Die voorkoms van bloedklonte as 'n newe-effek van die Johnson & Johnson-entstof teen Covid-19 is uiters seldsaam. Teen 18 Maart het meer as 18 miljoen mense in Amerika al dié entstof gekry. Net 60 het later bloedklonte gekry en nege is dood. Yale Medicine se analise van dié syfers wys die risiko vir bloedklonte is die hoogste onder vroue tussen die ouderdom van 30 en 49 jaar.
Die Amerikaanse Voedsel-en-medisyne-owerheid beveel wel aan dat pasiënte met 'n geskiedenis van bloedklonte 'n mRNA-entstof (Pfizer en Moderna) eerder as Johnson & Johnson kry.
Pfizer en Johnson & Johnson word in Suid-Afrika toegedien.
Navorsers maan ook die risiko vir bloedklonte is aansienlik hoër weens Covid-19 as weens entstowwe - soos ook blyk uit 'n studie onder 5 miljoen mense in Swede. "Covid-19-infeksie word geassosieer met 'n 33 keer hoër risiko vir 'n pulmonêre embolisme, 'n vyf keer hoër risiko van diepaartrombose en 'n verdubbeling in risiko vir bloeding," lui 'n verslag van Gavi.
'n Studie oor die voorkoms van bloedklonte in die brein in Singapoer het gewys dit kom tot 32 keer méér voor onder mense wat Covid-19 gehad het as onder dié wat 'n mRNA-entstof gekry het. Navorsers het 'n studie gedoen van 62 000 mense wat Covid-19 gekry het en 3 miljoen wat ingeënt is.
Dis nie moontlik dat mRNA-entstowwe jou DNS kan verander nie, sê dr. Carmen Briner, hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se navorsingseenheid oor oordraagbare siektes.
"Jy word nie met DNS ingespuit nie én dit kom nie naby die nukleus van die selle waarin ons DNS is nie."
Met die Pfizer-entstof word jy met "boodskapper-RNA" oftewel mRNA in 'n vetmolekule ingespuit.
Dit laat die sel stekelproteïen maak wat die immuunstelsel "raaksien en dan leer" om te vernietig. As 'n persoon met die Sars-CoV-2-virus in aanraking kom, herken die immuunstelsel die proteïen en vernietig dit, sê Briner. "Die mRNA wat ingespuit word, word baie vinnig afgebreek en verdwyn basies uit die liggaam."



















