Wat van Zuma as Ramaphosa wen?

As adj.pres. Cyril Ramaphosa tot ANC-president verkies word, sal dit nie vir hom so maklik wees om van pres. Jacob Zuma as staatshoof ontslae te raak soos dit vir Zuma was om in 2008 van oudpres. Thabo Mbeki ontslae te raak nie.

Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit se Mahikeng-kampus, sê dit is "omdat Zuma 'n totaal ander karakter as Mbeki is".

Zuma is 'n vegter. Mbeki was nie.

President Jacob Zuma praat by die ANC se nasionale konferensie by Nasrec in Johannesburg. Foto: Deaan Vivier
President Jacob Zuma praat by die ANC se nasionale konferensie by Nasrec in Johannesburg. Foto: Deaan Vivier

Mbeki is in 2008 as president deur die ANC herroep en deur Kgalema Motlanthe vervang wat die presidentstoel warm gehou het totdat Zuma, wat in 2007 die ANC-president geword het, in Mei 2009 as president van die land ingehuldig is.

Croucamp sê hy verwag Zuma sal die regsproses teen hom probeer manipuleer.

Daar is boonop baie Zuma-ondersteuners in sleutelposte in die staatsdiens wat hom sal probeer beskerm.

Zuma sal ook nie maklik deur die parlementêre koukus van die ANC uitgeskop word nie, omdat die ANC bitter moeilik in die parlement saam met opposisiepartye soos die EFF en die DA sal stem ten gunste van 'n mosie van wantroue.

Zuma glo ook hy het genoeg steun onder die parlementêre koukuslede om só 'n mosie af te weer.

Prof. Pieter Labuschagne, politieke ontleder aan Unisa, meen egter Ramaphosa sal so gou moontlik van Zuma ontslae probeer raak.

"Dit sal 'n onuithoudbare situasie wees en hy sal hom moet herroep."

Dit gaan dan oor mag en gesag.

Hoewel die gesag by Zuma as staatshoof lê, sal Ramaphosa die mag hê.

Labuschagne sê hy stem saam met Croucamp dat Zuma sal nie sonder 'n geveg sal gaan nie, maar Zuma sal dit uit 'n verswakte posisie doen.

Dit sal 'n onuithoudbare situasie wees en hy sal hom moet herroep

Theo Venter, Netwerk24 se ontleder by die ANC se nasionale konferensie wat by die Nasrec Ekspo-sentrum in Johannesburg, stem saam Zuma sal gou herroep word.

Venter sê Ramaphosa het hom reeds verbind tot optrede teen staatskaping.

"My voorspelling is dat Zuma herroep sal word as daar volgende jaar weer betogings op universiteitskampusse is.

Venter sê die dilemma vir die ANC is as volg: "Indien Ramaphosa wen, sal hy die jaarlikse 8 Januarie-verklaring doen oor die ANC se planne vir die jaar en die opbou na die verkiesing. Zuma sal dan 'n maand later die staatsrede lewer."

SPELETJIES VANDAG

CTA