besluitnemingsliggaam - afgedwing kan word nie.
Nadat Naledi Pandor, minister van wetenskap en tegnologie, voorgestel het dat die proses nie op daardie wyse kon voortgaan nie, het die benoemings begin.
'n Luide applous het losgebars toe dit aangekondig is dat Ramaphosa vir die presidentskap benoem is, maar die ondersteuners van Dlamini-Zuma was op hul voete en het spontaan begin sing toe haar naam as die tweede benoemde aangekondig is.
Een van die sewe benoemdes vir die ANC se presidentskap, dr. Zweli Mkhize, wat ook die huidige tesourier-generaal van die ANC is, het sy benoeming vir die pos as tesourier-generaal van die hand gewys.
Die private verkiesingsagentskap The EleXion Agency gaan nou die finale stembriewe voorberei omdat hy moes wag op die finale lys van benoemdes vir die verskillende ampte.
Al die name van al die benoemdes sal op dieselfde stembrief verskyn.
Duarte het Sondagoggend op 'n media-konferensie aangekondig dat die uitslae waarskynlik Maandagoggend beskikbaar sal wees.
















