Hof

Slag vir voorman wat geld by Bfn-makelaar ‘belê’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die R90 000 wat 'n voormalige bouvoorman van Bloemfontein verloor het nadat hy dit blykbaar sonder sy medewete aan een van die maatskappye van 'n voormalige finansiële makelaar van die stad "geleen" het, was vir hom 'n groot slag.

So het Francois Hattingh (75) Donderdag in die verhoor van Jaco Cloete, die beskuldigde makelaar, in die Bloemfonteinse streekhof getuig.

Cloete staan voor streeklanddros Collin Nekosie tereg op 880 aanklagte wat altesame meer as R39 miljoen beloop. Hy ontken skuld op al die aanklagte teen hom.

Luidens die klagstaat teen Cloete, wat deesdae in Melkbosstrand woon, staan hy tereg op 148 aanklagte van bedrog weens beweerde beleggings met beloofde hoë opbrengste wat hy glo tussen 2005 en 2009 van mense aanvaar het. Die meeste van die beleggers het blykbaar van of al hul geld verloor.

Jaco Cloete Donderdag in die landdroshof in Bloemfontein. Foto: Liza-May Pieters
Jaco Cloete Donderdag in die landdroshof in Bloemfontein. Foto: Liza-May Pieters

Hy word ook van geldwassery, oortredings van die Bankwet, oortredings van die Wet op Beleggingskemas en artikels in die Wet op Finansiële Instellings oor die beskerming van trustgeld aangekla.

Hattingh het getuig dat Werner Kotzé, 'n makelaar vir Cloete, in Mei 2007 aan hom gesê het dat hy die R90 000 voorlopig by Metropolitan sou belê en dit later na Discovery toe sou skuif.

Hy het verder getuig dat Kotzé, met wie se pa hy jare lank bevriend is, aan hom gesê het sy belegging sou R1 350 per maand verdien.

Volgens Hattingh se getuienis het dié R1 350 vir twee maande gerealiseer en is dit volgens 'n ooreenkoms herbelê. Hy het egter in 2009 dringend geld benodig en het sowat R27 566 onttrek.

Toe hy in dieselfde jaar die res van die geld wou onttrek, het Kotzé glo nie sy telefoonoproepe beantwoord en was hy glo ook nie meer op kantoor beskikbaar nie.

Tot vandag toe het hy nie die res van sy geld ontvang nie, het Hattingh getuig.

Op 'n vraag van adv. Vic de Bruyn, aanklaer, of hy sake met die beskuldigde (Cloete) gedoen het, het Hattingh geantwoord: "Ek het hom voorheen ontmoet, maar ek het nie 'n benul gehad dat hy en Kotzé (by mekaar) betrokke was nie."

Op die vraag van De Bruyn of Hattingh die geld aan Odyssey Wealth Management, een van Cloete se maatskappye, sou geleen het, en of hy dit daar belê het, het Hatting gesê dat Kotzé die geld daar sou belê.

"Daar was nooit sprake van lenings nie. Ek het nooit gesê ek leen die geld aan hulle nie."

Hattingh het onder kruisverhoor op 'n vraag van adv. Christo van Schalkwyk SC, Cloete se regsverteenwoordiger, oor met wie hy sake gedoen het, benadruk dat hy alles deur middel van Kotzé gedoen het.

"Ek het nooit sake met die beskuldigde gedoen nie."

Hattingh het verder getuig dat hy Kotzé ten volle met sy geld vertrou het. Daarbenewens het Kotzé nooit gesê hy is 'n agent van 'n sekere maatskappy of dat hy in diens van iemand anders is nie.

Die verhoor duur voort.

Van Schalkwyk tree in opdrag van Johan Kramer van Kramer Weihmann-prokureurs namens Cloete op.

- kaydene.jordaan@media24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM