Hof

Parool vir Abraham Kriel-sekspes? Ja, dalk, maar...

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
2025 September 16  Die voormalige werker by die Abraham Kriel kinderhuis, Fanie Pieterse is tot 7 jaar tronkstraf gevonnis in die Landdroshof in Modimolle. Hy is skuldig bevind aan seksuele gereedmaking en seksuele uitbuiting van 'n kind. Foto Deaan Vivier
2025 September 16 Die voormalige werker by die Abraham Kriel kinderhuis, Fanie Pieterse is tot 7 jaar tronkstraf gevonnis in die Landdroshof in Modimolle. Hy is skuldig bevind aan seksuele gereedmaking en seksuele uitbuiting van 'n kind. Foto Deaan Vivier

Nog net 1 277 slapies vir die Abraham Kriel-sekspes totdat hy vir parool in aanmerking kan kom.

Fanie Pieterse (60) is Dinsdag in die streekhof in Modimolle, Limpopo, gevonnis. Hy is sewe jaar tronkstraf opgelê weens die seksuele gereedmaking van ’n kind en vyf jaar weens die seksuele uitbuiting van ’n kind.

Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word, wat beteken sy vonnis is effektief sewe jaar tronkstraf. Daarbenewens word sy naam in die nasionale register van seksoortreders aangeteken.

Pieterse sal minstens drie en ’n half jaar in die tronk moet deurbring om vir parool in aanmerking te kom, sê dr. Llewelyn Curlewis, strafregkenner verbonde aan die Universiteit van Pretoria.

Wetgewing vereis dat skuldiges die helfte van hul vonnis moet uitdien voordat daar sprake van parool kan wees.

Landdros Peter Manthata het in die vonnisoplegging in ag geneem dat Pieterse die afgelope agt maande in aanhouding was.

“Dit word nie afgetrek van sy sewe jaar (tronkstraf) nie, siende dit reeds in ag geneem is,” sê Curlewis.

Manthata het ook afgewyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar omrede Pieterse ’n eerste oortreder in die ouderdom van 60 is, skuld beken en nie die hof se tyd gemors het nie, opreg berou getoon het, daar vooruitsigte vir rehabilitasie is en sy gesondheidstoestand versleg.

Dit is niks vreemds nie, wys Curlewis uit. “Die hof is nie daar om die samelewing te sus nie, die hof moet ook genade betoon.”

Hy verduidelik dat die hof ’n balans moet vind tussen wat in die beste belang vir die samelewing en die beskuldigde sal wees. Daarom dink hy nie die vonnis is “skokkend onvanpas” nie.

“Hy het eintlik 12 jaar gekry, maar die hof het gelas dat dit gelyklopend uitgedien word.”

Hoekom gelyklopend?

Talle lesers het in die kommentaarafdeling onderaan Netwerk24 se blitsberig Dinsdag opgemerk dat heelwat vonnisse in verskeie sake gelyklopend uitgedien word. “Dit is doodnormaal om ’n vonnis só uit te dien. Hier was een modus operandi; nie ’n slagoffer hier en ’n slagoffer daar in die buurdorp nie,” verduidelik Curlewis.

“Die hof moet realisties wees. Ons sit in ’n samelewing met oorvol tronke.

“Dit help ook nie altyd om die een ná die ander kort vonnis uit te dien wat naderhand (altesaam) jare word, terwyl ’n moordenaar dalk dieselfde of minder kry nie. Die aard van die misdaad moet objektief gehanteer word.”

Gerda van der Merwe, hoof van die Abraham Kriel-kinderhuis, is verlig dat die selferkende sekspes eindelik gevonnis is.
Gerda van der Merwe, hoof van die Abraham Kriel-kinderhuis, is verlig dat die selferkende sekspes eindelik gevonnis is. (Foto: Deaan Vivier)

Wat gebeur nou?

Pieterse sal aan allerhande programme in die gevangenis onderwerp word. “Vaardighede word ontwikkel. Gevangenes moet lewensvaardighede leer sodat as hy uitkom, hy iets vir die samelewing kan beteken,” sê Curlewis.

Bowenal word sy gedrag fyn dopgehou. “Indien hy ’n A-model-gevangene is, kan hy vir oorweging by die paroolraad aanbeveel word.”

Maar dit gebeur nie sommer tjoef-tjaf nie. “Hy kan nie net sê hy wil nou parool hê nie. Hy kan aan die owerhede sê ‘ek dink ek is geskik’, maar hulle moet besluit om paroolraad toe te gaan.”

Daarna sal hy voor die paroolraad moet verskyn. Sy slagoffer kan dit teenstaan en selfs geroep word om te getuig.

Indien die owerhede hom nie ná drie en ’n half jaar by die paroolraad aanbeveel nie, kan hy die hof nader om oorweging af te dwing. Dit is egter nie ’n gegewe dat sy aansoek sal slaag nie.

‘Gaan verstand te bowe’

“Ek is werklik verstom. Ek het gedink hy gaan meer (tronkstraf) kry,” het Gerda van der Merwe, hoof van die Abraham Kriel-kinderhuis, gesê nadat die hof verdaag het. “Ons almal het.”

Hoewel die vonnis na haar mening te lig is, is sy nietemin dankbaar dat Pieterse agter tralies bly. “Maar hy het ooglopend oud geword in die agt maande.”

Sy het egter geen simpatie met die selferkende sekspes nie en hoop sy gewete ry hom. “Ek kan sien hy kry swaar.”

Van der Merwe verstaan nie hoe mense “só deur seks gedryf word dat hulle sulke goed aanvang nie”, veral by ’n kinderhuis. “Die vonnis moes soveel swaarder gewees het.”

Sy gee toe dat Pieterse reeds baie moes prysgee, maar dit regverdig hoegenaamd nie sy misdade nie. “Sy vrou wil niks met hom te doen hê nie. Hulle was lank getroud.

“Ek kan nie verstaan dat ’n man met ’n oulike vrou, oulike kinders, sulke goed doen nie. Dit gaan my verstand te bowe.

“Hy het sy magsposisie misbruik.”

Hoe dit ook al sy, die tienermeisie kan nou die hoofstuk afsluit en weer aan haar toekoms werk, sê Van der Merwe. “Dit het erge letsels gelaat, maar die vonnis bring ’n mate van afsluiting.”

Sy benadruk opnuut dat die slagoffer nie die pad na genesing alleen loop nie.

– quinton.lourens@media24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM