Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, ontvang behandeling vir matige Covid-19-simptome nadat hy Dinsdag positief vir die koronavirus getoets is.
Foster Mohale, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê dit is die eerste keer dat die minister die virus opdoen.
"Min. Phaahla het vroeër vandag 'n toets ondergaan en die uitslag het positief teruggekom. Hy het hom dadelik self tuis geïsoleer," sê Mohale.
Phaahla sal sy werk van die huis af doen en sal na verwagting binne sewe dae terugkeer werk toe.
Volgens Mohale het die minister twee dosisse van die Johnson & Johnson-entstof ontvang.
Mohale sê sy infeksie moet as waarskuwing dien aan alle Suid-Afrikaners dat die pandemie steeds 'n realiteit is en dat hulle waaksaam moet bly.
"Die departement wil die publiek daaraan herinner dat die opheffing van die Covid-19-inperkings nie beteken dat die pandemie verby is nie, daarom bly die inentingspersele te alle tye toeganklik."



















