Navorsers het bevind dit is baie onwaarskynlik dat die veel kleiner koste van die teel en eet van insekte soos krieke, sprinkane en miere sal posvat, omdat mense, veral in Westerse lande, dit steeds afstootlik vind.
Openbare meningspeilings in die VSA en Europa wys dat terwyl soveel as 91% van die respondente bereid sou wees om plantgebaseerde "alternatiewe vleis" te probeer, slegs sowat 20% dit sou oorweeg om insekte te eet, berig The Guardian.
"Gegewe hierdie uitdagings is dit moeilik om te sien dat insekte as voedsel tradisionele vleis-opsies beduidend kan vervang," lui 'n artikel in die Nature-joernaal npj Sustainable Agriculture, wat oor die meningspeilings handel.
Navorsers sê hoewel baie mense 'n begeerte uitspreek om voedsel te eet wat volhoubaar verbou word, het relatief min mense in Westerse lande vegetarisme aangeneem, berig die Irish Examiner.
Intussen word verwag dat wêreldwye vleisverbruik in die komende dekades die hoogte gaan inskiet.
"Ons het beperkte hulpbronne en ons moet dit aan die mees belowende alternatiewe wy," sê Dustin Crummett, mede-outeur van die artikel. "Dit blyk dat verboude insekte konsekwent die laagste aangeslaan word van enige van die vleisvervangers, en die werklike mark daarvoor is ongelooflik klein, selfs op plekke waar die eet van insekte deel van die tradisie is."
Crummett sê hoewel daar pogings aangewend is om insekte in items soos peuselhappies en brood te sit, dit nie in kos is wat uiteindelik vleisprodukte kan vervang nie.
"Al die gepraat oor die eet van insekte het nie 'n groot verskil gemaak nie. Mense het steeds 'n sterk weersin in die eet van insekte," sê Crummett. "Om langdurige kulinêre tradisies en diepgewortelde walging te verander, is moeilik. As dit maklik was, sou meer mense plantgebaseerde voedsel eet."
Die nuwe navorsing, wat deur 'n span wetenskaplikes van Brittanje, Amerika en Europa saamgestel is, het ook bestaande studies oor verbruikers se houdings teenoor alternatiewe proteïene ontleed, berig New Food Magazine.

















