Die laaste stryd om grasie wat Amber Lee Hughes, voormalige kleuterskooljuffrou, kan stry nadat sy haar destydse lewensmaat se dogtertjie verdrink het, is vir ’n vonnis ligter as lewenslange tronkstraf.
Byna twee maande nadat sy in die hooggeregshof in Johannesburg deur regter Richard Mkhabela daaraan skuldig bevind is dat sy die vierjarige Nada-Jane Challita met voorbedagte rade vermoor het, sowel as dat sy die meisietjie vaginaal met ’n voorwerp verkrag het, sal die verdediging, sowel as die staat, met voorvonnis-verrigtinge begin.
Vir twee dae sal albei partye waarskynlik getuies aanbied en betoog: die staat oor hoekom die hof nié kan afwyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange tronkstraf nie, en die verdediging wat veg om te bewys dat daar wel dwingende en wesenlike omstandighede bestaan wat ’n ligter tronkstrafvonnis regverdig.
Haar geestesgesondheid sal moontlik onder die loep geneem word, sowel as die stormagtige verhouding wat sy met Nada-Jane se pa, Elie Challita, gehad het.
Die hof het vroeër gehoor dat Hughes en Challita op 23 Januarie 2023 byna die hele dag oor die foon – per WhatsApp en in hordes oproepe – baklei het.
Challita was daardie dag in Polokwane, waar hy eiendomsagente ontmoet het op soek na blyplek nadat hy ’n belowende werksaanbod in dié stad gekry het.
Die krulkopmeisietjie het by Hughes gebly – die einste vrou wat in 2021 haar kleuterskooljuffrou was.
Hughes het, gedryf deur jaloesie en woede, sedert vroeg die oggend sarsies boodskappe na Challita gestuur en hom aanhoudend gebel.
Luidens dié boodskappe, wat by die hof ingedien is as bewysstukke, het hy haar probeer paai, belowe hy is lief vir haar, en later dat hulle sal praat sodra hy terug is.
Toe volg dié dreigement van Hughes: “Jy het my hart gebreek. Ek gaan joune brand.”
Challita het ’n rits paniekbevange boodskappe gestuur waarin hy sê hy jaag nóú terug Pretoria toe, gevra of Hughes “oukei” is en later dat sy asseblief nie iets aan sy kind moet doen nie.
Toe hy geen antwoord ontvang nie, het hy ’n vriend gebel om na sy huis toe te gaan.
Marwan Fallah het die hek na Challita se perseel oopgebreek omdat niemand in die huis gereageer het nie.
Hy het die lewelose Nada-Jane in die bad water gevind waar sy met haar gesig na onder dryf.
Hughes, wat haar pols(e) gesny het, is later daardie aand in hegtenis geneem.
Sy het eers skuld ontken en aangevoer dat die kind, wat sy glo “soos my eie” liefgehad het, per abuis verdrink het.
Uiteindelik het sy erken dat sy Nada-Jane verdrink het deur bo-op die klein lyfie te sit en die meisietjie se kop onder die water te hou.
Sy het egter steeds ontken dat dié optrede vooraf beplan was, of dat sy vir Nada-Jane verkrag het.
In Augustus het die hof anders bevind.
Hughes is sedert haar inhegtenisneming in aanhouding.


















