
Hughes ‘ ’n eerste oortreder’
Hughes kon nie aan die maatskaplike werker ’n rede gee hoekom sy nié haar verhouding met Elie Challita verbreek het nie, hoewel dit, volgens Wolmarans, toksies was.
Met verwysing na die dag toe Nada-Jane vermoor is, het Hughes aan die maatskaplike werker gesê hoewel sy kwaad was vir Challita, was sy nooit daardie dag geïrriteerd of gefrustreerd met die dogtertjie nie.
“Sy het nooit die opset gehad om die oorledene seer te maak nie. Haar optrede daardie dag was gerig op die oorledene se pa ná nog ’n bakleiery,” het Wolmarans uit haar verslag voorgelees.
Sy het bygevoeg dat Hughes ’n eerste oortreder is.
Met verwysing na die voorgeskrewe minimum vonnisse van lewenslange tronkstraf vir elk van die misdrywe waaraan Hughes skuldig bevind is, het die getuie gesê daar is, volgens haar, dwingende en wesentlike omstandighede om van dié vonnisse af te wyk.
Voorbeelde hiervan is dat sy ’n eerste oortreder is, geestesprobleme het en berou het oor haar dade.
“Sy was lief vir die oorledene en moet elke dag saamleef met die wete dat sy die kind se dood veroorsaak het,” het Wolmarans gesê.
Tog was haar gevolgtrekking dat Hughes wel ’n gevaar vir die samelewing is, iemand wat in aanhouding intensiewe behandeling moet ontvang sodat sy gerehabiliteer kan word.
Sy het direkte tronkstraf voorgestel, waarvan ’n deel opgeskort word.
* Die saak gaan Dinsdag voort.
Hughes ontwikkel eetsteuring ná tragiese gebeure as kind
Hughes was ses jaar oud toe sy as kind deur erge traumatiese gebeure is.
Sy het ’n eetsteuring ontwikkel en is van 14-jarige ouderdom af deur verskeie sielkundiges en psigiaters behandel, het die hooggeregshof in Johannesburg Maandag gehoor.
Wolmarans het getuig verskeie kundiges het posttraumatiese stresversteuring, bipolêre versteuring en ’n grensgevalpersoonlikheidsversteuring by Hughes gediagnoseer.
Haar ma was verslaaf aan pynmedikasie en was aggressief.
Hughes het begin jok as ’n manipulasietegniek.
As kleuterskooljuffrou-assistent is sy eers gereken as iemand met baie potensiaal, wat goed oor die weg gekom het met die kinders en personeel.
Die kleintjies het egter later vertel dat Hughes hulle nie meer oppas as hulle buite speel nie en net in die klas sit en huil.
Voorts is agtergekom dat sy altyd net lang moue dra om letsels te versteek van beserings wat sy self toegedien het.
Daarby het dit aan die lig gekom dat sy en Elie Challita, Nada-Jane se pa, ’n verhouding het – iets wat teen die kleuterskool se reëls was.
Hughes het toe haar werk verloor.
Hughes op skool geboelie
Hughes, nou 26, is as kind op skool geboelie en het ’n onstabiele huishoudelike lewe gehad. Reeds as tiener is verskeie persoonlikheidsversteurings by haar gediagnoseer.

Dit was nadat Hughes vroeg in haar lewe verskeie traumatiese ervarings deurgemaak het.
Carina Wolmarans, ’n maatskaplike werker, het Maandag ter versagting van vonnis uit haar lywige verklaring begin voorlees rakende die beskuldigde.

Dit blyk dat Hughes, wat as ’n assistent gewerk het en klaarblyklik nie as ’n gekwalifiseerde kleuterskooljuffrou nie, ook weens al die trauma gereeld haarself beseer het.
Die laaste stryd om grasie wat Amber Lee Hughes, voormalige kleuterskooljuffrou, kan voer nadat sy haar destydse lewensmaat se dogtertjie verdrink het, is vir ’n vonnis ligter as lewenslange tronkstraf.
Byna twee maande nadat sy in die hooggeregshof in Johannesburg deur regter Richard Mkhabela daaraan skuldig bevind is dat sy die vierjarige Nada-Jane Challita met voorbedagte rade vermoor het, sowel as dat sy die meisietjie vaginaal met ’n voorwerp verkrag het, sal die verdediging, sowel as die staat, met voorvonnisverrigtinge begin.
Twee dae lank sal albei partye waarskynlik getuienis aanbied en betoog: die staat oor hoekom die hof nié kan afwyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange tronkstraf nie, en die verdediging wat veg om te bewys dat daar wel dwingende en wesenlike omstandighede bestaan wat ’n ligter vonnis regverdig.
Haar geestesgesondheid sal moontlik onder die loep geneem word, sowel as die stormagtige verhouding wat sy met Nada-Jane se pa, Elie Challita, gehad het.
Die hof het vroeër gehoor dat Hughes en Challita op 23 Januarie 2023 byna die hele dag oor die foon – per WhatsApp en in hordes oproepe – baklei het.
Challita was daardie dag in Polokwane, waar hy eiendomsagente ontmoet het op soek na blyplek nadat hy ’n belowende werkaanbod in dié stad gekry het.
Die krulkopmeisietjie het by Hughes gebly – die einste vrou wat in 2021 haar kleuterskooljuffrou was.
Hughes het, gedryf deur jaloesie en woede, sedert vroegoggend sarsies boodskappe aan Challita gestuur en hom aanhoudend gebel.
Luidens dié boodskappe, wat by die hof ingedien is as bewysstukke, het hy haar probeer paai, belowe hy is lief vir haar, en later dat hulle sal praat sodra hy terug is.
Toe volg dié dreigement van Hughes: “Jy het my hart gebreek. Ek gaan joune brand.”
Challita het ’n rits paniekbevange boodskappe gestuur waarin hy sê hy jaag nóú terug Pretoria toe, gevra of Hughes “oukei” is en later dat sy asseblief nie iets aan sy kind moet doen nie.
Toe hy geen antwoord ontvang nie, het hy ’n vriend gebel om na sy huis toe te gaan.
Marwan Fallah het die hek na Challita se perseel oopgebreek omdat niemand in die huis gereageer het nie.
Hy het die lewelose Nada-Jane in die bad water gevind waar sy met haar gesig na onder gedryf het.
Hughes, wat haar pols(e) gesny het, is later daardie aand in hegtenis geneem.
Sy het eers skuld ontken en aangevoer dat die kind, wat sy glo “soos my eie” liefgehad het, per abuis verdrink het.
Uiteindelik het sy erken dat sy Nada-Jane verdrink het deur bo-op die klein lyfie te sit en die meisietjie se kop onder die water te hou.
Sy het egter steeds ontken dat dié optrede vooraf beplan was, of dat sy vir Nada-Jane verkrag het.
In Augustus het die hof anders bevind.
Hughes is sedert haar inhegtenisneming in aanhouding.


















